Vou00eblgriep dalk in Namibiu00eb
Vou00eblgriep dalk in Namibiu00eb

Voëlgriep dalk in Namibië

Adam Hartman
Adam Hartman en Erwin Leuschner – Nadat voëlgriep in Suid-Afrika in die Wes-Kaap etlike maande gelede uitgebreek het, bestaan die vrees tans dat seevoëls langs die Namibiese kus dalk ook geraak is. In Suid-Afrika het ’n geskatte 25 000 voëls gevrek.

Die laaste paar weke is talle gevalle van siekte, vrektes of voëls wat besig is om te vrek in Walvisbaai en Swakopmund en tussen dié twee dorpe aangemeld. Veral kormorante en seeswaeltjies word geraak. Die omgewingsbeskermingsorganisasie Lüderitz Marine Research (LMR) het ‘n waarskuwing uitgereik.

“Sedert verlede Donderdag is daar uiters kommerwekkende berigte oor dooie en sterwende kormorante en ander seevoëlspesies in die omgewing van die Guano-platform Bird Rock noord van Walvisbaai ontvang,” het me. Jessica Kemper van LMR gesê.

Volgens haar sluit tipiese simptome van voëlgriep mak of lomerige gedrag, swakheid, ’n onvermoë om regop te sit of staan, stuiptrekkings, aanvalle en in sommige gevalle slym op die snawel of om die oë in.

“Ongelukkig is die behandeling van ‘n besmette voël nutteloos en kan dit bydra tot die verspreiding van die siekte. Hoewel voëlgriep ‘n baie lae gesondheidsrisiko vir mense inhou, kan mense wat in aanraking met ’n siek voël was die hoogs aansteeklike siekte aan ander voëls oordra. Voëls moet dus asseblief nie deur die publiek hanteer word nie.”

Volgens haar het die staatsveearts van Walvisbaai reeds monsters van verskeie dooie voëls geneem en vir ontleding na ’n laboratorium gestuur. Die uitslae is nog nie bekend nie. Die rede vir die huidige voëlvrektes is dus nog nie bekend nie en Kemper hoop dat daar dalk ’n ander verklaring is.

Dit sal egter nie die eerste keer wees dat voëlgriep na Namibië versprei nie. Sowat drie jaar gelede het omtrent 600 pikkewyne by Lüderitz daarvan gevrek.

Omdat pikkewyne en kormorante naby aan mekaar leef, versprei die siekte maklik van die een voëlsoort na die ander.

Volgens haar is ‘n massamoord van pluimvee in die naburige Suid-Afrika uitgevoer om die siekte in bedwang te bring.

Volgens Naude Dreyer van die omgewingsorganisasie Ocean Conservation Namibia (OCN) is omtrent 20% van die kormorantbevolking in Suid-Afrika deur die virus uitgewis.

“Daar word vermoed dat die virus van daar afkomstig is,” het hy gesê.

Volgens hom is daar nou en dan enkele gevalle van dooie seevoëls, maar “die huidige getalle van dooie en siek voëls is baie kommerwekkend.”
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!