Voerkraal: Meatco mag slag, maar nie bemark
Voerkraal: Meatco mag slag, maar nie bemark

Voerkraal: Meatco mag slag, maar nie bemark

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die direktoraat veeartsenydienste (DVS) het Meatco in kennis gestel dat die Okapuka-voerkraal ná vier weke se sluiting voorwaardelik heropen mag word.

Dié vleiskorporasie word ingevolge die voorwaardes sedert 30 September toegelaat om weer beeste uit die voerkraal te slag, maar die vleis mag nie bemark word nie en moet in koelkamers geberg word.

Dr. Jessey Kamwi, wat tans waarneem as hoof- veeartsenybeampte by DVS terwyl dr. Milton Maseke in die buiteland is, het hierdie verwikkeling by navraag bevestig.

Volgens haar is die voorwaarde ingestel aangesien die direktoraat ná die sluiting nog 41 beeste in die voerkraal vir die teenwoordigheid van die semi-sintetiese hormoon zeranol getoets het.

Die betrokke urienmonsters is vir ontleding na ’n laboratorium in die Europese Unie (EU) gestuur, sê Kamwi.

Op ’n vraag of dit soos met vorige toetse ook vier maande sal duur voordat die uitslae beskikbaar is, het sy geantwoord: “Ek weet nie hoe lank dit sal duur nie, maar dit sal nie vier maande wees nie.”

Die voerkraalkrisis het ontstaan nadat die DVS dit op 2 September met nagenoeg 8 000 beeste daarin gesluit het. Dit was nadat laboratoriumuitslae volgens dié direktoraat getoon het zeronol was in twee urienmonsters aanwesig.

Dié beeste is op 4 April vanjaar saam met 19 ander in die voerkraal deur die DVS getoets.

Meatco is in die sluitingskennisgewing deur die DVS daarvan beskuldig dat hy ’n “herhaalde oortreder” is aangesien dit die tweede keer in 12 maande was dat zeranol in die urienmonsters van voerkraalbeeste gevind is.

Die vleiskorporasie het egter uit die staanspoor volgehou dat hy nie hierdie groeihormoon doelbewus toegedien het nie, maar dat dit natuurlik in die betrokke diere aanwesig was omdat hulle dit deur veevoer waarin die fusarium-swam teenwoordig was, ingekry het. Zeranol word tydens die gistingsproses van hierdie swam gevorm.

Die doelbewuste toediening van zeronol word anders as byvoorbeeld by voerkrale in Suid-Afrika, deur Namibiese wetgewing verbied. Dit is ook in die EU verbode.

Volgens die verslag van ’n amptenaar in die kantoor van die direkteur-generaal van gesondheid en voedselveiligheid in die EU wat die uitslae van die twee gewraakte urienmonsters bestudeer het, het die DVS die bevindings verkeerd geïnterpreteer.

Die amptenaar, ene John, sê in ’n brief aan Meatco “die interpretering van die uitslae is verkeerd aangesien nie een van die twee monsters zeranol of sy metaboliet taleranol bevat nie.

“Indien zeranol deur middel van ’n implanting in die diere toegedien was, sou ’n mens verwag dat beide hierdie verbindings teenwoordig sou wees,” lui sy brief.

In beide die monsters was die swam-metaboliet, alfa-zeranol, teenwoordig wat van swambesmetting afkomstig is. Die vlakke is egter nie vir die EU, waarheen Namibië beesvleis invoer, onaanvaarbaar nie.

Hierdie brief is verlede week deur Meatco aan sy produsente gestuur om hulle op die hoogte te bring van die voerkraalkrisis.

Op ’n vraag aan Kamwi oor waarom die DVS invoerpermitte aan Suid-Afrikaanse vleisverskaffers soos Karan Beef uitreik wat wel zeronol in sy voerkrale toedien, het sy gesê ingevoerde vleis moet aan die Namibiese wetgewing voldoen.

“Die voorwaarde vir hierdie permitte is dat die vleis ingevoer kan word mits die nodige sertifisering gedoen is wat bevestig dit oortree nie Namibiese wetgewing oor verbode middels nie,” het sy gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!