Vlugtelinge op straat: ‘Enige ander land as SA’

Die VN het onlangs in ’n verklaring gesê daar is tans sowat 268 000 vlugtelinge en asielsoekers in Suid-Afrika.
Andrea Küsel - Teen die agtergrond van spoggerige voorstedelike huise in Pretoria bak die son neer op honderde vlugtelinge waar hulle op die sypaadjie sit voor die kantoor van die Verenigde Nasies (VN) se vlugtelingagentskap (UNHCR) in die hoofstad.

Die straat aan albei kante van Waterkloofstraat in Brooklyn is besaai met flenterige tente, stukke lap en plastiek wat gebruik word as skerms teen die warm somerson.

Klein kinders speel tussen die rommel en sommiges was hul klere in houers water. Wasgoed word dan in rye oor heinings gehang.

Vlugtelinge van verskeie Afrikalande, onder meer die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK), Soedan, Kameroen, Burundi en Somalië, kamp reeds byna drie weke voor die kantoor van die UNHCR in die hoop om in ’n ander land hervestig te word.

“Enige ander land as Suid-Afrika,” sê Maliyamungu Ngenge (41), een van die drie leiers van dié groep vlugtelinge.

Hy is oorspronklik van die DRK, maar nou wil hy so gou moontlik Suid-Afrika verlaat.

“Daar was nog altyd xenofobiese aanvalle teen buitelanders en vlugtelinge in Suid-Afrika. Ons kom na die UNHCR om te vra vir beskerming.”

Ngenge sê hy is die eerste keer in 2008 aangeval tydens ’n xenofobiese voorval in die Wes-Kaap.

Volgens hom is daar nagenoeg 600 vlugtelinge wat tans in dié straat in Pretoria woon.

GEMENGDE REAKSIES

Hy sê die VN wou hulle verskuif na ’n ander gemeenskap waar hulle skuiling sou kon vind, maar die vlugtelinge het dit geweier.

Kate Prinsloo, ’n plaaslike raadslid, sê daar is gemengde reaksies onder inwoners oor die vlugtelinge.

“Daar is twee inwonersverenigings wat beplan om ’n dringende hofaansoek te bring om die Tshwane-metro te dwing om die mense te verwyder.”

Prinsloo sê die vlugtelinge se versoek is byna onmoontlik om uit te voer.

“Hulle wil nie teruggaan na hul geboortelande nie en hulle wil ook nie in Suid-Afrika bly nie. Die lande wat bereid is om hulle in te neem, raak al hoe minder.”

Hélène Caux, die UNHCR se woordvoerder in Suid-Afrika, het aan News24 gesê hulle het gereeld vergaderings met die vlugtelinge sedert hulle voor dié kantoor begin uitkamp het.

Caux het gesê die vlugtelinge is, buiten hul vrees vir geweld, onder meer ook bekommerd oor die tyd wat dit neem om aansoek te doen vir asiel asook met die aansoeke en hernuwing van dokumentasie.

Caux sê die proses van hervestiging is egter ingewikkeld en dat dit so oorgedra is aan die vlugtelinge.

Volgens Caux werk die UNHCR saam met die regering, die polisie en die burgerlike samelewing om die probleem op te los.

Die VN het onlangs in ’n verklaring gesê daar is tans sowat 268 000 vlugtelinge en asielsoekers in Suid-Afrika. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!