Von Bach 39% voller

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Die Hardapdam is vanoggend 14,2% vol, terwyl die Von Bachdam oornag van 68,6% na 77,8% gestyg het.

Gisteroggend om 08:00 het die Hardapdam nog op 11,3% gestaan. Dit beteken dié twee damme het sedert die afgelope Maandag met onderskeidelik 7,7% en 39% gelig.

Die Namibiese Baarshengelvereniging (NBAA) was die eerste om vroegoggend foto's op hul Facebookblad van die veel voller Von Bachdam te deel. Dié vereniging hou vandag sy tweede nasionale toernooi vir die jaar by dié dam.

Intussen het kleinhoewe-eienaars buite Okahandja gisternag weer 'n stryd gevoer om die Swakoprivier weg van mnr. James Roux se eiendom te probeer hou. Hy en sy gesin het ‘n noue ontkoming gehad toe dié rivier Donderdagaand deur hul kleinhoewe gestroom het en hul huis, fabrieke en kantore oorstroom het.

Roux het vanoggend aan Republikein gesê die gemeenskap het hom Vrydag gehelp om 'n wal te stoot sodat die rivier nie weer sy eiendom oorstroom nie, maar om 14:00 gistermiddag het die water wéér deurgebreek. Daar is opnuut aan die werk gespring en om 16:00 het die water opgehou om deur sy eiendom te stroom, maar laasnag het die rivier vir die hoeveelste keer deur die wal gebreek.

"Die rivier loop nou letterlik langs my huis verby. Sy oorspronklike loop is droog. Ons gaan maar weer stoei vandag, ons hoop ons kry die water teruggelei na die oorspronklike rivierloop," het Roux gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer