Vliegongelukke hu00e9t ooreenkomste, maar . . .
Vliegongelukke hu00e9t ooreenkomste, maar . . .

Vliegongelukke hét ooreenkomste, maar . . .

Die 737 Max 8 is die jongste weergawe van dié passasierstraler wat in 1967 die eerste keer aan die wêreld bekend gestel is.
Kenners in burgerlike lugvaart meen dis nog te vroeg om gevolgtrekkings te maak oor ooreenkomste in die twee onlangse vliegtuigongelukke waarby 'n Boeing 737 Max 8 in albei gevalle betrokke was.

Sondag se rampspoedige vlug ET302 van Ethiopian Airlines het die lewe van 157 mense geëis toe dit ses minute nadat dit in Addis Abeba opgestyg het, neergestort het. Op 29 Oktober het vlug 610 van Lion Air, 'n laekoste- Indonesiese lugdiens, 12 minute ná opstyging neergestort. In dié ramp is 189 mense dood.

“'n Mens kan maklik 'n vergelyking tref en kyk vir ooreenkomste tussen die Lion Air-ongeluk en dié van Ethiopian Airlines. Voordat ons al die feite het, bly dit net bespiegelinge,” sê Guy Leitch, lugvaartkenner en redakteur van die tyd­skrif SA Flyer.

Die ooreenkomste kan egter nie misgekyk word nie. Albei Boeing 737 Max 8-vliegtuie het kort ná opstyging neergestort.

Dit is voorafgegaan deur 'n onstabiele vlugpatroon en dit wil voorkom of die vlieëniers in albei gevalle gespook het met die geoutomatiseerde stelsel wat enjinstaking moet voorkom.



VLUGOPNEMERS

Die 737 Max 8 is die jongste weergawe van dié passasierstraler wat in 1967 die eerste keer aan die wêreld bekend gestel is. Indonesiese ondersoekers het nog nie 'n bevinding gemaak waarom die Lion Air-vliegtuig geval het nie.

“Dit is 'n lang proses,” verduidelik Leitch.

“Ondersoekers in Ethiopië sal nou eers die data van die twee vlugopnemers moet bestudeer voordat daar enigsins 'n verband getrek kan word oor hoekom dié betrokke model etlike minute ná opstyging met sy neus eerste neergestort het.”

Ondersoekers op die ongeluks­toneel kyk na tekens van enige brand of moontlike ontploffings en die aard van die impak toe die straler die grond getref het.

Leitch glo nie dit is toevallig dat die vlieëniers kort nadat hulle opgestyg het skielik probleme ondervind het nie.

“Iets het aanleiding daartoe gegee dat hulle beheer oor hul vliegtuie verloor het weens groot variasies in vertikale spoed. Faktore soos enjinprobleme, gewigslading en selfs voëls wat die vliegtuig tref, kan ­probleme veroorsaak.”

Volgens Harro Ranter, stigter van die lugvaartveiligheidsnetwerk, wat inligting oor vliegrampe oor die wêreld heen insamel, is geen foute vooraf gerapporteer nie.

“Dit is in dié stadium moeilik om enige verband tussen dié vliegramp en dié van Lion Air te trek,” het Ranter aan Time.com gesê.

Die Boeing 737 Max 8 wat neergestort het, is in November verlede jaar aan Ethiopian Airlines gelewer.



ONSTABIELE VERTIKALE SPOED

Volgens The Guardian is meer as 300 van dié modelle in gebruik en meer as 5 000 sedert 2017 oor die wêreld heen bestel.

“Die straler het 'n onstabiele vertikale spoed op die lugverkeer-vlugradar getoon nadat dit opgestyg het. Daar was skerp stygings en dalings. Die outomatiese stelsel neem oor as sensors 'n probleem aandui wat die neus van die vliegtuig laat sak. Dit kon wees dat die sensors 'n ­foutiewe lesing deurgegee het. Dié probleem het in albei vliegrampe voorgekom,” sê Leitch. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer