Visserye: Buurlande vat hande
Visserye: Buurlande vat hande

Visserye: Buurlande vat hande

Tanja Bause
Tanja Bause - Namibië en Suid-Afrika deel dieselfde oseaan – derhalwe is ’n samewerkingsooreenkoms op die gebied van vissery en akwakultuur onlangs tussen dié twee lande onderteken.

Die minister van visserye en mariene hulpbronne, mnr. Bernhard Esau, en Suid-Afrika se minister van die departement van landbou, bosbou en visserye, mnr. Senzeni Zokwana, het onlangs ’n samewerkingsooreenkoms op dié gebiede onderteken.

Volgens Esau sal dié twee lande op nege gebiede saamwerk, naamlik (1) visserye en akwakultuur, (2) navorsing, monitering en beheer, (3) bewaking, kapasiteitsbou en ontwikkeling, (4) data en inligting, (5) samewerking oor beleid, (6) samewerking oor die ekonomiese ontwikkeling van visserye, (7) samewerking oor waardetoevoeging, (8) samewerking oor vissery-aspekte in die Blou Ekonomie en (9) die bevordering van die ontwikkeling van gemeenskaplike posisies.

“Namibië en Suid-Afrika se visserye is natuurlike vennote. Ons deel dieselfde oseaan en het soortgelyke visspesies. Vis is een van die belangrikste kommoditeite tussen Namibië en Suid-Afrika. Verskeie van ons visvangmaatskappye is in beide lande geïntegreer.

“Dit is dus in ons gemeenskaplike belang om saam te werk op gebiede soos moniteringsbeheer- en toesigaktiwiteite, aandele-evaluasies vir volhoubare vissery en idees oor hoe ons ons visvangbydrae tot die sosioëkonomiese ontwikkeling van ons twee lande kan vergroot,” het Esau gesê.

Hy het versoek dat die samewerkingsooreenkoms so vinnig moontlik geïmplementeer word.

“Mense daar buite slaap nie. Hulle is besig om ons vis onwettig in ons waters te vang, en ons moet hulle vasvat. Ons moet ophou praat en optree,” het Esau gesê.

Volgens Zokwana werk die twee land al ’n geruime tyd saam en is hulle nie net buurlande nie, maar deel hulle ook die Benguela-stroom.

“Hierdie samewerkingsooreenkoms moet van so ’n aard wees dat die res van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) van ons twee lande kan leer,” het Zokwana gesê.

Hy het by gevoeg sterker gesamentlike patrollies is ook deel van die ooreenkoms.

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer