Vleisbees se voeromset moet verbeter

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Ná sewe jaar van aggressiewe seleksie deur die GrowSafe-stelsel vir doeltreffende voeromsetters, kan ’n beesboer van South Dakota nou daagliks twee ton voer minder gee en bespaar hy hiermee jaarliks sowat US$100 000 (N$1,43 miljoen).
Terselfdertyd produseer die beeste dieselfde hoeveelheid vleis as voorheen. Sy bulle is nou 15% meer doeltreffende voeromsetters en die gemiddelde verhouding tussen hul voerinname en gewigstoename is 4,3:1.
Me. Alison Sunstrum, die uitvoerende hoof van GrowSafe in Kanada, het tydens die amptelike opening van die GenTecSol netto voerinname toetsstasie op 14 Julie gepraat oor die GrowSafe-stelsel wat op die plaas gebruik word.
Die private toetsstasie is op die plaas Okawatuta naby Hochveld geleë en is die eerste ten volle geoutomatiseerde toets­stasie in Afrika wat opnames maak van voerdoeltreffendheid onder beeste.
Sunstrum het gepraat oor die sukses van die GrowSafe-program en onder meer verwys na mnr. Steve Munger van die Eagle Pass-beesboerdery in South Dakota, wat reeds vanaf 2007 van die GrowSafe-stelsel gebruik maak.
“Munger is een van die toptwintig koei-kalf-­produsente in Amerika. Hy het al sy bulle vir voerdoeltreffendheid getoets en in 2009 ook sy koeikudde getoets, nadat hy gevoel het hy maak nie genoeg vordering met sy boerdery nie.
“Sy bulle se voerdoeltreffendheid staan nou op 15%, terwyl ons gedink het dis slegs moontlik om 12% te behaal,” het sy gesê.
Nog ’n GrowSafe-kliënt op die Ridgefield-plase in Noord Carolina lewer vleis aan die Brasstown Beed-program van beeste wat op gras wei.
“Hy is nie geïnteresseerd in voerkrale nie en verkoop sy vleis as ’n omgewingsvriendelike produk aan groothandelaars en restaurante. Hy verkoop bulle wat vir hul voerdoeltreffendheid gemeet is.”

Min vordering met voerdoeltreffendheid
Sunstrum het beeste vergelyk met hoenders en varke, wat die swakste voeromsetverhouding het.
“Hoenders se voeromsetverhouding is sedert 1957 met 250% verbeter en staan nou op 2:1, deur van die beginsel van residuele voerinname gebruik te maak. Varke se omset is 3,2:1 terwyl beeste op 6:1 staan,” sê Sunstrum.
“In die vleisbeesbedryf het ons goeie vordering met groei gemaak, maar die verbetering van voeromset is oor die afgelope 30 jaar agterweë gelaat. Die beesbedryf se verbetering in dié opsig was onbeduidend,” het sy gesê.
Sunstrum sê daar kan geneties vir voerdoeltreffendheid onder beeste geselekteer word deur die beginsel van residuele voerinname of net voer­inname te gebruik.
“Residuele voerinname verwys na die verskil tussen ’n bees se werklike voerinname versus wat ons, volgens navorsing, verwag hy sal vreet om sy liggaam te onderhou en te groei.
“Die geen wat vir voerdoeltreffendheid verantwoordelik is, is 35% tot 40% oorerflik en sal lei tot ’n nageslag wat minder vreet, maar dieselfde vlakke van produksie kan volhou. Teling vir dié geen kan voerinname met sowat 12% verminder, die produksie van metaangasse met tot 30% verminder en mis ook met 20% verminder,” het Sunstrum gesê.
“Landbou se groot uitdaging vir 2050 is om voedselproduksie te verdubbel – op dieselfde hoeveelheid grond of selfs minder – sodat 10 miljard mense gevoer kan word en van brandstof voorsien kan word.
“Die taak moet met minder arbeid geskied, terwyl boere terselfdertyd meer doeltreffende en volhoubare metodes moet aanwend en by klimaatverandering sal moet aanpas.”
Sunstrum sê GrowSafe pas wetenskap en tegnologie toe om diere se welstand en boerderye se winsgewendheid te verbeter.
* In Die Boer wat môre verskyn, word breedvoerig oor dié nuwe toets­stasie berig.

Kommentaar

Republikein 2024-11-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 33° Rundu: 23° | 39° Eenhana: 24° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 21° | 36° Tsumeb: 25° | 37° Otjiwarongo: 19° | 34° Omaruru: 17° | 34° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 19° | 32° Henties Bay: 14° | 18° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 17° | 30° Mariental: 13° | 29° Keetmanshoop: 9° | 28° Aranos: 16° | 30° Lüderitz: 13° | 28° Ariamsvlei: 10° | 27° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 37° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 16° | 35° Maseru: 13° | 26° Antananarivo: 16° | 29° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 21° | 41° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 15° | 19° Durban: 16° | 22° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 19° | 29° Harare: 17° | 25° #REF! #REF!