Vleisuitvoere na Noorweë deur pandemie vertraag
Al is landboubedrywighede as noodsaaklike dienste geklassifiseer, voel dié sektor ook die impak van Covid-19.
Ronelle Rademeyer
Skeepslogistiek wat lamgelê is en die verlaagde vraag na vleis in Suid-Afrika bring mee dat speenkalfuitvoere na die buurland sowel as dié van prima-beesvleissnitte na uitsoekmarkte soos Noorweë, deur die coronavirus-pandemie geknou word.
Waar dit voorheen 28 dae geneem het om beesvleis uit Namibië na Noorweë te verskeep, duur dit nou 52 dae.
“Namibië is vanweë die inperkingsmaatreëls nie in staat om sy uitvoerooreenkomste met China, Noorweë en Europa betyds na te kom nie,” het mnr. Percy Misika, uitvoerende direkteur van landbou, water en grondhervorming, gisteroggend tydens die Covid-19-inligtingsessie in Windhoek gesê.
Hy het saam met mnr. Roelie Venter, uitvoerende bestuurder van die Namibië Landbou-unie (NLU), en me. Beata Xulu, waarnemende uitvoerende direkteur van die Namibië Nasionale Boere-unie (NNFU), aan 'n bespreking oor die impak van die pandemie op die landbousektor deelgeneem.
Volgens Misika is die skade wat die langdurige droogte aan hierdie sektor aangerig het, veel erger en meer omvangryk as dié van die pandemie en die gevolglike inperkingsmaatreëls.
Maar, sê hy, beide die subsektore van lewende hawe en akkerbou voel die impak. Daarmee saam is kommunale boere ook meer as kommersiële boere uitgelewer.
Volgens Misika het die bewegingsinperking 'n invloed op veilings, al mag dit plaasvind.
Hy sê daar was 'n afname in speenkalfverkope, en uitvoere op die hoef het ook afgeneem.
Die feit dat Suid-Afrika se ekonomie tot stilstand gekom het en restaurante en die gasvryheidsbedryf nie in bedryf is nie, het die vraag na vleis laat daal. Dit beteken voerkrale in die buurland het nie 'n afset vir Namibiese speenkalwers soos voor Covid-19 nie, sê Misika.
Xulu het daarop gewys dat veilingspryse tot soveel as N$9 per kilogram geval het. Sy sê die afgelope jare se droogtes het meegebring dat baie kommunale boere na speenkalfproduksiestelsels oorgeskakel het en die dalende pryse plaas hulle onder druk.
Misika sê wat graanproduksie betref, het die inperking 'n impak op die beskikbaarheid van arbeid. Kommunale boere wat mense gebruik om voëls uit die lande te hou of veekuddes op te pas, moet sonder daardie handlangers klaarkom.
Hy sê 'n opname tydens die droogte het gewys 744 000 mense beleef voedselnood.
“Covid-19 help nie om die situasie te verbeter nie,” het hy gesê.
Mnr. Ephraim Nekongo, 'n akkerbouer van die Noorde, het in 'n Skype-onderhoud aan die paneel gesê kommunale boere sukkel met toegang tot markte. Hy sê daar is boere wat met botterskorsies, tamaties, eiers en selfs hoenders sit, en nie 'n afset daarvoor kan vind nie.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie