Volle rommelstatus dreig ná skoksyfers
Dis nie óf nie, dis wanneer: Suid-Afrika gaan byna vir seker binne die volgende vier maande ten volle tot rommelstatus afgegradeer word.
Maarten Ackerman, hoofekonoom en adviserende vennoot van Citadel, sê die syfers in die mediumtermyn-begrotingsraamwerk (MTBR) wat Malusi Gigaba Woensdag in die parlement ingedien het, “regverdig 'n afgradering”.
Prof. Raymond Parsons van die Noordwes-Universiteit sê ook die risiko is wesentlik dat Suid-Afrika weer afgegradeer gaan word.
Staatskuld is reeds by Fitch Ratings op rommelstatus, maar Moody's Investors Service en Standard & Poor's Global Ratings (S&P) gee Suid-Afrika nou al lank die voordeel van die twyfel. Staatskuld in alle geldeenhede is nog op beleggingsgraad by Moody's, terwyl staatskuld in rand nog op beleggingsgraad is by S&P.
Al die kredietgradeerders besluit einde November of begin Desember.
'n Afgradering sal die rand laat verswak en die ekonomie, en dus die staat se geldsake, verder bedreig.
Ackerman waarsku egter dat Suid-Afrika in 'n “gevaarsone” is en enige “politieke verrassing” – soos nóg 'n kabinetskommeling – kan meebring dat die land onmiddellik afgegradeer word. Toe Pravin Gordhan einde Maart as minister van finansies afgedank is, het Fitch en S&P Suid-Afrika binne dae afgegradeer.
Die gradeerders sal Suid-Afrika dalk tot ná die ANC-konferensie in Desember grasie gee om te kyk of daar enige politieke bestendigheid intree wat die land se ekonomie 'n hupstoot kan gee. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie