Voorkom verdeeldheid, pleit Hage op Heldedag
Voorkom verdeeldheid, pleit Hage op Heldedag

Voorkom verdeeldheid, pleit Hage op Heldedag

Die president het 'n beroep op die volk vir patriotisme, trots en pligsbesef gedoen.
Augetto Graig
Augetto Graig



Dié wat Namibië se vryheid ingelui het, moes 'n pad stap wat die toekomsgeslag nooit sal ken nie.

Met hierdie woorde het president Geingob gister se Heldedagvieringe op Otjiwarongo amptelik geopen.

“Jong mans en vroue het die oorlogsarena betree en ander se vryheid beskerm deur hul eie veiligheid en welstand agter te laat,” het Geingob gesê.

“Hul dapper dade op die strydfront het ons nasionaliteit en soewereiniteit gewaarborg. Hul toewyding aan hul mense en hul land, hul onwrikbare vasberadenheid in die dood se aangesig en hul bereidwilligheid om die grootste opoffering van alles te maak, onderskei hulle as reuse onder mense,” het hy gesê.

Geingob het na Namibië se lang vryheidstryd verwys, asook die vele dodelike veldslae wat oor die jare ver­skeie lewens geëis het.

Volgens die president het die Internasionale Geregshof se afkeuring van die versoek dat Suid-Afrika se misbruik van hul mandaat op Namibië moet stop, die hoop op 'n vreedsame resolusie tot Namibiese onafhanklikheid in duie laat stort.

“Ons het gou besef Namibië se onafhanklikheid gaan nie deur 'n versoekskrif bereik word nie, maar deur die koeël.

“Hierdie wending het wyle comrade Peter Nanyemba, een van ons dapper seuns en voormalige bevelvoerder van die People's Liberation Army of Namibia (Plan), aangespoor om te verklaar: Ons is ons eie bevryders.

“Kom ons bring hulde aan dié wat vir ons vryheid moes omkom deur die nuwe gesprek wat ons in Namibië aangeknoop het oor eenheid, deursigtigheid en aanspreeklikheid te verwelkom. Alle Namibiërs moet hande vat om armoede en korrupsie te beveg, terwyl ons na die doelwit van gesamentlike welvaart streef,” het hy gesê.

“Laat ons op hierdie Heldedag onsself daartoe verbind om hande te vat en saam te werk om ekonomiese transformasie in Namibië te bewerkstellig.

“Dit is nie net 'n dag om die onselfsugtige opofferings van die verlede te herdenk nie, maar ook om ons patriotisme te bevestig en 'n ware gevoel van trots en pligsbesef teenoor ons volk te bevorder,” het die president gesê.

“Ons moet ons swaarverdiende vryheid beskerm deur alle vorme van haatspraak, etnisiteit, stamgebondenheid, rassisme en verdelende taal te verwerp wat geweld aanhits. Die is ons land, die enigste land wat ons 'huis' kan noem. Die beskerming van Namibië vir ons toekomsgeslagte is 'n gesamentlike verantwoordelikheid,” het Geingob gesê.

Hy het gesê sy onlangse stadsaaltoer het die gees van eenheid en patriotisme in die land aan hom bevestig.

“Ek het net lof vir die baie Nami­biërs van alle oorde wat met volwassenheid, verdraagsaamheid en empatie met mekaar deelgeneem het,” het hy gesê.

“Ons bedank almal, die lewendes en die oorledenes, die veterane en die helde en heldinne van ons bevrydingstryd,” het hy gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-01-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 30° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 21° | 29° Ruacana: 20° | 33° Tsumeb: 18° | 28° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 19° | 29° Windhoek: 19° | 28° Gobabis: 20° | 25° Henties Bay: 17° | 21° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 22° Rehoboth: 20° | 29° Mariental: 20° | 31° Keetmanshoop: 19° | 32° Aranos: 20° | 29° Lüderitz: 16° | 27° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 16° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 29° Lubumbashi: 18° | 20° Mbabane: 19° | 30° Maseru: 17° | 19° Antananarivo: 14° | 29° Lilongwe: 19° | 24° Maputo: 26° | 40° Windhoek: 19° | 28° Cape Town: 18° | 22° Durban: 22° | 27° Johannesburg: 18° | 24° Dar es Salaam: 25° | 29° Lusaka: 18° | 24° Harare: 17° | 22° #REF! #REF!