Voedselverliese versus voedselvermorsing
Dr. Kobus Laubscher
Met die droogte en gepaardgaande voedseltekorte en gevolglike toename in huishoudelike voedselonsekerheid, behoort die klem te verskuif na wat werklik en uiteindelik die verbruiker se maag bereik. Onlangse navorsing dui op beduidende – soveel as ’n derde – vermorsing van kos in Suid-Afrika as bydraende oorsaak tot stygende voedselonsekerheid. Vanweë die diverse samestelling van die bevolking – etnies en inkomstegewys – sou ’n mens kon dink dat minder kos onverbruik op vullishope beland. Mense wat onder die bestaansminimum leef, eet dikwels wat hulle kan bekostig en nie wat hulle fisiologies nodig het nie. Trouens, dit word as ’n oorsaak van toenemende vetsug aangevoer. Die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) onderskei vervolgens tussen voedselverliese en voedselvermorsing. As ’n mens dus wonder hoekom kibbel oor ’n definisie, dan kan volstaan word deur te sê dat die korrekte beskrywing vir klassifikasie nodig is.
Verliese
Vir doeleindes van hierdie aanbieding beteken voedselverliese dit wat nié die verbruiker in eetbare formaat bereik nie. Wat egter belangriker is, is dat bewese verliese van ’n derde van die kos wat geproduseer word, enersyds voedselonsekerheid aanjaag, maar andersyds ook ’n vraagteken plaas agter deurlopende produktiwiteitsverhoging soos meer tonne per hektaar. Produseer meer, en meer tonne gaan verlore.
Verliese binne die waardeketting is kompleks en verskil op grond van die ontwikkelingsvlak van die land. Die geraamde verliese in ontwikkelde (geïndustrialiseerde) lande beloop 670 miljoen ton per jaar teenoor die 630 miljoen ton in ontwikkelende lande, aldus die FAO. Vars produkte se verliese is die grootste, naamlik 45% terwyl 30% van alle graan, 20% van alle vleis, oliesade en suiwel verlore gaan.
Verbruikers in ryk lande se jaarlikse verliese aan kos van 22 miljoen ton, is bykans dieselfde as die totale kosproduksie van 230 miljoen ton in lande suid van die Sahara.
Die per kapita verliese in Europa en Noord-Amerika beloop tussen 95 en 115 kg per jaar, teenoor 6-11 kg kos per kapita per jaar wat in Afrika suid van die Sahara en in Asië weggegooi word.
Jaarlikse per kapita kosproduksie in ryk lande word geraam op 900 kg, teenoor die 460 kg per kop in die arm lande. Hiervan gaan 40% verlore as gevolg van swak na-oes praktyke en ondoeltreffende verwerking, terwyl sowat 40% kos vermors word op kleinhandel en verbuikersvlak in ontwikkelde lande.
Onlangse navorsing in Brittanje oor die waarde van die vries van kos, het gewys op daardie verliese as gevolg van oningeligtheid. Die Daily Telegraph het berig dat tot ses maaltye per week in die asblik beland omdat verbruikers verkeerde opvattings het oor bevrore voedsel. Die Engelse kan tot 4,2 van die 7 miljoen ton wat onverbruik in die asblik beland, verbruik as bestaande kennis oor hantering toegepas word. Tans word die waarde aan kosverliese in Brittanje op 12,5 miljard pond geraam.
Vermorsing
Perspektief op die globale verliese is duidelik as deegliker kennis geneem word van hoeveel mense kan eet as verliese en vermorsing verminder kan word. Sodanige verliese in Latyns-Amerika kan tot 200 miljoen mense voed, verliese in Europa kan tot 300 miljoen mense voed en in Afrika beteken die huidige verliese dat 300 miljoen minder mense kos het om te eet.
Droogtes beteken minder kos, maar die bestaande verliese dwing ’n mens tot nadenke oor waar die klem moet val om sinvol aan toekomstige voedseltekorte te werk. Met die minder kos wat nou beskikbaar is, vereis huishoudelike voedselsekerheid om baie meer met die minder kos te doen deur dit beter te hanteer van die winkel tot op die bord.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie