Voertuie deur Löwen meegesleur

Amerikaanse toeriste het 'n noue ontkoming stroomaf van die Nautedam gehad nadat die sluise gister oopgetrek is.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – Twee toeriste én 'n barmhartige samaritaan moes gister hulpeloos toekyk hoe beide hul voer­tuie deur vloedwater in die Löwenrivier meegesleur word.

Dié twee Amerikaanse vroue was sowat 20 km stroomaf van die Nautedam op die C12-roete tussen Seeheim en Grünau onderweg toe die gehuurde Toyota Fortuner van Namibia2Go waarin hulle op reis was, in die droë loop van die Löwenrivier vasgeval het.

Volgens mnr. Gershwin Walters, eienaar van Southern Tow-in op Keetmanshoop, was hy toevallig in daardie stadium met sy privaat voertuig in die omgewing toe hy 'n oproep van hulle gekry het.

Hulle het die insleepdiens se nommer gebel om hulp te ontbied.

Volgens Walters het hy gery na waar hulle vasgeval het en was omstreeks 14:30 in die droë rivier besig om hul voertuig te probeer uitgrawe sodat hy dit kon uitsleep, toe die rivier “teen 'n verskriklike tempo afkom” en binne minute op volle krag geloop het.

Die vroue het enkele items uit hul voertuig gegryp en hulle het almal gehardloop om op die wal van die rivier te kom.

Daar moes hulle verslae toekyk hoe hul huurvoertuig én Walters se Nissan Navara-dubbelkajuitbakkie deur die vloedwater meegesleur word.

Foto's en 'n video deur Walters toon hoe net die dakke van die voertuie uitsteek.

Mnr. Japie Mostert, 'n bekende inwoner van Keetmanshoop, sê mnr. Andries Kok, hoof van NamWater se sake-eenheid in die ||Kharasstreek, het om 10:46 gister 'n kennisgewing aan alle belanghebbende partye, insluitend die Paaieowerheid (RA), gestuur waarin hy hulle in kennis gestel het al vier die sluise van die Nautedam gaan oopgetrek word.

“Die Nautedam is nou by 108%. Vrylating (van water) teen 400 m3/s (kubieke meter water per sekonde) sal omstreeks 12:00 begin en vyf ure duur,” lui sy kennisgewing.

Volgens Walters was daar by dié deurgang deur die rivier nie borde op om die toeriste te waarsku die roete is gevaarlik en is net vir plaasboere in die omgewing in gebruik nie.

Walters sê die C12 word nie meer algemeen gebruik nie, maar GPS-toestelle dui dit aan as die kortste pad tussen Seeheim en Grünau.

Hy waarsku in 'n video wat hy op 'n WhatsApp-groep vir nooddienste geplaas het, mense in die Suide moet hierdie roete vermy.

Volgens hom was hulle na Gondwana se Canyon Roadhouse onderweg. “Die bestuurder van die lodge het hulle kom haal en hulle is darem veilig,” het Walters vertel.

[email protected]

FOTO’s
Die twee Amerikaanse vroue kon vinnig 'n paar goed uit hul vasgevalde huurvoertuig gryp en moes hardloop vir die oewer toe die Löwenrivier stroomaf van die Nautedam in vloed afgekom het. Foto's Gershwin Walters

Kommentaar

Republikein 2024-11-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 32° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 23° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 33° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 14° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 23° | 34° Mariental: 20° | 36° Keetmanshoop: 13° | 32° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 23° Ariamsvlei: 14° | 32° Oranjemund: 14° | 20° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 18° | 28° Mbabane: 18° | 35° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 22° | 38° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 19° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 32° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 32° Harare: 19° | 30° #REF! #REF!