Von Bachdam op sy eie
Von Bachdam op sy eie

Von Bachdam op sy eie

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - NamWater sê dit sal binne weke die punt bereik waar water nie meer van die Swakoppoort- en Omatakodam na die Von Bachdam sal kan oorskuif nie, omdat eers­genoemde twee damme bykans leeg is.
NamWater se streekbestuurder in Khomas, mnr. Koos Theron, het gister aanRepublikein bevestig dat hulle reeds sukkel om die orige water uit die Swakoppoortdam te trek, terwyl die Omatakodam volgens sy berekeninge­ binne twee weke dolleeg kan wees.
Die drie damme wat Windhoek van water voorsien, het tans net 11,1% of 17,336 miljoen kubieke meter (Mm³) water oor, vergeleke met 12,4% of 19,353 Mm³ ’n maand gelede. Die damme hou dus gesamentlik 2,017 Mm³ minder water in as ’n maand gelede.
Volgens NamWater se jongste damverslag het die Von Bachdam tans 20,5%, of 9,974 Mm³ water oor, met Swakoppoort wat nou 10% vol is (6,356 Mm³) en die Omatakodam wat nog 2,3% of 1,006 Mm³ water oor het.
“’n Noodinstallasie in die Omatako­dam help om die laaste 1,006 Mm³ na Von Bach oor te plaas. Danksy dié installasie kan ons die Omatakodam leegtrek. Dit ontvang egter steeds ’n klein bietjie water via die kanaal vanaf die Noorde,” het Theron gesê.
Dié water word egter met pype direk vanuit die kanaal na Von Bach gepomp en beland nie binne die dam nie. Die water wat tans in die Omatakodam oor is, is nog vanweë ’n bietjie reën.
Theron het gesê NamWater sal binne die volgende twee weke dieselfde noodinstallasie by die Swakoppoortdam aanbring sodat die laaste bietjie water uit die dam onttrek kan word.
“Die water sal egter van daar af net vir Karibib en die Navachabmyn aangewend word. Ons bereik dus nou ’n punt waar ons nie meer die water kan oorskuif nie,” het Theron gesê.
Theron het gesê NamWater loop hulle egter nou telkens vas teen ­verskeie tegniese probleme omdat hulle nog nie werklik voorheen in ’n situasie was waar die damme só leeg was nie.
Wateroorplasings van Swakkoppoort na Von Bach, asook van Omatako na Von Bach word lank reeds volhou, om sodoende al die water in een dam te kry en verdamping te minimaliseer. Volgens die jongste voorspellings kan die Von Bachdam egter teen November vanjaar leegloop. Theron sê die dam was 20 jaar gelede, in 1996, laas leeg.

SUIDEDAMME VOLLER
Teen 37,8% hou die Hardapdam tans die meeste water met ’n volume van 111,225 Mm³.
Terselfdertyd is die Goreangabdam teen 97,5% (3,530 Mm³) die volste dam in die land, maar té besoedel dat daar van sy water gebruik gemaak kan word.
Die Nautedam is 87,6% (73,202 Mm³) vol.
Die Friedenaudam het 29,9% of 2,007 Mm³ water oor, met die Otjivero­dam wat 41% (4,017 Mm³) vol is. Tilda Viljoen en Daan Viljoen het onderskeidelik 38,5% (0,471 Mm³) en 39,2 (0,168 Mm³) water oor.
Die Oanobdam het 11,540 Mm³ of 33,4% water oor en die Olushandjadam 24,1% of 10,221 Mm³.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!