Volksmoord-nasate wysig klagstaat teen Duitsland
Die Ovaherero- en Nama-groepe eis dat Duitsland die klaers nie verder van deelname aan die onderhandelinge oor die volksmoord uitsluit nie.
Die Amerikaanse regspan wat namens die Ovaherero- en Nama-nasate van slagoffers van die volksmoord optree, het die klagstaat teen Duitsland gewysig wat voor ‘n New Yorkse distrikshof dien.
Volgens die regsverteenwoordiger van die groep, mnr. Kenneth McCallion, gaan die groep voort om namens alle Ovaherero- en Nama-mense “regstellende geregtigheid vir die aaklige volksmoord en onwettige beslaglegging op eiendom in skending van die internasionale gereg” van Duitsland te eis.
Nadat Duitsland se ambassadeur in Namibië, mnr. Christiaan Schlaga, vroeër aangedui het Duitsland het nie die lasbriewe vir ‘n verskyning in die hof in New York in ontvangs geneem nie en geen rede sien om ‘n regsgeleerde af te vaardig om dié soewereine land in ‘n ander land te verdedig nie, het Duitsland met die vorige hofsitting vroeër vanjaar wel ‘n regsgeleerde aangestel.
Duitsland betwis die Amerikaanse hof se jurisdiksie in die saak.
In die gewysigde klagstaat eis die Ovaherero- en Nama-groepe dat Duitsland nie verder die klaers van deelname aan die onderhandelinge oor die volksmoord uitsluit nie.
Dit is volgens McCallion ‘n skending van internasionale reg, insluitende die Verenigde Nasies se verklaring oor die regte van inheemse mense om namens hulself deel te neem en in gesprek te tree oor sake wat verband hou met die verliese wat hulle gely het.
McCallion sê Duitsland se beleid van uitwissing van die Ovaherero en Nama tussen 1904 en 1908 toon in terme van praktyk en beleid, wat massa-uitwissing, konsentrasiekampe en mishandeling van ‘n geteikende bevolkingsgroep insluit, heelwat ooreenkomste met hoe Duitsland tussen die 1930’s en 1940’s die Jode in die Tweede Wêreldoorlog probeer uitwis het.
“Toe die Duitse koloniale owerhede rondom 1885 in suidwestelike Afrika aangekom het, het hulle verskeie ooreenkomste met die soewereine Ovaherero- en Nama-mense gesluit wat grond besit het. Duitsland het later hierdie ooreenkomste geskend en verkeerdelik verklaar dat die Ovaherero en Nama se tradisionele grond ‘Duits-Suidwes-Afrika’ was,” sê McCallion in ‘n nuusverklaring.
Volgens die gewysigde klagstaat het Duitsland wederregtelik die grond, edelgesteentes, waardevolle minerale-neerslae en ander eiendom afgevat, sonder dat regverdige vergoeding daarvoor betaal is.
Boonop het Duitsland en sy agente stelselmatig Ovaherero- en Nama-mans, -vroue en -kinders mishandel, aan slawerny onderwerp en vermoor, asook Ovaherero- en Nama-vrouens en -kinders verkrag.
Regter Laura Taylor Swain het die gewysigde klagstaat aanvaar. Sy was op die bank toe die klaers hul eerste klagstaat op 5 Januarie verlede jaar voor die hof gebring het.
“Duitsland het geweier om in die saak te verskyn tot 25 Januarie 2018, ondanks dagvaardings wat by verskeie geleenthede op onder meer die Duitse ambassade in Washington en deur die Amerikaanse departement van buitelandse sake en die Amerikaanse ambassade in Berlyn op die Duitse ministerie van buitelandse sake bedien is,” sê McCallion.
In die gewysigde klagstaat word aangevoer Duitsland het sommige menslike oorblyfsels van die volksmoord, waarin minstens 100 000 Ovaherero- en Nama-mense tussen 1904 en 1908 dood is, onwettiglik na Duitsland geneem en onder meer aan die Amerikaanse museum van natuurlike geskiedenis in New York verkoop, waar dit steeds vandag is.
“Ondanks die onberekenbare kulturele, intellektuele, godsdienstige en geestelike verliese van die Ovaherero en Nama, het Duitsland deurlopend en kategories die wettige verteenwoordigers van die Ovaherero en Nama uitgesluit van onderhandelinge tussen Duitsland en Namibië en volgehou in hul weiering om enige vergoeding aan die Ovaherero en Nama te betaal vir die katastrofiese verliese wat hulle gely het,” sê McCallion.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie