Voëlgidsboek vir almal

Peter Reiner se My first book of Namibian Birds word op 13 September by Die Muschel op Swakopmund bekend gestel.
Minette Brink
Francoise Steynberg - Die skrywer en uitgewer Peter Reiner sê sy My first book of Namibian Birds is op jong lesers en amateurs gemik.

Dit is inderdaad 'n toeganklike, opvoedkundige voëlgids vir kinders, jongmense en 'n lekevoëlkykers soos ek.

Ek was al saam met gesoute, kundige voëlkykers op reis in Afrika en dit was vir my 'n pyn om ure saam met hulle om een skaars voëltjie te koer. Hulle lê met hul duur kameras en lang lense op die grond om die voëltjie te kiek - van die vere en die pote tot die snawel en oog.

Teen daai tyd wou ek al 'n bier gedrink en die sonsondergang bewonder het.

Namibië spog met 'n diversiteit van gevlerkte spesies. Net in die Noordooste is 400 voëlspesies. Ek gaan hulle nooit almal ken nie, nog minder hul wetenskaplike name en hoe hulle kwetter.

Daarom is Reiner se voëlgids vir my so fantasties.

Die 60 bladsye spog met 120 foto's van 42 Namibiese voëls, meestal deur Reiner se lens afgeneem. Hy beskou homself as 'n kranige fotograaf wat die voëls op sy reise deur die land gekiek het.

Die boek is in kategorieë van verskillende voëlsoorte verdeel: See-, water-, jag-, veld- en bosvoëls.

Die inligting word interessant verskaf oor hoe die voëls lyk, hul verspreiding, habitat, dieet, broeipatrone, geluide en watter roofdiere op hulle jag maak.

Belangrike feite soos hul grootte, gewig, vlerkspan en maksimum ouderdom bereik, is ook beskikbaar.

Nog ouliker is dat die name van die voëls nie net in Engels beskikbaar is nie, maar ook in Afrikaans, Duits en Oshiwambo.

Die boek word in maklike, toeganklike taal aangebied, dus hoef niemand met groot woorde te sukkel nie.

Die kennistoetsvraag by elke voël is 'n treffer. Soos: Het jy geweet daardie mooi, kleurvolle rooiwangparkiete (rosy-faced lovebirds) is een van slegs nege parkietspesies wat in Suider-Afrika voorkom?

Ek het ook nie geweet bosluise is van tarentale se gunstelinghappies nie, of dat gompoue klippe sluk om te help met hul spysverteringstelsel nie.

Wys jou net, 'n mens is nooit te oud om te leer nie. Daarom is hierdie voëlgids vir hierdie leek perfek.

Die boek lê nou op my stoep van waar ek die voëls in die kameeldoringbome en voëlbad dophou.

Reiner se eerste boek in sy natuurreeks, My first book of Namibian Mammals, was ook 'n treffer, met die tweede druk wat byna uitverkoop is. Hy werk tans aan die hersiene weergawe daarvan.

Die boeke word deur Reiner se uitgewersmaatskappy, Wordweaver Publishing, uitgegee wat ook die Namibiese topverkoper Mama Namibia gepubliseer het.

Die boeke is by alle Namibiese boekwinkels beskikbaar.

Swakopmunders, moenie die amptelike bekendstelling van My first book of Namibian Birds op Vrydag 13 September om 18:00 in Reiner se boekwinkel, Die Muschel, misloop nie.

Nog 'n bonus is dat die bekende Margaret Jacobsohn se uitstekende, meesleurende Life is like a kudu horn terselfdertyd bekend gestel gaan word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!