Vissers se weduwees verkies komitee
Vissers se weduwees verkies komitee

Vissers se weduwees verkies komitee

Weduwees van vissermanne sal voortaan verteenwoordiging op die direksie van Ehika Fishing hê.
Otis Finck
Otis Finck op Walvisbaai - Lede van die Trust vir Weduwees van Vissermanne (FWT) het Saterdag ‘n tussentydse komitee bestaande uit vyf lede verkies. Die komitee is in opdrag van die minister van visserye en mariene bronne, mnr. Bernard Esau, tot stand gebring.

Me. Milly Isaacs is die voorsitter met me. Leoni Warne as tesourier en me. Geraldine Moses as sekretaresse. Me. Delicia Ahrens en me. Vanessa Nash dien as bykomende lede op die komitee.

Isaacs het namens die FWT waardering teenoor die minister vir sy tussenbeidetrede en riglyne uitgespreek. Sy het ook erkenning gegee aan die bydraes wat mnr. Rojo van Wyk en die oorlede mnr. Clive Johannes as stigterslede van FWT gelewer het.

“Ons is dankbaar en bedank vir minister uit die diepte van ons harte omdat hy gehoor aan ons versoeke gegee het en opgetree het om omstrede kwessies wat deur ons geopper is, die hoof te bied. Ons weet dit sal nie maklik wees nie maar ons wil vorentoe beweeg en sal die minister op hoogte hou van verwikkelinge en besluite wat geneem word.

“Indien dinge reg gedoen is, sou daar nie die vyandigheid gewees het nie. Verstaan asseblief dat dinge nie oornag sal gebeur nie," het sy gesê.

Die minister het Ehika se hoofbestuurder, Rojo van Wyk, 21 dae gegun om op te tree en sake reg te stel.

Esau het Van Wyk opdrag gegee om die weduwees se trust te fasiliteer en toe te sien dat dit ten volle operasioneel is. Die weduwees moes ook self die ampsdraers verkies omdat die FWT oor ‘n gebrek aan deursigtigheid en beraadslaging gekla het.

Die minister het ook opdrag gegee dat ‘n bankrekening geopen word wat alleenlik deur die weduwees behartig sal word en het versoek dat geouditeerde finansiële- en bankstate ingedien word om te wys hoe die dividende van Ehika Fishing sedert 2012 gedeel is.

“Indien FWT nie die korrekte proporsionele dividende ontvang het nie, moet enige balans onmiddellik in die bankrekening van die trust gedeponeer word,” het Esau in ‘n brief gedateer 23 Februarie aan Van Wyk geskryf. Hy wil ook ‘n geskrewe verduideliking hê.

Isaacs sê die tussentydse komitee sal werk om ‘n algemene jaarvergadering aan te bied waar alle lede van die FWT teenwoordig moet wees. Hulle sal dan vir ‘n uitvoerende komitee stem wat die belange van die weduwees op Ehika op direksievlak sal verteenwoordig.

“Ons sal verkies om kandidate te hê wat uit ‘n gemeenskapsleier, ‘n regsgeleerde en iemand met kennis van die bedryf bestaan. Ons het reeds ‘n aantal kandidate geïdentifiseer wat hul bereidwilligheid getoon het om op die direksie te dien. Wanneer hulle verkies is, moet hulle ons op hoogte hou en van raad bedien,” het sy gesê.

Die tussentydse komitee sal ook inligtingsessies fasiliteer om FWT-lede oor die regte en die nodige dokumentasie te leer.

Altesaam 42 weduwees van vissermanne het die verkiesing bygewoon wat onder die wakende oog van die onderburgemeester, me. Penelope Martin, die skoolhoof van Narraville Primêre Skool, mnr. Paul Fisher en lede van die polisie gehou.

Martin sê sy het begrip vir die lot van die weduwees is voel geëer om die verkiesingsproses waar te neem.

“My pa was ‘n visserman. Ons moeders moes ook die rol van die vaders speel, omdat die pa’s lank van die huis af weg was,” het sy gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer