Vlieu00ebnier verloor beheer oor sweeftuig
Vlieu00ebnier verloor beheer oor sweeftuig

Vlieënier verloor beheer oor sweeftuig

Die oorsaak van die ongeluk waarin 'n Switserse vlieënier op Oukersdag gesterf het, is bekend gemaak.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Die Switserse vlieënier wat op Oukersdag in 2015 op die plaas Stryfontein, wes van Uhlenhorst, sy lewe in ’n sweeftuigongeluk verloor het, het beheer oor die tuig verloor.

Dít is volgens die ongelukverslag wat deur die direktoraat van vliegtuigongelukondersoeke in die ministerie van werke en vervoer uitgereik is, die moontlike oorsaak van die ongeluk.

Mnr. Thomas Herman het die ongeluk ondersoek.

Die Ventus 2CM-sweeftuig met Duitse registrasiemerk D-KTBS met die Switser mnr. Maurizio Ivano Bofchetty (46), van Zürich, as enigste insittende, het op 24 Desember 2015 by Bitterwasser Lodge opgestyg en het ’n uur en ’n half later op Stryfontein geval. Bofchetty het nie ’n vlugplan ingedien nie, maar dit is ook nie ’n vereiste nie.

Die wrak van die Duits-vervaardigde sweeftuig, wat aan mnr. Wilfried Grosskinsky behoort, is eers twee dae later om 07:45 op Stryfontein opgespoor en die direktoraat is toe omtrent die ongeluk ingelig.

“Net ná die tuig opgestyg het, het die vlieënier tot ’n hoogte van 8 195 voet geklim voor hy die enjin afgeskakel het. Die sweeftuig het sirkels in die Bitterwasser-gebied gemaak om hoogte te kry,” lui die verslag.

“Ná 10 sirkelbewegings is ’n hoogte van 14 947 voet bereik wat gevolg is deur ’n onbeheerde maneuver en ’n skielike, steil daling.”

Volgens die verslag het die sweeftuig die grond vertikaal teen ’n hoë snelheid getref. Dit het weens die hoë impak in stukke gebreek en die vlieënier is noodlottig gewond.

“Die sweeftuig se linkervlerk het ’n duidelike merk op die grond gemaak en die parte is in ’n radius van 10 m van die plek van impak af gevind,” lui die verslag.

Die veiligheidsknip wat die kajuit se glaskoepel oopmaak, was gesluit. Geen poging is dus deur die vlieënier, met 650 vliegure agter sy naam, aangewend om homself uit die kajuit te bevry nie.

“Die vlieënier se helper het gesien die vlieënier was dié dag nie in ’n toestand om te vlieg nie, want hy het foute gemaak en gebewe.

“Hy het selfs opgemerk dat die vlieënier sy valskerm verkeerd aangehad het, maar hy kon die vlug nie stop nie.”

Die vlieënier se lisensie en mediese sertifikaat was tydens die ongeluk geldig, asook die sweeftuig se lugvaardigheidsertifikaat en sertifikaat van registrasie.

Dit was mooiweer met goeie sigbaarheid op die dag van die ongeluk en dit word dus nie as ’n bydraende faktor tot die ongeluk geag nie.

Veiligheidsaanbevelings aan Bitterwasser Lodge is dat ’n opleidingsprogram en opleidingsprosedures ingestel moet word om helpers in staat te stel om kommer oor veiligheid dadelik te rapporteer sodat professionele evaluering voor ’n vlug gedoen kan word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!