Voornemens vir die res van die jaar
Ons beweeg nader aan die middel van die jaar en ek dink dis veilig om te sê baie van ons nuwejaarsvoornemens is lank reeds vergete.
Jy kon dalk vir ‘n week jouself probeer oortuig kougom is ‘n goeie plaasvervanger vir sigarette.
Heeltemal te gou was die slaaiblare en die volgraanbrood in jou yskas, wat jy met die beste intensies gekoop het, oud en verlep. Voor jy jou kon kry het jy weer geswig voor die versoeking van Debonairs-pizza en sjokoladekoek.
Daar het intussen dadels gekom van die gim-lidmaatskap wat jy so plegtig aan die begin van die jaar uitgeneem het en intussen word jou bankrekening steeds elke maand maerder, maar jý nie.
Dalk het jy voorgeneem om elke dag die skottelgoed te was en gereeld jou woonstel te spring clean, maar intussen lyk dit maar net weer soos ‘n duifnes en dit voel of die skottelgoed kleintjies kry.
Jy het jouself belowe jy gaan vóór jou 22ste verjaardag jou rybewys kry. (Uhm, nee, ek weet nie op wie die laaste een gemik is nie.)
Dit is baie maklik om weer in ou gewoontes terug te val. Dis menslik. Ek dink nie ons besef hoeveel geleenthede ons misloop tot ons nie meer geleenthede kán misloop nie.
Ek wil graag glo as ons almal ons kant bring kan ons saam hierdie ding oorwin. Nie een van ons weet presies wanneer dit gaan oorwaai nie.
Dit gaan ons as individue en as ‘n land lank neem om uit dié put te klouter waarin Covid-19 ons gesmyt het.
Die een positiewe wat ek egter uit hierdie ervaring neem, is dat my uitkyk op die lewe effens verander het. Ek besef hoeveel geleenthede het ek gehad om my lewe te verryk, maar nooit aangegryp het nie.
Ek het dus vir myself ‘n nuwe lys van voornemens opgestel vir die res van die jaar.
Nie net dinge wat ek wil doen ná hoktyd nie, maar dinge waarmee ek nou al kan begin: Ek wil meer as een keer ‘n maand by die gimnasium uitkom. Ek dink baie mense wat, soos ek, nog nie een sit-up gedoen het vandat die inperking begin het nie en net depressief raak as hulle na die mense met die mooi lywe se home workout-videos kyk, stem met dié een saam.
Ek wil meer water drink. Met dié dat ek my boks wyn mooi moet rantsoeneer, besef ek die slimmes en die gesondheidsbewustes het nogal ‘n punt beet: water is eintlik goed vir jou.
Ek wil my rybewys kry. Ja, oukei, ek het nou net van myself gepraat (hou op oordeel!). Nou, meer as ooit, het ek ‘n behoefte aan vryheid. As ons vrygelaat word, wil ek my land kan sien of ten minste vir my ouers op die plaas gaan kuier. Ek wil elke aand my grimering afhaal voor ek gaan slaap (plooie!). Ek wil meer glimlag. Om nou in so baie suurgesigte vas te kyk, laat my besef hoe aaklig dit vir ander mense moet wees om mý suur gesig te sien. Ek wil ‘n nuwe vaardigheid aanleer. Dalk leer speel ek die tjello, dalk sluit ek aan by ‘n naaldwerkklub. Ek weet nie. Wat ek wel weet (ek kan nie glo ek gaan dit sê nie) is dat ek gatvol is vir Netflix (weereens, jammer). Laastens wil ek meer gereeld bid. Met meer vrye tyd op my hande besef ek my gebede raak verlore tussen die chaos van my alledaagse roetine.
Dalk is dié voornemens teen die einde van 2020 net ‘n vae gedagte, soos ons nuwejaarsvoornemens op die oomblik. Maar dalk kan ons ‘n kans vat en ‘n nuwe hoofstuk begin.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie