Voedselbank ly onder ekonomie
Voedselbank ly onder ekonomie

Voedselbank ly onder ekonomie

Die minister van armoedeverligting en maatskaplike welsyn het gesê wêreldwye ekonomiese uitdagings veroorsaak dat meer met minder gedoen moet word.
Denver Kisting
Denver Kisting



Die voedselbank dien 'n opbouende doel, maar die sukkelende ekonomie en 'n ­behoefte aan die vaartbelynde toekenning van hulpbronne het die inperking van dié vangnet ­genoodsaak.

Só het die minister van armoedeverligting en maatskaplike welsyn, emeritusbiskop ­Zephania Kameeta, onlangs in die Nasionale Vergadering gesê.

Dié verwikkelinge, sê hy, het meegebring dat die aantal begunstigdes van die voedselbank ­getuimel het met meer as 32% – van 22 354 ­huishoudings tot net 15 158.

“Dié afname is 'n gevolg daarvan dat die geskiktheidskriteria meer vaartbelyn gemaak is om te verseker die mense wat die kwaaiste onder ­hongersnood en armoede deurloop, baat vind,” het Kameeta tydens die motivering van sy ­ministerie se begrotingspos verduidelik.

Hy het voorts gesê sy ministerie – in samewerking met die Universiteit van Namibië (Unam) – het met navorsing bevind die voedselbank het 'n “positiewe impak (. . .) in die lewens van talle wat nie vantevore kos kon koop nie”.

Die voedselbankinisiatief, wat in dié stadium net na van die weerlose mense in die Khomasstreek omsien, word na verwagting eersdaags na ander streke geneem, het die minister verseker.

Vir die 2018-'19-boekjaar beloop dié ministerie se begroting N$3 439 013 en nagenoeg N$10,4 miljard oor die volgende drie jaar.

Kameeta het voorts gesê daar moet steeds “meer met minder gedoen word” in die lig van die voortslepende ekonomiese uitdagings wêreldwyd.

Daarom, maan hy, móét die klem bly op die doeltreffende inwerkingstelling van programme wat daarop gemik is om mense uit die moeras van armoede te verlig.

Sy ministerie se sny uit die nasionale begroting se koek neem die nasionale wekroep om armoede in die bek te ruk, in ag.

Kameeta sê drie sleutelprogramme val onder hul mandaat – die verskaffing van maatskaplike vangnette, die formulering en monitoring van strategieë en om 'n geheelbeeld van beleid te handhaaf en bystandsdienste te verleen.

Sedert die vorige finansiële jaar het hulle daarin geslaag om die aantal begunstigdes van maat­skaplike toelaes te verhoog van 204 621 tot 211 447, sê hy.

Die fasilitering van die verskaffing van dié dienste alleen sal die ministerie na verwagting sowat N$77 miljoen uit die sak jaag terwyl N$3 miljard vir die toelaes self begroot is.

Hiernaas is N$26 miljoen vir die “administrasie van maatskaplike toelaes” opsy gesit.

Volgens Kameeta maak sy ministerie voorsiening vir 17 500 begrafnisse van maatskaplike toelaag-begunstigdes – N$3 200 per begrafnis, waarvoor N$56 miljoen begroot is.

Dít verteenwoordig 'n toename van meer as 100% in die aantal begrafnisse.

Verlede jaar is 7 526 begrafniseise van behoeftiges aangeteken.

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer