Voet in die hoek: Gekwelde land

Die plek en belang van drie Silwer Diamant-winskopies – die Duster, Sandero en Stepway – is in die kollig in 'n mark wat van alle kante af begin knel.
Egmont Sippel - Onthou Kimi Räikkönen se naam.

Maar eers die Francois's. Ons ken hulle tog: François Mitterrand, François Hol­lande, Françoise Hardy . . .

Maar wie sou kon raai dat Francois Du Toit Roux eintlik Mannetjies is en dat F.A. Venter Francois Alwyn was?

Geknelde land, Offerland, Gelofteland, Bedoelde land; F.A. op sy beste.

Die doellyn; Mannetjies se voorland.

Of sal ons hom vir daai skop onthou wat hy aan 'n Britse betoger uitgedeel het, of die een wat deur Roux met 'n rugbybal agter die kop gegooi is?

G'n nonsens geduld nie, hierdie mannetjie met die Franse naam. Sout van die aarde met sy boerse Galliese temperament – nes Renault se ouergenerasie-voertuie, die Duster-lewenstyler en Sandero-luikrug en, as jy wil, ook die Kwid-mini met sy onaangejaagde ouergeslag-1.0-liter-driesilinderpetrol (50 kW, 91 Nm).

Van die Indies vervaardigde Kwid kan jy onmiddellik vyf dinge sê: Kwit, maar hy's goedkoop (R125 000). Kwit, maar hy kort ABS-remtegnologie. Kwit, maar sy pens staan hoog bo die grond. Kwit, maar die wind neuk hom erg oor die pad rond. En kwit, hy't 'n grênd infovermaakstelsel vir so 'n basiese kleintjie.

Want dis die ding met Renault-wiele vir die Derde Wêreld, daai kombinasie van geharde, basiese meganika en moderne elektronika, om goedkoop produk te lewer wat – nes selfone – die lewenstandaard in minder glinsterende gemeenskappe ophef.

Daar ís egter 'n uitsondering op hierdie formule en dis die pas gekuurde Sandero. Maar eers die aanloop.



Renault koop Dacia

Die eerste Duster het in 2010 gebuig, twee jaar ná die Sandero.

Beide is op die Dacia Logan gegrond. In Europa word die Duster én die Sandero juis onder die Dacia-naam verkoop.

En dis 'n rooi vlaggie, so 'n herkoms van agter die eertydse Ystergordyn. Belaglik goedkoop was die middel 1990's se ­Dacia-bakkie byvoorbeeld. Netwerk24 is met navrae oorval. En toe vind ons uit hóékom hy vir R30 000 kon verhandel.

Onder skeptici het die oorspronklike Duster dus spoke opgejaag. Die verwagting was dat die waentjie volstrek deur die kommunistiese etos gedefinieer sou word: gestroop, basies en nuttig – met Karl Marx se Das Kapital kwansuis nog in die poeierkassie, en die Boek van Probleme onder die ­enjinkap.

Goeiste, Dacia-voertuie se wiele is destyds met drie boute vasgemoer. Selfs die plebs het hul bierglase misgedrink as hulle dit hoor.

Wat die Duster betref, was en is die realiteit egter heel anders. Uit die staanspoor was 2010 se nuweling taai en vermoënd.

Dit nou omdat die rol van eenvoud in ontwerp verander het nadat Dacia in 1999 deur Renault gekoop is.

Vóór die oorname had eenvoud net een doel: goedkoop wiele.

Ná die oorname het eenvoud 'n tweede funksie bygekry: om die beproefdheid van ou en basiese meganika tot betroubaarheid te omskep.

In 2005 het Renault boonop die planeet se grootste logistieke sentrum naby die Dacia-aanleg opgerig, vanwaar die ekwivalent van amper 'n miljoen voertuie per jaar in stukke na Renault-aanlegte in Rusland, Marokko, Indië, Iran, Argentinië, Brasilië en (vir Sandero 1) ook Suid-Afrika verskeep is; alles lande met 'n groot Derdewêreldse komponent.

In 2006 het 'n enorme ingenieursentrum genaamd Renault Technologie Roumanie in Boekarest gevolg, en toe met jaarlikse tussenposes 'n ontwerpateljee, die Sandero, die Duster-konsep en die Duster-produksiemodel.

Teen 2012-'13 het Renault hul meesterkaart gespeel deur “goedkoop” en “betroubaar” met moderne elektroniese stelsels, toerusting en tegnologie aan te vul.

En voilà! – die tweedegeslag-Sandero en -Stepway, asook 2013 se gekuurde Duster (wat laasjaar ter plaatse gebuig het).



Renault Duster

Omdat arm wêreldstreke se paaie en terrein dikwels rof en onbeskof is, bied die Duster – met sy mini-Hummer-houding – ook 'n 4x4-variant.

Baie brêgh met min binnegoed?

Jy sal verbaas wees. Hy's sout van die aarde, hierdie karnallie met sy boerse Galliese temperament. In 2012 ('n jaar voordat Renault SA begin het om die waentjie uit Indië aan te koop) is die Duster as die Britse Top Gear se “winskopie van die jaar” aangewys. Verrigtingsyfers, toegegee, klink so-so.

Maar die Duster (waarvan die gekuurde model sedert laat 2016 uit Roemenië, eerder as Indië, ingevoer word) is lig, die 8-klep-turbodiesel skouer van laag uit sy pens, grondvryhoogte meet 205 mm en die outjie is ten minste so taai soos hy lyk, wat taaier as sy mededingers is.

Nie een van dáái klompie (buiten die piepklein Jimny en tot 'n mate die Rene­gade) is wáárlik veldtuis nie.

Die Duster is.

Die alternatief wat Renault dus in die ­lewenstylmark bied, is doelgerigte wiele met goedkoop maar beproefde meganika en verrassend kontemporêre kommunikasie- en veiligheidstegnologie, op 'n eenvoudige maar deeglike onderstel wat gemak prioritiseer sonder dat hy dinamies uitmekaar val as jy begin aanstoot.

Dis 'n bekvol, maar met reg; die Duster is 'n vuisvol.



Renault Sandero

Dit as boendoes op jou agenda is.

Maar nou is dit nie en jy soek goedkoop luikwiele, soos 2008 se Renault Sandero wat tussen 2009 en 2014 in Nissan se ­Rosslyn-aanleg (net buite Pretoria) uit ingevoerde modules vir die plaaslike mark opgebou is.

In 2011 het Renault/Dacia ook 'n Sandero-afgeleide met 'n hoë pens, die Stepway, vir Derdewêreldse toestande losgelaat.

In 2014 het Sandero/Stepway 2 gebuig. Pleks daarvan om ingevoerde boustelle plaaslik aanmekaar te timmer, is Sandero/Stepway 2 van toe af ten volle uit Roemenië ingevoer.

Beide luikruggies het die mark op sy kop gekeer, maar nie net met hul kombinasie van basiese bekostigbaarheid en hedendaagse infovermaak nie, maar ook met 'n klein moderne ­turbo-enjintjie.

In teenstelling dus met die Duster wat steeds die klassieke formule volg – moderne elektronika maar ouer enjins, waarvan die 1.5-liter-dieselbron aangejaag word en die 1.6-liter-petrol nie – gebruik Sandero/Stepway 2 sedert 2014 reeds die Renault Clio se tegnies gevorderde 900 cc-drie­silinder-petrolturbo'tjie.

Twee en 'n half jaar later en die gekuurde Sandero/Stepway 2 is hier.



Sandero Stepway

Nes die gekuurde Duster, spog die gekuurde Sandero en sy tweelingboet-op-stelte, die Stepway, met 'n nuwe aangesig in moderne Renault-idioom.

Die Stepway is die voorste lit van jou duim hoër as die Sandero (193 vs. 164 mm-penshoogte) en hy's 'n pinkie se naellengte langer (4.072 vs. 4.059 mm), wat meebring dat sy 1 055 kg omtrent 10 kg swaarder as die Sandero is.

Laasgenoemde lewer dus effe beter verbruik plus 'n knerts meer ritgerief op dunner en kleiner wiele met hoër sywalle (185/65-R15's vs. 205/55-R16's). Mens sou ook dink dat die Sandero se laer lyf beter hantering waarborg, maar wat, 900 cc se krag is te min om selfs die hoër Stepway se onderstel te oorrompel, al is dinamika vir gemak eerder as hantering ingestel.

Om egter die idee van bolsjewistiese Oos-Europese wiele behoorlik nek om te draai, bied die Sandero/Stepway veiligheid- en infovermaaktegnologie van formaat (kassie 2) met funksies vir radio, foon, media, navigasie, 'n omgewingskaart en motorstellings wat alles maklik op 'n raakskerm benut kan word.

Toegegee dat paneelplastieke hard is en dat koolstofvesel-inlegsels rondom deurhandvatsels en op die middelkonsole fop is, maar dit vertoon goed.

Teen lae snelhede is die stuur egter 'n bietjie te swaar en dood, terwyl dit bo 100 km/h dalk 'n raps te lig raak.

En dan kry jy daai tipiese ou-generasie-5-gang-Renault-handratkas wat lomp, knobbelrig en selfs steeks deur gange beweeg, met oorblyfsels van tipiese Renault-skuifskok as die enjin teen sy monteerpunte beur, sou jy skielik die versneller los of trap.

Daar's ook nie plek vir 'n voetrus agter die pedale nie, maar in 'n hoë outjie soos die Stepway – waar jy regop sit met die sool van jou linkervoet plat op die vloer – is dit van mindere belang.

Uiteinde van die storie is dat die Sandero én Stepway aangenaam ry, verbasend goed hanteer, van toerusting oorloop, goeie ruimte lewer en die belofte van 'n lang lewe teen lae lopende koste bied, met dienste net elke 2 jaar/30 000 km.

Die Sandero dus, vir teerpaaie; hy's R15 000 tot R30 000 goedkoper.

Maar vir naweekuitstappies waar jy grondpaaie met hoë middelmannetjies moet kafdraf, maak die Stepway sin.



Kimi

Wat ons terug by Kimi Räikkönen bring.

Nadat hy in 2005 die Monaco-GP gewen het, is Kimi in 'n Renault Scénic na die TV-onderhoudsaal vervoer. Met die inklimslag moes die Kimster sy kop op 'n gegewe oomblik vinnig na agter terugruk, sodat die boonste buitepunt van die Scénic se oopswaaiende agterdeur hom nie in die gesig tref toe hy buk om in te klim nie.

Dis omdat Renault vir jare lank die rame van hul motordeure soos mosselskulpe oor die vaste motorstruktuur tussen die A- en C-pilare laat klamp het. Ander vervaardigers vestig eers die bakwerk tussen die A- en C-pilare as iets afsonderlik van die deure, asof die dak oor sy kante spoel, en pas dan die deurrame in die openinge wat oorbly.

Nie ouer Renaults nie, menende daar boog 'n stewige dik stuk bakgekleurde metaal met 'n skerp buitepunt (in stede van 'n dun raam) om die deure se vensters.

En dit kan 'n Picasso uit jou gesig kerf, as jy nie versigtig is nie!

Wat die res betref, is die Duster, Sandero en Stepway sout van die aarde met hul boerse Galliese temperamente; die toekoms van persoonlike vervoer in geknelde lande waar mense al meer en meer sal moet opoffer.

Of in F.A. Venter-taal: ons voorland, hierdie soort wiele.

Dit moet wees, want die bevolking groei vinniger as welstand. Meer en meer mense sal met minder en minder tevrede moet wees. Selfs die blitsige Mannetjies Roux sal nie kan bybly nie.

Pryse: Renault Duster – R240 000- R305 000; Sandero – R160 000-R175 000; Sandero Stepway – R190 000.



1. Enjins, ratkaste, en ­verbruik

Sandero/Stepway:

Die 898 cc-driesilinder-petrolbron (66 kW, 135 Nm; 0-100 in 11 s, topspoed 170 km/h; 5.2 liter/100 km) spog met 'n aluminiumblok, turboaanjaging en veranderlike kleptye. Dis 'n goeie moderne oondjie met genoeg verrigting vir alledaagse take, maar onder spanning is verbruik maklik 2 liter/100 km meer as amptelike syfers.

Die ou-geslag-5-g-handratkas is knobbelrig en primitief en in staan/gaan-verkeer kan progressie rukkerig raak as jy lugversorging aktiveer. Die koppelaar is ook robuus en ratio's kan beter, met 'n effe langer derde en korter vierde.

Op 'n gemiddeld kom jy egter maklik genoeg waar jy wil wees, terwyl die eko-modus se elektroniese beheer, volgens Renault, 12% petrol spaar.

Duster:

Voorwieldryf kom, via bogenoemde 5-g-handrat, uit 'n 1.6-liter-petrolbron (77 kW, 148 Nm) of 'n 1.5-liter-dCi-turbodiesel (80 kW, 240 Nm; 5 liter/100 km) wat 'n ou-geslag-6-g-handrat inspan om krag na voor of na al vier wiele te stuur, afhangend van model.



2. Toerusting

Duster:

Ná laasjaar se middellewekuur spog die Duster met 'n nuwe middelkonsole, nuwe materiaalbekleding, nuwe swart allooie, gemoderniseerde kop- en stertligte, kruisbeheer, kragvensters, wegry-deursluiting, 'n trukamera plus 7”-raakskerm met satnav, opsionele leer en drie dryfmodusse op die Dynamique 4WD-model: 2WD deur die voorwiele; Auto vir agterwielhulp as die voorwiele glip; en Lock om wring 50:50 tussen voor en agter te verdeel.

Sandero/Stepway:

Ná die middellewekuur spog die Sandero (op 15”-staalwiele) en Stepway (op 16”-vellings) met nuwe stilering om 'n ware Renault-identiteit via 'n groot Silwer Diamant-kenteken plus vierkantiger koplampe met C-vormige ligpatrone te skep. Die Stepway kry ook veldpassende visuele afwerking soos swart wielboë, misligte alom, dakrelings en skermplate.

Die Stepway se Dynamique-afwerking is indrukwekkend: lugversorging, kragstuur, voorste kragvensters, kruisbeheer, 'n raakskerm met satnav, parkeersensors, 'n leeroorgetrekte veelfunksie-stuurwiel, 'n agterruitveër en -ontwasemer, 'n CD plus Bluetooth/USB/hulpsok, klankbeheer op 'n stuurwielspriet, afstandbeheerde sentrale sluit, vier lugsakke, ABS-remme met EBD en BAS, traksiebeheer, stabiliteitsbeheer, staan/gaan-tegnologie en 'n heuwelhoufunksie.

Renault maak ook op die segment se grootste laairuim (amper 300 liter) en ruimste kajuit aanspraak, met gesplete agtersitplekke vir meer pakruimte.



3. Teenstanders

Sandero: Ford Figo, Toyota Etios, VW Polo Vivo.

Duster: 'n Paar Mahindras, GWM's, Honda se half-lewenstyler/half-veeldoeler genaamd BR-V en die Suzuki Jimny onder 'n kwartmiljoen plus 'n klomp fênsie-pênsies met voorwieldryf rondom 'n kwartmiljoen en hoër: die Renault Captur, Ford EcoSport 1.5, Fiat 500X, Peu­geot 2008, Mazda CX-3, Suzuki Vitara, Suzuki SX4 en, net onder R300 000, die Nissan Juke en Jeep Renegade.
– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!