Vol winkelrakke kom met 'baie, baie opofferings'
Die Namibië Logistiekvereniging sê die lae voorkoms van Covid-19 onder lorriedrywers toon die bekampingsmaatreëls werk.
Ronelle Rademeyer
Afgevaardigdes van die vervoer- en logistiekbedryf in Namibië het gister met die inspekteur-generaal van die polisie, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, vergader oor die moeilike omstandighede waaronder langstand-lorriedrywers hul werk verrig.
Die vergadering is gereël nadat die stigmatisering van lorriedrywers en die feit dat hulle by grensposte en padblokkades stief behandel word, tydens een van die besprekingsessies by die Covid-19-kommunikasiesentrum (CCC) geopper is.
Mnr. Harald Schmidt, sekretaris-generaal van die Namibië Logistiekvereniging (NLA), het die vergadering as positief beskryf en sê twee belangrike besluite is geneem.
Die een is dat die bedryf 'n lys sal opstel van plekke waar lorriedrywers wat vragte oorgrens vervoer, mag stilhou om kos en ander voorrade wat hulle langs die pad benodig, aan te skaf.
Hierbenewens sal Ndeitunga namens die polisie wat die handhawing van Covid-19-bekampingsmaatreëls reguleer, aan instellings soos handelsbanke, versekeraars en munisipale owerhede skryf om lorriedrywers se onvermoë om na die administrering van hul persoonlike sake om te sien, te verduidelik.
“Die langafstanddrywers is op die pad en wanneer hulle nie vragte vervoer nie, is hulle in kwarantyn. Hulle kan nie soos ander mense na banke gaan of versekeraars besoek om hul persoonlike sake te reël nie.
“Hulle kan ook nie hul munisipale rekenings gaan betaal of toesien dat hul kinders se skoolgeld betaal is nie,” sê Schmidt. “Dit is hard op hulle. Onthou, hierdie mense sien nóóit hul families nie.”
Volgens hom besef Namibiërs nie hoe groot die opoffering is wat lorriedrywers maak sodat winkelrakke kan vol bly en noodsaaklike lewensmiddele deurgaans beskikbaar is nie.
“Ons het sover drie lorriedrywers gehad wat positief vir die coronavirus getoets het. As 'n mens dit in konteks sien van die 1 200 tot 1 800 vragmotors wat per dag oorgrens beweeg, is dit eintlik baie min,” sê Schmidt.
“Iets doen ons beslis reg. Die lorriedrywers kyk goed na hulself en aan die eienaars (van vervoermaatskappye) se kant word alles ook reg gedoen,” meen hy.
Schmidt sê die maatreëls wat toegepas word, werk en kan ongelukkig nie aangepas word om dit vir die bedryf makliker te maak nie.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie