Voortgesette ongelykhede in toegang tot aborsie
Voortgesette ongelykhede in toegang tot aborsie

Voortgesette ongelykhede in toegang tot aborsie

Verbeterde gebruik van voorbehoedmiddels en ’n afname in ongewenste swangerskappe is waarskynlik die dryfveer agter die wêreldwye afname in aborsies.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - ’n Omvattende verslag deur die Guttmacher-instituut lig voortgesette ongelykhede in onder meer toegang tot veilige aborsies in ontwikkelende sowel as ontwikkelde lande uit.

Abortion Worldwide 2017: Uneven Progress and Unequal Access bevat die jongste inligting oor die voorkoms, veiligheid en geldigheid van aborsie, terwyl dit ook op ongewenste swangerskappe fokus.

Wêreldwyd het die voorkoms van aborsie die afgelope 25 jaar afgeneem en volgens bewyse in die verslag het prosedures in die meeste wêrelddele veiliger geword.

Hoewel die wêreldwye jaarlikse aborsiekoers tussen 1990 tot 1994 en 2010 tot 2014 afgeneem het, het die meeste van die veranderinge in die koers vir ontwikkelde streke plaasgevind - van 46 tot 27 aborsies uit ’n 1 000 vroue van voorplantingsouderdom.

In ontwikkelende lande het die koers skaars verander en wissel van 39 tot 36 per 1 000 vroue.

In dieselfde tydperk het die wêreldwye ongewenste swangerskapkoers van 74 ongewenste swangerskappe uit ’n 1 000 vroue van voorplantingsouderdom in 1990 tot 1994 tot 62 uit ’n 1 000 vroue in 2010 tot 2014 afgeneem.

In dié geval is die afname in beide ontwikkelende sowel as ontwikkelde lande waargeneem.

“Verbeterde gebruik van voorbehoedmiddels en die afname in ongewenste swangerskappe is waarskynlik die dryfveer agter die wêreldwye afname in die aborsiekoers,” sê me. Susheela Singh, visepresident van internasionale navorsing by die Guttmacher-instituut.

“Die meeste vroue wat ’n aborsie ondergaan, doen dit omdat hulle nie van plan was om in die eerste plek swanger te raak nie. Om in die behoefte aan voorbehoeding te voorsien, is kritiek om die koers nog verder af te bring.”

Latyns-Amerika en die Karibiese eilande het die hoogste jaarlikse koers van aborsies in enige wêreldstreek. Dit behels 44 uit ’n 1 000 vroue.

In Asië ondergaan 36, Afrika 34, Europa 29 en in Noord-Amerika 17 uit ’n 1 000 vroue jaarliks aborsies.

Latyns-Amerika en die Karibiese eilande het ook die hoogste koers vir ongewenste swangerskappe, naamlik 96 uit ’n 1 000 vroue.

Ten spyte van Asië se laer voorkoms van ongewenste swangerskappe (54 uit ’n 1 000 vroue), beteken die grootte van die bevolking bykans 54 miljoen ongewenste swangerskappe kom jaarliks hier voor.

Meer as twee derdes (65%) van dié swangerskappe eindig in aborsie.

In lande waar aborsie verbied word of slegs uitgevoer word om die lewe van die swanger vrou te red, is die koers 37 uit ’n 1 000 vroue.

Die verslag sê voorts wetlike beperkinge wis nie aborsie uit nie.

Inteendeel verhoog dit onveilige aborsies, omdat dit vroue dwing om vir agterstraatprosedures te gaan.

Aborsies blyk daarom veiliger te wees in lande waar dit wettig is, asook in lande met ’n hoë bruto nasionale inkomste.

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer