Voet innie hoek by die Somerfees

Lloyd Zandberg
‘n Musiekfees is altyd ‘n treffer. Van die hordes feesgangers tot die boereworsrolletjies bly dit ‘n lekker ervaring. Dis weer tyd vir ‘n musiekfees in die hoofstad. Die Somerfees (Summer Music Festival) vind Saterdag 9 September by die SKW-sportgronde in Windhoek plaas.

Die Somerfees is deel van die loopbaanskou die #Festival.

Die drie dae lange fees bestaan uit verskeie aktiwiteite, aanbiedinge, uitstallings, skolesportkompetisies, sprekers, ‘n koorkompetisie en musiekoptredes.

Musiekliefhebbers, jongmense of enigiemand wat lus is om die litte bietjie los te maak, moet hierdie fees nie misloop nie.

Die Somerverhoog gaan met van die land se bekendste name ingekleur word. Feesgangers kan veral uitsien na plaaslike kunstenaars soos Just Jack, Monique English en Pyplyn. Die talent wat van Suid-Afrika ingevoer word, is Fatman, ’n deelnemer aan The Voice SA, en ADAM, die immergewilde musiekgroep.



Just Jack gaan die fees behoorlik aan die gang kry.

Hierdie Namibiese rockgroep is al vir jare besig om menige Namibiër te vermaak met hul tradisionele rockmusiek.

Just Jack (Paul Herbst, Wouter de Bruyn, Kevin Herbst en Tim Coetzer) het die weg in die plaaslike en Suid-Afrikaanse markte vir oorspronklike Namibiese, Afrikaanse rock gebaan.

Paul sê: “Just Jack is baie opgewonde om die verhoog weer te betree en sien baie uit na die Somerfees. Destyds het Republikein 'n groot rol in ons suksesverhaal gespeel. Dit was amper of hulle heroes van ons gemaak het. Feesgangers kan uitsien na 'n aand van lekker Afrikaanse rockmusiek."

Monique English is geen vreemdeling in die vermaakbedryf nie. Sy sing al vandat sy nege jaar oud is en die saad vir sukses is al op dié jong ouderdom by haar geplant. Dit was nie lank voor Monique besef het sy kan ‘n loopbaan uit haar talent maak nie.

Haar debuutalbum, Since 1994, is ‘n baanbreker in Namibiese popmusiek. Monique het al saam met ander musikante en suksesvolle Namibiërs musiek gemaak.

Hulle sluit onder andere in KK, KP Illest, Desmond en Ann Singer.

Monique gaan die hartsnare roer. Hierdie elegante vrou is versot op Rihanna en dink selfs sy klink ’n bietjie soos sy.

Adam het geen bekendstelling nodig nie. Adam gaan ook die liedjie wat hulle vir Republikien se 40ste verjaardag geskryf het, by die Somerfees bekend stel.

Hulle is baie opgewonde om “Ons land, Ons taal” met feesgangers te deel.

Die groep bestaan uit die akteur Reynardt Hugo (dr. Tertius Jonker van Binnelanders), die sanger Kyle Grant, en die Namibiese musikant Hugo Ludik. Hugo was besig om regte aan die Universiteit van Stellenbosch te studeer toe sy liefde vir musiek die oorhand kry.

In daardie stadium het Hugo al vir meer as agt jaar kitaar gespeel, maar nog nooit sy sangtalent ten toon gestel nie.

In Oktober 2008 wen Hugo Huisgenoot Tempo se eerste liedjieskryfkompetisie met “Papsopwinterwaternat”, wat hy en sy vriend Willie van der Merwe geskryf het en wat later deur Kurt Darren opgeneem is.

Reynardt het in 2005 as 18-jarige met sy dramagraad aan die Universiteit van Pretoria begin.

Dit is hier waar hy die fynere kunsies van teater en musiekteater geleer het, asook ’n passie ontwikkel het vir die uitvoerende kunste.

Kyle is veelsydig, opwindend en reg om sy plek in die Afrikaanse musiekbedryf vol te staan.

Hy het grootgeword in ’n musikale gesin. Hy het in die kerk begin sing en aan baie sangkompetisies deelgeneem. Kyle het in 2011 saam met Laurika Rauch se musiekblyspel Stuur Groete aan Mannetjies Roux deur die land getoer.

In 2012 het hy die wêreld volgereis as Billy Kostecki (hoofsanger) in Dirty Dancing - The Musical en het daarna die rol van Artie Green in die eerste Suid Afrikaanse produksie van Sunset Boulevard in 2013 vertolk.

Die meeste Suid-Afrikaners weet wie Fatman is. Sy regte naam is Johan Brummer, maar hy verkies dit as mense na hom as Fatman verwys.

Fatman is bekend vir sy deelname aan die gewilde TV-reeks The Voice SA.

Hy het eers ‘n konstruksiemaatskappy besit.

Maar toe hy nie met die hamers en spykers regkom nie, het hy besluit om weer aan sy musiekloopbaan aandag te gee.

Fatman se gunstelingkunstenaar en held is Elvis Presley en hy ken al sy musiek. Hy sê spottenderwys sy gunstelingliedjie is “Maak die Bulle almal Bokke”.

Pyplyn (Zirk Jansen, Stefan Steyn, Rian Snyman en Enrico Tagliaferri) is bekend vir hul lirieke wat gewoonlik oor liefde, eensaamheid en om plastak te wees gaan.

Hul debuutalbum, Als ini pyplyn, was ‘n reusesukses en ‘n baanbreker in die Afrikaanse musiekbedryf.

Zirk Jansen, liriekskrywer, sanger en kitaarspeler van die groep, sê: “Dis 'n reusevoorreg om die geleentheid te kry om die Pyplyn-treffers weer af te stof en lewe te gee. Dis opwindend om die lirieke weer uit te basuin oor reuseluidsprekers voor 'n gehoor. Nostalgie!"

Jansen is ook bekend vir die ondersteunersliedjie wat hy vir die Welwitschias geskryf het vir die wêreldbekerrugby. Pyplyn sê hul sukses is te danke aan die mense wat hul shows gaan kyk.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!