Vissermanne terugverwelkom

'n Geskatte 1 100 vissermanne sal kan terugkeer na die bedryf, terwyl 180 reeds weer in diens geneem is.
Leandrea Louw
Leandrea Louw op Walvisbaai



Die minister van arbeid, nywer­heidsbetrekkinge en werk­skepping, mnr. Utoni Nujoma, beoog om 1 100 vissermanne wat hul werk tydens 'n onwettige staking in 2015 verloor het, asook nieformele werkers wat oor die jare afgelê is, voor 1 November weer in die ­vissers­bedryf in diens te neem, wanneer die stokvis­seisoen begin.

Nujoma het Vrydag gesê die ­betrokke partye hoop om die proses so gou as moontlik af te handel ná uitgebreide onderhandelinge met vakbonde en vissersmaatskappye om die proses te vergemaklik.

Die minister het gesê ses vissersmaatskappye het ingestem om die vissermanne in diens te neem.

“Die regering het ook 1 300 ton stokvis vir dié proses beskikbaar gestel. Ons het 'n drieledige vergadering met vakbonde, werkersverteenwoordigers en ondernemings gehad en ek glo ons het 'n belangrike mylpaal behaal om die werkers in die sektor op te neem.”

Mnr. Daniel Imbili, president van die Namibiese visbedryf- en vissermanvakbond (NFI & FWU), het bevestig die Cavema-maatskappygroep, Seaworks Fish Processors, Merlus Seafood en Hangana Seafood het almal ingestem om die 1 100 vissermanne in diens te neem.

“Tunacor Fishing het reeds 180 vissermanne aangestel wat tevore deur Namsov afgelê is. Sommige werkers het reeds dienskontrakte met Cavema Fishing onderteken. Die maatskappye het ook ingestem om hul salarisse te betaal terwyl hulle wag vir die vissersbote om uit te vaar.”

Imbili het gesê as die vissermanne hul samewerking gee, kan die proses spoedig voltooi word.

“Al die vakbonde – wat ons, die Namibiese Unie vir See- en Verwante Werkers (Nasawu) en die ­Namibiese Vakbond vir Voedsel- en ­Verwante Werkers (Nafau) insluit – stem saam dat dié proses so gou as moontlik ­afgehandel moet word.”

Die arbeidsminister het verduidelik dat die administratiewe proses vir afgetrede vissers uitdagend was omdat mense die name van regte vissers vervang het met dié van hul vriende en familielede. “Dit het die vordering vertraag vir dié wat gretig is om weer te begin werk en 'n inkomste te verdien. Die Covid-19-pandemie het ook die proses vertraag.”

Die heraanstellingsproses is in drie kategorieë verdeel: Die Namsov-­werkers wat afgelê is, die 1 000 visser­manne wat hul werke kwyt is nadat hulle aan 'n onwettige staking in 2015 deelgeneem het, en nieformele werkers wat op verskeie vissers­bote gewerk het.

Namsov moes noodgedwonge hul werkers aflê nadat die destydse minis­ter van visserye, mnr. Bernard Esau, hul kwota gesny het. Gevolglik moes die maatskappy hul deure sluit.

Tydens 'n toespraak in ­Desember 2019 het die huidige minister, dr. Albert Kawana, belowe dié werkers sal weer so gou as moontlik in diens geneem word.

Kawana het gesê hy is deur die kabinet opdrag gegee om seker te maak dat almal wat hul werk verloor het spoedig weer in diens tree.

“Die (meer as 1 000) ­vissermanne wat afgedank en afgelê is, moes genoeg lyding deurmaak. Alle ­Namibiërs moet kan voordeel trek uit die natuurlike hulpbronne van dié land. Volgens artikel 100 van die ­Namibiese Grondwet behoort die natuurlike hulpbronne van Namibië aan die staat en moet dit bo alles die mense bevoordeel.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!