Viva die leiers!
BEKOMMERDE LANDSBURGER SKRYF:
As jy ’n skoon rekord het in Afrika en jy lewe voorbeeldig en binne die normatief aanvaarbare reëls en regulasies van menswees, binne die wette van die land, sal jy nêrens kom nie.
Sien Maandag in die koerant Swapo het die afgelope naweek drie korruptes wat redelik onlangs die voorblaaie gehaal het, oor die verkeerde redes, tot hul partylys verkies. Maggies, ’n mens moet mos darem die ouens erkenning gee vir hulle voorbeeld van waagmoed.
Sulke gedrag is blykbaar ’n navolgenswaardige voorbeeld vir ons mense en ons opkomende jeug en die individue moet erkenning kry vir hul moeite. Dit is die kwaliteite wat ons soek vir ons volgende span leiers.
Julle ander ouens sal bietjie meer waagmoed aan die dag moet lê. Moet nie jul diefstal en korrupsie probeer wegsteek nie, manne. Steel soveel jy kan en doen dit openlik en spog daaroor anders gaan jy nie raakgesien word nie.
Dit is in ons land mos ’n statussimbool om op "paid suspension" gesit te word of skuldig bevind te word aan korrupsie. Dit is die finale mylpaal wat jy moet bereik voor jy ’n minister of ’n ambassadeur of ’n senior Swapo-pos aangebied word. Jy moet jouself bewys en jou beloning vir jou besteling van die nasie sal kort daarna volg.
Die stil eerlikes val van die lys af? Julle moet begin woeker met jul talente, julle is te eerlik.
En so volg ons maar net in die voetspore van Suid-Afrika en Zimbabwe.
Suid-Afrika is tans in oproer oor korrupsie, geweld teen vreemdelinge en teen vrouens en kinders. Maar daar was eens ’n man wat ’n jong meisie verkrag het, toe gaan stort het, en toe president geword het. Dieselfde ou het van skandaal na skandaal rondgeskuiwe tot groot applous van sy kiesers en hy word termyn na termyn weer verkies om nog groter skade aan te rig en die buurland tot op sy knieë te bestuur.
Genadiglik is hy eers op die agterste brander gesit, maar hy beveg die klagtes teen hom. Hy glo hy was reg. Hy wil nog ’n kans hê. Hy het te min skade aangerig. En daar is manne wat hom ondersteun!
So word die Estina manne ook sterker en sterker hoe meer van hul skandes op die lappe kom en so ook die Eskom, SAL, SABC en al daai ouens wat nie die poste gehaal het oor hulle die kundigheid oor besigheid gehad het nie, maar wel die kundigheid oor steel en bedrog en wanbestuur en al daai kwaliteite wat jy nodig het as jy in lyn wil kom om eendag president te word.
So vat Oom Bob ’n land oor wat bekendgestaan het as die kosmandjie van Afrika en hy president hom dat daar van hom niks oor is nie. Laat maak sy eie mense dood wat vrae vra en besteel die fiskus. Jaag produktiewe boere weg en laat die eens vooruitstrewende Zimbabwe verval tot dit vandag ’n wanhopige warboel en ’n stryd om oorlewing is.
Hy het goed weggetrek en toe verloor hy dit. En sy mense dink dis great! So moet ’n man regeer en bestuur.
Jy vat nie moeilikheid van niks en niemand nie en jy eien jouself alles toe. Jou mense leef in vrees en armoede en slaan in die stof neer as jy naby kom en hulle stem onder die loop van ’n geweer vir jou weer en weer. Hulle streef daarna om eendag soos jy te wees en net soos jy te kan doen en leef.
’n Kultuur van geweld en korrupsie word gevestig en met elke insident weer versterk vir almal om as voorbeeld te gebruik en uit te voer in hul daaglikse lewe. Kan jy die volgelinge blameer as hulle die voorbeeld van hul helde volg? Kan jy die jonger geslag kruisig oor geweld, oproer, diefstal, korrupsie en verkragting? Hulle doen dan net hul rolmodelle en leiers na?
Jy kan sien die volgelinge is stomgeslaan as die polisie hulle verniel, want volgens hulle doen hulle niks verkeerd nie en hulle verwag dat die polisie op hul plek gesit moet word. Steel is reg, afbrand van geboue is reg, moord en doodslag, verkragting en alles aakligs is reg, want van ons leiers het dit gedoen en sommige doen dit steeds, of praat dit goed soos die ou met die rooi beret gereeld doen.
As jy as ’n leier gesien wil word, moet jy alles wat verkeerd is met oorgawe doen om raakgesien te word anders raak jy net deel van die gepeupel.
En wat doen die leiers van die res van Afrika? Besing die deugde van Oom Bob en die Shower Man en maak hulle uit as helde!
Mooi so, manne. As hulle dan sulke heldebesinging kry van die res van ons leiers en die stemmers, dan is korrupsie, uitmoor van die wat nie saamstem nie, diefstal en korrupsie, geweld teen vroue en kinders en al daai satansgoed wat tans hoogty vier mos net die maai van dit wat gesaai is. Of is ek dalk verkeerd?
Afrika sal eers sy voete vind as ons die dag die regte leiers verkies. Mense met imbors, trots, nederighied en visie. Toegestikte sakke en kort vingers. Corollas as ampsmotors en ampshuise tussen die kiesers. Geen sekuriteit nie en velskoene. Mense soos ons, nie pierewaaiers wat in hul ampstermyn soveel moontlik probeer bymekaarmaak nie.
Hoekom moet leiers in elk geval opgepas word en met polisiebegeleiding die huis verlaat? Want hulle is bang? Hulle voel skuldig? Hulle vrees hul landgenote, want hulle besteel hulle landgenote.
Aluta Continua Afrika.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie