Volksmoordraad aangevat
Volksmoordraad aangevat

Volksmoordraad aangevat

Jemima Beukes
Jemima Beukes - Pres. Hage Geingob het die lede van Ovaherero-, Ovambanderu- en Nama-rade vir die dialoog oor die 1904-volksmoord (ONCD) berispe omdat hulle hom gevra het om opperhoof Vekuii Rukoro se heer­skappy te veroordeel.

Geingob het vir die afvaardiging van die ONCD gesê daar is nie 'n manier dat die regering 'n derde van sy tyd aan tradisionele owerheid-dispute kan bestee, terwyl daar groter kwessies is wat hanteer moet word nie.

Hy het beklemtoon dat Namibië 'n demokrasie is met geen plek vir koninkryke met konings en koninginne nie en dat daar na tradisionele leiers verwys moet word ingevolge hul landstale soos “Gaob”, wat Damara is vir “hoof”.

Geingob het gesê Rukoro het self in sy tyd as prokureur-generaal die woord “opperhoof” uitgesluit.

“Gaan ons gebind word met 'n twis oor titels? So ons het in Engels gesê daar is geen opperhoof nie. As jy pro­bleme het, gaan dan hof toe. Hy lei sy mense. Hy het 'n gevolg. Jy gaan begrafnisse toe en sien 'n skare. Julle moet opstaan en hom uitdaag. Ons kan nie vir julle veg nie, die regering is 'n arbiter,” het hy gesê.

Die groep het gister besoek aan die president afgelê om te gesels oor hul struikelblokke met die regering.

Mnr. Willem Konjore, wat namens die groep gepraat het, het gesê Rukoro “spog” met sy titel as opperhoof. Hy het ook die feit gekritiseer dat die Staatskoerant Rukoro se amp as opperhoof bevestig het en verwarring saai.

Volgens hom demonstreer die aksie wat teen die Duitse regering oor die 1904-08 volksmoord op die Nama en OvaHerero gebring is, die ware gevaar wat Rukoro se hoofmanskap kan veroorsaak.

“'n Erkende hoofman wat toegelaat word om die titel 'opperhoof' te gebruik, sal dispute onder ons gemeenskappe veroorsaak, veral onder die OvaHerero en die OvaMbanderu. Die ONCD vra dus die president om stappe te neem om dié situasie te verander in die belang van alle Namibiërs,” het Konjore gesê.

Intussen het Konjore die president ingelig dat hoofmanne wat saam met die kantoor van die visepresident, dr. Nickey Iyambo, werk, nie behoorlik erken word nie.

Volgens hom word daar eenvoudig na die hoofmanne verwys as 'n informele liggaam wat hulle as minagtend sien.

Die hoofmanneforum is een van die verteenwoordigende komitees wat gestig is om die regering in te lig oor die volksmoord-onderhandelings.

“Hierdie soort behandeling van die visepresident help ons vyande en gee ammunisie aan diegene wat ons wil sien faal,” het Konjore gesê.

Rukoro se woordvoerder, mnr. Bob Kandetu, het gesê hulle is nie ingelig oor die ONCD se kommer oor Rukoro se opperhoofmanskap nie en kan dus nie kommentaar lewer nie.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer