VN op 75: Ongekende uitdagings
VN op 75: Ongekende uitdagings

VN op 75: Ongekende uitdagings

Covid-19 het talle planne van dié wêreldliggaam in die wiele gery.
Sanet de Waal
Denver Kisting op Okahandja – Die Verenigde Nasies (VN) het ’n deurslaggewende rol vertolk in die dekolonisering van Namibië en die land se oorgang na onafhanklikwording in 1990.

So het pres. Hage Geingob Saterdag gesê met die herdenking van dié wêreldliggaam se 75ste bestaansjaar.

Die staatshoof sê die VN – deur sy spesialisagentskappe – is steeds ’n betroubare vennoot op Namibië se ontwikkelingsreis.

“Op hierdie spesiale geleentheid van die 75ste herdenking van die totstandkoming van die VN-handves, loof ek die VN vir sy pogings tot ’n beter mensdom, vry van oorlog en hongersnood.

“Terwyl oorgrensbedreigings ons in die gesig staar, insluitend Covid-19, sal Namibië hom aanhou beywer vir ’n sterker multilaterale stelsel as die oplossing vir ons gedeelde uitdagings.”

Vanjaar se vieringe onder die tema, “The future we want; the UN we need”, is die afgelope Saterdag by die Ileni Tulikwafeni-sentrum in Vyfrandkamp, ’n informele nedersetting op Okahandja, herdenk.

Mnr. Sen Pang, die VN se inwonende koördineerder, het tydens die geleentheid gesê die Covid-19-pandemie het ’n veel groter impak gehad as net mense se vermoë om dié geskiedkundige gebeurtenis in persoon en in groot getalle by te woon.

“Dit het ons ekonomieë laat tuimel; dit het ons gesondheidsorgstelsels tot hul uiterstes beproef; onderwys is ontwrig wat ons gesamentlike toekoms bedreig, die mees kwesbare mense het die meeste gely; vroue en meisies word deur groter risiko’s van geslagsgegronde geweld in die gesig gestaar.”

Hiernaas, sê Pang, is kinders danksy die impak van die pandemie meer uitgelewer aan kinderarbeid, kinderhuwelike en uitbuiting.

“Xenofobie, rassisme en diskriminasie – op etniese en geloofsgronde, is aan die toeneem. Die sosioëkonomiese impak is verreikend, maar ons vermoë om kragte saam te snoer en saam met vernuwende oplossings vorendag te kom, kan die momentum vir blywende verandering teweeg bring.” - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer