Voortrekker-storm: MET weier om oor jagters te su00ea
Voortrekker-storm: MET weier om oor jagters te su00ea

Voortrekker-storm: MET weier om oor jagters te sê

‘n Heksejag op sosiale media sonder moontlik die verkeerde ‘jagter’ uit, terwyl die ministerie sê dit is onnodig omdat die jag wettig was.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Die man wat wyd op sosiale media daarvan beskuldig word dat hy die professionele jagter was wat die jag op Voortrekker, Namibië se ikoniese olifantbul, moontlik gemaak het, het gister ontken dat hy betrokke was.

“Iewers het verkeerde inligting uitgekom,” het mnr. Johan Janse van Rensburg van Sangwali Safaris aan Republikein gesê.

Hy het gesê die saak sal privaat deur sy prokureurs hanteer word.

Dít volg nadat ‘n storm op sosiale media losgebars het en talle ernstige dreigemente teenoor Janse van Rensburg gemaak is.

Volgens Sangwali se webwerf spesialiseer Janse van Rensburg in foto-safaris.

Sy persoonlike Facebook-blad en dié van Sangwali Safaris is intussen gesluit.

Die ministerie van die omgewing en toerisme (MET) wou gister geen inligting bekend maak oor wie die betrokke professionele jagter is nie.

“Ons gaan nie dit geensins bespreek nie,” het hul woordvoerder, mnr. Romeo Muyunda, gesê.

Oor die heksejag op Janse van Rensburg het Muyunda gesê die ministerie ontvang ook tans haatpos oor die voorval en dit word ten sterkste afgekeur.

Muyunda het gesê die ministerie volstaan by sy nuusverklaring wat vroeër vandeesweek uitgereik is.

Die Namibië Professionele Jagvereniging (Napha) se uitvoerende hoof, me. Tanja Dahl, het gister gesê Janse van Rensburg is nie by hulle as ‘n professionele jagter geregistreer nie.

‘PRAAT UIT ERVARING’

Intussen het mnr. Johan Veldsman uit die Kamanjab-omgewing gesê hy het al die afgelope 20 jaar met konflik met die olifante van die droë westelike dele te doen – en dit sluit verskeie wettige jagtogte in.

Hy het hom sterk uitgespreek teenoor mense wat vinnig menings vorm sonder om al die feite te ken.

“Die verspreiding van vals gerugte en onetiese jagpraktyke in ‘n poging om persoonlik finansieël daarby te baat, is ‘n vorm van omgekeerde bewaring. Dit doen meer skade aan ons wild as die selektiewe oes van wild, wat tot voordeel van beide die spesie en gemeenskap strek.

“Terwyl ek hier tik, is my personeel besig om ‘n elektriese heining voor die lodge te installeer sodat ek kliënte, personeel en infrastruktuur kan beskerm teen die olifante wat tuine snags stroop.

“Wie betaal hiervoor? Nie enige bewaringsgroepe, waningeligte verslaggewers, aktiviste of sleutelbordhelde nie. Die geld kom uit ons bewaringsgebied en word gegenereer uit jagtogte onder streng toesig van die MET,” sê Veldsman.

“Ek huiwer nie om te sê daar sou geen olifante in dié deel van die land wees as dit nie vir finansiële aansporing was wat waarde skep nie. Boere asook plaaslike mense sou hulle andersins waarskynlik almal uitgewis het.

“Nou het ons sowat 200 vrylopende olifante op beide kommunale en kommersiële grond,” sê hy.

PROBLEEMDIER

Intussen het die MET se uitvoerende direkteur, mnr. Teofilus Nghitila, die afgelope Woensdag in ‘n nuusverklaring gesê die ministerie is bekommerd oor “die snert, onakkurate en onware verslae en aannames” wat in die sosiale media gemaak word.

Nghitila sê Voortrekker is as ‘n probleemdier verklaar ná ‘n “lang ondersoek en versigtige monitering” en dat maatreëls eers ingestel is om te probeer keer dat hy skade aanrig.

Dit het glo ‘n punt bereik waar die konflik ‘n “ondraaglike las” vir die gemeenskappe geword het en “menselewens bedreig het”, het hy in die verklaring gesê.

“Amptenare van die ministerie kon die olifant gejag het, maar ons het gekies om hom as ‘n trofee te laat jag. Op dié manier kon geld minstens vir die gemeenskappe ingesamel word om verdere mens-olifant-konflik af te weer.

“Dit is daarom onnodig om die professionele of trofeejagter aan te val en te dreig. Hulle het binne die wette van die land opgetree en met die ministerie se goedkeuring,” het Nghitila gesê.

Hy het daarop gewys olifantgetalle is tans die sterkste in die afgelope 100 jaar en groei jaarliks steeds teen sowat 3,3%. Volgens hom loop woestynolifante nie die gevaar om uit te sterf nie.

Hy sê olifante kom al meer in kommunale gebiede voor en dit is noodsaaklik om die gemeenskappe te kry om olifante in die langtermyn te verdra.

Die ministerie het hul afkeer uitgespreek van name wat aan olifante gegee word vir toerismedoeleindes.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer