Voernood raak al hoe kritieker
Voernood raak al hoe kritieker

Voernood raak al hoe kritieker

Die land se grootste veevoer­vervaardiger sê hy is toegegooi onder bestellings en boere moet anderhalfmaand vir voorraad wag.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer



Die enorme weidingsnood wat bees- en skaapboere dwing om hul diere met gekoopte voer aan die lewe te hou, het die vraag tot ver bo vervaardigers se kapasiteit verhoog.

Mnr. Christo du Plessis, bemarkingsbestuurder van Feedmaster, sê al vervaardig die aanleg 24 uur per dag vir sewe dae van die week, is die bestellings steeds 25% hoër as die vervaardigingskapasiteit.

“Ons leweringstydperk het van 15 werksdae na 40 werksdae gespring. Die vraag is so hoog dat hierdie tydperk elke vierde dag met nóg een dag toeneem,” sê Du Plessis.

Volgens hom was daar sedert die Paasnaweek 'n merkbare styging in die vraag. “Baie boere het gewag vir moontlike reën laat in April en dit het nie gebeur nie. Sedertdien beleef ons 'n geweldige toename in bestellings.”

Verder het die bestellings wat die Dare to Care-program geplaas het vir veevoer wat deur die Namibië Landbou-­unie en Namibië Opkomende Kommersiële Boere-unie teen 'n goedkoper prys aan boere beskikbaar gestel word, ook 'n invloed gehad.

Feedmaster se verkope het in die eerste kwartaal van 2019 reeds met sowat 18% jaar op jaar gestyg, sê hy.

Volgens Du Plessis het Feedmaster ook logistieke en vervoerprobleme beleef met die invoer van roumateriaal uit Zambië. “Normaalweg kan Namib Meulens dit voorsien, maar met die vraag wat so gestyg het, moes ons ook kontrakte vasmaak in Zambië en Suid-Afrika.”

In Suid-Afrika word vragte rou­materiaal soos kiemmeel, koring­semels, asook lusern wat hierheen vervoer moet word, dikwels tot drie dae lank ­vertraag, aangesien daar nie 'n veeartsenybeampte beskikbaar is om die invoerpermit af te teken nie, sê hy.

“Die uitbreking van bek-en-klouseer in Suid-Afrika het ook uit­dagings geskep deurdat net ruvoer wat in goedgekeurde gebiede verbou is, ingevoer kon word.”

Hy sê intussen het Zambië sy grens vir uitvoere gesluit en moet Feedmaster net op invoere uit Suid-­Afrika steun. Om alles te kroon, word 'n styging in die pryse van roumateriale verwag. Dit gaan meebring dat boere in die maande wat voorlê meer vir veevoer sal moet betaal.

Goeie nuus is dat Suid-­Afrikaanse veevoervervaardigers reeds met kontrakvervaardiging vir Feedmaster begin het. “Ons hoop dat hierdie produkte uit Suid-Afrika vanaf die einde van Mei beskikbaar sal wees,” het Du Plessis gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!