Vlerke geknip weens tekort aan brandstof
Vlerke geknip weens tekort aan brandstof

Vlerke geknip weens tekort aan brandstof

Twee vliegtuie van die Namibiese lugredery het gister laat van Walvisbaai opgestyg.
Otis Finck
Otis Finck op Walvisbaai - Twee Air Namibia-vlugte van Walvisbaai-lughawe af is gister weens 'n tekort aan brandstof vertraag.

Na bewering het Air Namibia glo nie sy brandstofrekeninge betaal nie, wat veroorsaak het dat die ver­skaffer geweier het om brandstof aan die twee vliegtuie te lewer.

Vlug SW 713, 'n vlug van twee ure van Walvisbaai na Kaapstad, sou om 10:55 vertrek en SW164, 'n halfuurvlug na Windhoek, sou om 10:25 vertrek, maar het volgens 'n bron eers omstreeks 12:00 opgestyg.

Mnr. Paul Nakawa, korporatiewe kommunikasiebestuurder van Air Namibia, het erken dat vlugte van Walvisbaai gister weens interne kwessies rakende brandstofbetaling vertraag was.

“Die feit van die saak is dat ons die verpligtinge aan ons verskaffer nagekom het. Die geld is verlede week oorgeplaas, maar weens die naweek het die geld nie vanoggend in ons ver­skaffer se rekening gewys nie, daarom die vertraging van ons vlugte,” het Nakawa verduidelik.

“Air Namibia het die bewys van betaling aan die verskaffer gegee en die vliegtuie is hervul.”

Nakawa het beklemtoon dat Air Namibia jare reeds die brandstof­rekeninge suksesvol bestuur en hy glo die maatskappy sal voortgaan om dit te doen. “Ons monitor en verbeter ons brandstofverbruik voortdurend by Air Namibia om effektief die koste van brandstof te verminder. Ons vra ver­skoning aan ons gewaardeerde passasiers en lede van die publiek vir die vertraging van die vlugte en verseker hulle van ons voortdurende goeie diens.”

Mnr. Izak van Rooyen, vliegtuigbrandstofhervuller vir Southern Energy Company by die Walvisbaai-lughawe, het navrae oor die kwessie na sy toesighouer, mnr. Harry Green, verwys. Hy het op sy beurt Republikein na die maatskappy se direkteur in Kaapstad, mnr. Gavin Sayce, verwys wat weer die koerant na Air Namibia verwys het.

Sayce wou nie kommentaar lewer oor die redes vir die vertraging nie. Hy het bevestig dat die maatskappy voldoende brandstofvoorraad be­skikbaar het en daar nie tekorte by die lughawe is nie. Die twee Namibiese Embraer ERJ135-vliegtuie het 'n brandstofkapasiteit van 4 198 liter elk en kan 37 passasiers vervoer.

Sayce het verduidelik dat die bedrag wat betaal moet word om 'n vliegtuig vol te maak, verskil en deur 'n aantal faktore beïnvloed word, soos onder meer wisselende brandstofpryse, die volume benodig, die weerstoestande en die gewig van die vrag wat gedra word.

Redakteursnota: Hierdie berig is op 10 Oktober 2017 gewysig om 'n aanvanklike, foutiewe verwysing na die vliegtuie as Airbus A319-100's reg te stel.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer