Von Bach se sluise dalk gou getrek
Von Bach se sluise dalk gou getrek

Von Bach se sluise dalk gou getrek

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - NamWater se Von Bachdam-bestuurder, mnr. Frans Ihuhua, het ‘n kennisgewing aan belanghebbendes uitgestuur dat die Von Bachdam se sluise dalk reeds vannag of vroeg Saterdagoggend getrek kan word om “’n bietjie water uit te laat”.

Dit blyk die dam se vlakke was om 01:00 vanoggend digby 95% en dit het ‘n sterk invloei van water vanaf die Swakoprivier uit die Midgard-omgewing gehad. Die vermoede was dat dit binnekort die 100%-merk sou bereik.

Omstreeks 20:00 Vrydagaand het die dam reeds die 92%-merk verbygesteek en om 16:00 was dit 89,5% vol.

Persone wat in dié omgewing bly is in kennis gestel om voorbereid te wees en die nodige noodmaatreëls te tref. Indien die sluise getrek word, beland die water in die Swakoprivier, wat na die Swakoppoortdam gaan. Die Swakoppoortdam was Vrydagoggend om 08:00 48,6% vol en het ook steeds water ontvang.

NamWater het in 2011 ook die Von Bachdam se sluise getrek en voor dit in 2006.

Intussen het ‘n swaar reënbuie in veral sentrale dele van die land neergesak. Osona Eggs se kleinhoewe buite Okahandja, wat aan mnr. James Roux behoort, is tans wéér onder water. Dit, ten spyte van dae lange werk om keerwalle te gooi en die rivier uit sy eiendom te hou.

Roux het laat weet hy is bekommerd daaroor dat Von Bachdam se sluise ook nog getrek kan word. Intussen het die Gammamsrivier in Windhoek ook amok gesaai toe dit bo-oor ‘n pad gespoel het en die kantreëling afgebreek het.

Oshikango is ook onder water ná sowat 150 mm volgens berigte reeds vandag daar uitgesak het.

Die weerkantoor het die afgelope Donderdag gewaarsku dat swaar reën die naweek verwag word.

Wydverspreide, kwaai storms, wat meer as 80 mm se reën op ’n slag kan bring, kan vandag, môre en Sondag in die sentrale noordelike dele van die land voorkom, het die weerkantoor se hoofvoorspeller, mnr. Odillo Kgobetsi laat weet.

Ook geld ’n waarskuwing teen daaglikse storms van meer as 50 mm vir die Kavango-Wes-, Kavango-Oos-, Otjozondjupa-, Khomas- en Hardapstreek, asook vir dele van die Kunenestreek

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer