Vloedwaarskuwing vir Zambezi
Vloedwaarskuwing vir Zambezi

Vloedwaarskuwing vir Zambezi

Francoise Steynberg
Francoise Steynberg



Met die Zambezirivier se vlak wat gisteroggend op 5,68 meter diep by Katima Mulilo gemeet het, word gewaarsku dat gemeenskappe wat in vloedgeteisterde gebiede bly, voorsorgmaatreëls moet tref met watervlakke wat nóg kan styg.

Die Namibiese hidrologiese dienste het gister in sy jongste vloedbulletin gesê die beweging en ontwikkeling van die vloedsituasie in die Zambezirivier word noukeurig gemonitor.

“Beplanning vir vloede en voorbereiding vir herstelwerk moet in die Zambezistreek geaktiveer word,” maan die bulletin.

“Die jongste satellietbeelde dui op ligte buie oor die sentrale, oostelike en noordoostelike dele van Namibië, en goeie reën kom in Angola voor.”

Verlede jaar in die ooreenstemmende tydperk was die Zambezirivier by Katima Mulilo 3,41 meter diep en die gemiddelde vlak vir die rivier hierdie tyd is 4,01 meter.

Volgens die bulletin verlaag vlakke van die Kavangorivier stadig by Nkurenkuru en Rundu waar dit onderskeidelik op 2,71 meter en 5,66 meter meet.

Wat die damvlakke betref, is die Von Bachdam tans 51,9% vol teenoor verlede jaar in die ooreenstemmende tydperk se 55,9%. Die Omatako is amper dolleeg op 0,6% teenoor verlede jaar se 62,9%. Al die ander ander damme is leër as verlede jaar (tussen hakies) dieselfde tydperk: Die Hardapdam is 48,5% vol (72,7%), die Nautedam staan op 72,1% (100,6%) en die Oanobdam op 67,7 (90,4%).

Die Swakoppoortdam is 38% vol.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer