Vou00eblgriep kan vleispryse weer opdruk
Vou00eblgriep kan vleispryse weer opdruk

Voëlgriep kan vleispryse weer opdruk

Hanlie Stadler - Die styging in die groothandelprys van kos in Suid-Afrika verlangsaam, maar die impak van voëlgriep hang soos ’n skadu oor die res van die jaar.

Veral eierpryse gaan na verwagting na die einde van die jaar toe al hoe skerper styg omdat veral die land se lêhen-bevolkings deur die H5N8-epidemie geraak is.

Daarby is Wandile Sihlobo, ekonoom van die landbousakekamer Agbiz, nog nie seker of die slagtalle van beeste en skape volhoubaar styg, en dus die styging van rooivleispryse in toom sal hou nie.

Kospryse op fabrieksvlak het in September met 1,3% gestyg, het Statistieke Suid-Afrika (SSA) Donderdag bekend gemaak. Dis die jaarkoers en vergeleke met ’n jaarkoers van 1,9% in Augustus.

Vleis- en vleisprodukte het verwerkingsaanlegte 16,5% duurder verlaat as ’n jaar gelede, wat ’n effense verbetering is van die 16,8% in Augustus en Julie se 17,8%.

Meelpryse hou aan daal en kos nou op groothandelvlak 18,4% goedkoper as ’n jaar gelede.

Die oorhoofse produsenteprysindeks (PPI) vir finaal vervaardigde goedere was in September 5,2%, vergeleke met 4,2% in Augustus.

Die PPI vir intermediêr vervaardigde goedere het minimaal gestyg, tot 2,1% (2%).

Daar was ’n skerp styging in die PPI vir krag en water tot 6% (van 2,6%) en van mynbou tot 9,5% (1,1%).

Die PPI vir landbou, bosbou en visserye het ook skerp gestyg tot 2% nadat dit in Augustus -0,9% was. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer