Voedingskemas maak 'n verskil

Windhoek LifeChange Centre, as deel van die Namibia LifeChange Centres Foundation, ondersteun steeds die mees kwesbare groepe.
Mariselle Stofberg
Mariselle Stofberg – Die Windhoek LifeChange Centre (WLCC) bestaan al vir meer as 19 jaar met die doel om aan die basiese behoeftes van minder­bevoorregtes in die gemeenskap te voorsien.

Dit sluit onder meer in die voorsiening van kos en klere vir kleuterskole, laerskole, hoërskole en bejaardes, berading en basiese houtwerk-, naaldwerk- en babaversorgingsklasse.

“Schalk Pienaar het in 2001 die idee om 'n sentrum te stig aan die kerkraad voorgelê. Die nood was reeds groot en ons het dit gesien as 'n geleentheid vir kerkgroepe om saam te werk om armoede te beveg,” sê mnr. Wynand Fourie, een van die trustees van die Windhoek LifeChange Centre.

“Hierdeur kan ons onmiddellike verligting aan mense bring en hoop gee aan die behoeftiges,” sê mnr. André Botes, die voorsitter van die WLCC-trustees.

Kort ná die opening van die sentrum is die behoefte geïdentifiseer om by preprimêre skole in die informele nedersettings betrokke te raak en om onderwysers op te lei.

“Sodra jy die harte van die kinders aanraak, is dit moontlik om dieselfde met die gemeenskap as geheel te doen,” sê Botes verder.

“Ongeveer 1 000 kinders baat by die werk van Hand of Hope (HoH) en die Amos Meerkat-projek se skole, wat in samewerking met die WLCC se voedingskemas bedryf. 'n Bykomende vyf skole val onder die Namib Mills-voedingskema,” sê me. Magda Shamalaza, die koördineerder en mentor van die Amos Meerkat Projek-skole by WLCC.

Ongeveer 1 500 laerskool- en voor­skoolse kinders word weekliks deur die skemas gevoed.

“Ons verskaf sop aan sewe hoërskole met die ondersteuning van Letshego Bank. Ons bedien ongeveer 4 000 kinders,” sê Shamalaza.

WLCC is een van verskeie sentrums oraloor die land wat deel is van die Namibia LifeChange Centres Foundation (NLCCF) en is ongeveer 12 jaar gelede gestig.

“Die NLCCF dien as 'n sambreel-organisasie vir die verskeie sentrums oor die land en koördineer die hulpbronne en fondse tussen die sentrums,” sê mnr. Schalk Walters, die besturende direkteur van dié organisasie.

“As ons saamwerk, is dit vir ons moontlik om 'n werklike verskil in die land te maak. Ons weet Namibiërs is mense wat wil help en deur die NLCCF is dit moontlik om die behoeftes en die hulpbronne bymekaar te bring,” sê Walters verder.

Die WLCC is by 20 kleuterskole in informele nedersettings in en rondom Windhoek betrokke.

“Baie van die skole het nie opgeleide onderwysers nie en daarom ook nie enige gestruktureerde manier waarop die skool hul vyf- en sesjarige leerlinge kan skoolgereed kry nie,” sê Shamalaza.

Namibia Media Holdings (NMH) het in samewerking met die ministerie van onderwys, kuns en kultuur begin om opvoedkundige boekies te druk en aan laerskoolleerlinge beskikbaar te stel. Die boekies vir voorskoolse en graad 1-leerlinge word op die Amos-kurrikulum gebaseer sonder enige koste vir die gebruik van die sillabus.



KINDERS SE GESONDHEID

“Die pandemie het weer eens bewys hoe belangrik dit is om na ons kinders om te sien. Dit strek soveel verder as net die klaskamer,” sê Shamalaza.

“Kinders se immuunstelsels is direk afhanklik van daaglikse voedsame maaltye. Van die kinders wat deel is van die normale HoH-voedingsprogram, wat die WLCC by 20 kleuter­skole geïmplementeer het, kry daagliks net een maaltyd,” sê Shamalaza.

Die inperking het verskeie leerlinge sonder die daaglikse voedingskemas by hulle onderskeie skole gelaat. HoH het die behoefte raakgesien en steeds kospakkies aan dié leerlinge voorsien om te verseker dat hulle ten minstens een ete per dag ontvang.

“Met die inperkingsmaatreëls en die ekonomiese realiteite wat daarmee gepaardgaan, is die risiko groot dat hierdie kinders dalk niks in die dag kry om te eet nie. Daarom het die WLCC en HoH besluit om die program aan te pas. Só kan ons help dat hulle minder vatbaar vir siekte sal wees,” sê Shamalaza.

“Ons almal weet hoe traumaties die aanvang van die virus en die inperking vir ons elkeen was, en soveel meer vir die kinders.

“Hierdie voedselhulp sal hopelik daartoe bydra dat al die veranderinge en onsekerheid van die afgelope tyd minder traumaties vir hulle is,” sê Shamalaza.

Fourie sê dit beteken baie om deur ander se getuienisse en terugvoering die verskil te sien wat die WLCC maak.

“Ons hoef nie berge te versit nie, want die een lewe wat jy positief beïnvloed en wat Christus se liefde ervaar, het weer 'n vermenigvuldigende impak op ander se lewens,” sê Fourie. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer