Voeding van suiwelkoeie tydens wintermaande
Sien om na voedingsbehoeftes
Steyn Pretorius - Die variasie van ‘n suiwelkoei se voedingsbehoeftes verskil taamlik tussen somer- en wintermaande. Die winter het ander tipe uitdagings wat, as dit reg bestuur word, minder verliese sal meebring.
Voedingsbehoeftes
Een van die belangrikste faktore wat ‘n effek sal hê op die melkproduksie, samestelling en algemene gesondheid en kondisie van die koei, is die voedingsbalans wat aan die koei verskaf word tydens die winter.
Tydens die winter verhoog die voedingsbehoefte van die koei om haar liggaamstemperatuur en metabolisme te handhaaf. Die voeding van verskillende tipes energiebronne soos stysels pleks van vette, kan help met die verandering van inname wat waargeneem word tydens wintermaande.
Daar moet in ag geneem word, dat die voeromsetvermoë verswak en dat koeie meer voer benodig om hul liggaamskondisie en produksie te handhaaf. Om hierdie probleem op te los, kan die gebruik van meer verteerbare veselbronne, soos lusern, gebruik word om die rantsoendigtheid te verlaag, maar om die droë materiaalwaarde te verhoog.
Daar moet seker gemaak word dat die nutriëntsamestelling gebalanseerd bly volgens die koei se produksiestadium.
Voerkomponente
Maak seker dat genoeg ruvoer beskikbaar is om die kudde deur die winter te dra. Die area, en of dit ‘n winter- of somerreënvalstreek is, sal bepaal of weiding beskikbaar is deur die winter of nie. ‘n Paar ruvoeropsies kan as volg benut word deur die winter:
Hooie: ‘n Goeie kwaliteit hooi kan ‘n groot verskil maak deur verteerbare vesel aan die dier te verskaf. Dit help ook met melkkomponente soos bottervette en melkproteiën. Lusern bly die beste opsie as daar na hooi gekyk word.
Dit is ‘n goeie verteerbare vesel en proteiënbron vir ruminante diere. Die beskikbaarheid van lusern varieër aansienlik deur die jaar, en raak ’n probleem tydens die winter.
Hawer, medic (Medicago lupulina) en grashooi kan ook dien as goeie bronne van ruvoer in ‘n totale gemengde rantsoen (TGR). Alhoewel die laaste drie ‘n laer proteiëninhoud as lusern het, kan dit maklik aangepas word deur ander proteiënbronne te voer om die rantsoen te balanseer.
Kuilvoer: Kuilvoer is ‘n baie algemene bron van ruvoer onder suiwelboere wat die TGR-stelsels voer. Hoofsaaklik omdat TGR-boere normaalweg in die saaigebiede van die land gevestig is.
Een van die balangrikste aspekte van kuilvoer is wanneer die gewas gestroop word. Soos ‘n plant groei, bou dit struktuur op om die plant te stut. Deur dié proses verander die verhouding tussen verteerbare en onverteerbare vesel.
Die persentasie onverteerbare vesel styg soos wat die plant verouder, wat die beskikbaarheid van die kuilvoer tot die dier sal verlaag.
As die plant te vroeg geoes word, sal daar te min deegvorming in die saadomhulsel plaasvind, wat die energiebeskikbaarheid van die kuilvoer sal verlaag en so-ook die kwaliteit. Dit is dus belangrik om die gewas te monitor en op die regte tyd te oes om sodoende die beste kuilvoer moontlik te maak. Daar moet in ag geneem word dat wanneer kuilvoer in die winterreënvalareas gebruik word, die insluiting van water aangepas moet word. Vogverliese is minder in hierdie areas tydens die winter, so dit raak belangrik om die droëmateriaal-inname konstant te hou, veral ná reën.
Aanvullende voeding
Die tipe aanvulling wat die boer op die plaas nodig het, hang hoofsaaklik af van die roumateriale wat die boer beskikbaar het, of wat die boer in staat is om self te meng. Sekere boere het ruvoer en energiebronne beskikbaar, maar kort ‘n proteiën- en mineraalaanvulling.
‘n Voedingkundige formuleer dan ‘n gebalanseerde rantsoen met wat die boer beskikbaar het, en wat hy moet aankoop. Hierdie opsie werk normaalweg goedkoper uit, omdat die grootste persentasie van die boer se rantsoen teen kosprys beskikbaar is op die plaas. ‘n Hoëproteiën-konsentraat (HPK) kan vir hierdie doeleindes gebruik word.
Kragvoer word normaalweg gebruik wanneer die boer ruvoer in die vorm van kuilvoer of hooi beskikbaar het, maar ‘n aanvulling van proteïen, energie en minerale kort. Hierdie produkte word geformuleer deur voermaatskapye en kan volgens individuele kliënte aangepas word om aan die behoeftes op die plaas te voldoen.
Tydens die winter kan ‘n groter hoeveelheid vette vervang word met grane, mits seker gemaak word dat die persentasie stysel- en nie-vesel koolhidrate (NFC) nie veilige vlakke oorskry nie. Dit kan lei tot metabolise steurnisse soos suurpens.
Die rede vir die verskuiwing is dat die hitte-inkrement van die rantsoen sal verhoog en meer energie beskikbaar stel aan hitteproduksie om termoregulering te verbeter. Dit is uiters belangrik om met ‘n kundige te werk voordat sulke veranderinge aangebring word.
Koeikondisie
Koeie moet reg voorberei word op die winter. Omdat voeromset verswak met kouer weer, is dit belangrik om ‘n koei in ’n goeie kondisie te kry voordat die winter aanbreek.
Pas die voer aan om ‘n effense hoër energieinhoud te bereik. Dit kan verkry word deur grane of vette te verhoog. Koeie wat in ‘n beter kondisie is, sal kouer dae beter hanteer as koeie in ’n swak kondisie.
Wenke vir wintervoeding
• Rantsoene met ‘n hoë voginhoud moet aangepas word in areas waar temprature onder vriespunt daal. Gevriesde voer verlaag innames en verhoog energieverbruik vir vertering. As dit gebeur, voer meer keer per dag om te verseker dat voer nie te lank in die bakke lê nie.
• Verhoog ruvoervlakke in rantsoen om sodoende die rumenfermentasie en die hitte-inkrement van die voer te verhoog.
• Voer meer keer per dag om innames konstant te hou en om muf in voerbakke te voorkom.
• Maak seker dat voerbakke skoon en droog is voor elke voeding, veral in winterreënvalstreke.
• Maak seker dat waterbakke nie gevries is nie. Die koei moet altyd vars water beskikbaar hê.
• Kyk of daar genoeg ruvoer beskikbaar is om die kudde deur die winter te neem. As daar ‘n tekort gaan wees, maak die nodige besluite rakende aankope vroeër eerder as later.
• Werk saam met ‘n voedingkundige om veranderings in die rantsoen en voedingspraktyke te maak. Dit is ‘n algemene denkwyse dat produksie en kondisie van diere tydens die winter daal, maar met die regte praktyke en bestuur kan dit drasties verminder word.
*Steyn Pretorius is ‘n dierevoedingkundige by Wesfed Voere.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie