Voorvaderlike grondeise mu00f3u00e9t bespreek word
Voorvaderlike grondeise mu00f3u00e9t bespreek word

Voorvaderlike grondeise móét bespreek word

Met minder as ‘n maand voor die nasionale grondkonferensie sê kenners aandag moet veral aan die toekoms van stedelike grondbesit gegee word.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Die fokus van die komende nasionale grondkonferensie behoort veral op stedelike grond te val omdat 70% van die land se bevolking binne 20 jaar in dorpsgebiede sal woon.

Terselfdertyd sal aansprake op voorvaderlike grond in heroorweging gebring moet word, terwyl die prinsiepe van gewillige verkoper, gewillige koper en onteiening van grond sonder vergoeding versigtig opgeweeg moet word.

Dit was die mening van verskeie kenners tydens ‘n kortkursus oor grondkwessies in Namibiese vir joernaliste wat die afgelope Vrydag deur die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) se fakulteit vir natuurlike hulpbronne en ruimtelike wetenskap aangebied is.

Dit is in samewerking met die Redakteursforum van Namibië (EFN), die Deutsche Gesellschaft für Internationale Zusammenarbeit (GIZ), die Namibië Mediatrust (NMT) asook die Geïntegreerde Grondbestuursinstituut (ILMI) aangebied ter voorbereiding van die nasionale grondkonferensie wat in Oktobermaand plaasvind.

Die dokumente wat tydens die geleentheid deur verskeie kenners in konsepvorm ingedien is, sal voorts ook tydens die nasionale grondkonferensie voorgelê word.

VOORVADERLIKE GROND

Prof. Mutjinde Katjiua, hoof van Nust se departement van grond en eiendomwetenskappe, het gesê tot dusver is voorvaderlike grondeise nie in die grondhervestigingsprogram in ag geneem nie, maar dat dit nie langer uitgelaat sal kan word nie.

“Tydens die vorige konferensie is besluit dat dié onderwerp te kompleks is om ‘n antwoord op te kry, daarom is dit nie bespreek nie,” het hy gesê.

Hy het egter gesê voordat enige sulke eise gemaak sal kan word, moet daar eers besluit word op ‘n afsnydatum van hoe lank terug eise gemaak kan word.

Katjiua het gesê 44 000 terug blyk dit dat hoofsaaklik net San-groepe in Namibië gewoon het, waarna interne migrasie voorgekom het.

Damara- en Herero-groepe het oor grond geveg, wat tot verdere ontworteling van groepe in sekere situasies gelei het. Daarna het Duitsers onteieningsopdragte in 1905 en 1907 uitgereik. Die Odendaalplan asook tuislandvorming tussen die 1920’s en 1960’s het ook ‘n bydrae gelewer.

“Die konferensie sal ook noodsaaklike standpunte moet inneem oor wanneer ‘n gebied as iemand se voorvaderlike grond geklassifiseer kan word: Hoeveel geslagte moes byvoorbeeld eers in ‘n gebied grootgeword het voordat ‘n groep dit hul voorvaderlike grond kan noem?

“Daar moet gedifferensieer word tussen herverspreiding van grond, of die vestiging van mense, versus die hervestiging van mense wat voorheen in ‘n gegewe gebied gewoon het.

“Tans word grond van ‘blankes’ gekoop en aan ‘swart’ mense gegee, dus word alle swart mense onder dieselfde kam geskeer, ongeag van hul individuele geskiedenis van grondonteiening.”

MISLUKTE PRINSIEP?

“Die herverspreiding van kommersiële landbougrond bly ‘n pynlike stadige proses, met die regering wat nie sy selfopgestelde teikens bereik nie en soms geld wat hiervoor uitgesit is, aan die registrateur terugbetaal omdat dit nie gebruik word nie,” het Prof. Wolfgang Werner van Nust se departement van grond en eiendomwetenskappe gesê.

“Na raming is slegs sowat 30% van kommersiële grond tans in swart besit.

“Die prinsiep van gewillige verkoper, gewillige koper, asook blankes wat oënskynlik onwillig is om grond te verkoop, word blameer vir die stadige pas van grondhervestiging. Tog is min bewyse gelewer dat dié stelsel faal.”

Werner het gesê dié siening verplaas moontlik die aandag van die regering se tekortkominge in die hervestigingsproses. Hy het egter gesê die oënskynlike mislukking van die gewillige-verkoper-en-koper-prinsiep lei daartoe dat mense op grondonteiening begin aandring.

“Dit word as vinniger en goedkoper beskou. Ons Grondwet maak voorsiening vir onteiening sonder vergoeding, asook die prosedures om daarteen te appélleer.

“Onteiening, wat op ‘n deursigtige en goedbeplande manier plaasvind, kan baie waardevol wees, maar is nie noodwendig goedkoper nie omdat dit tot uitgerekte en duur regsgedinge kan lei.

“Verder kan dit tot die ineenstorting van die finansiële sektor lei omdat kommersiële landbou swaar met skuld belas is,” het hy gesê.

Werner het gesê in 2017 het regstellende aksie leningskema-kopers dubbel soveel grond bekom as wat die nasionale hervestigingsprogram kon aanskaf.

“Hierdie kopers geniet voorkeur op grond wat op die vrye mark aangebied word.

“Dit beteken sou ‘n blanke persoon ‘n swart persoon kry wat sy grond wou koop, kan hulle die transaksie deurvoer sonder ‘n kwytskeldingsbrief van die regering. Wettig of nie, dit word skynbaar so deur banke aanvaar. In die praktyk beteken dit die regering verbeur sy voorkeurreg op grond,” het Werner gesê.

Werner het gesê die hervestigingsprogram het landbou van grond geskei, wat daartoe lei dat diegene wat hieruit voordeel trek, nie die nodige steun ontvang om suksesvolle boere te word nie.

Werner het ook gesê die begrip dat voorheen benadeeldes uit grondhervestiging moet voordeel trek, moet dalk heroorweeg word omdat die doel van die program is om armoede te verlig en sommige voorheen benadeeldes vandag baie suksesvol is.

VERSTEDELIKING

Dr. Anna Muller van die Namibië Behuising-aksiegroep sê Namibië is vinnig besig om ‘n verstedelikte land te raak.

ILMI se Guillermo Delgado het saamgestem en gesê jy sou voorstel dat vier van die vyf dae van die nasionale grondkonferensie oor stedelike grond behoort te handel, terwyl net een dag aan landelike grondkwesses gewy behoort te word.

“Oor sowat tien jaar van nou, sal die Namibiese bevolking op sowat 4,3 miljoen mense staan, waarvan tot 3,1 miljoen in stedelike gebiede sal woon. Verstedeliking lei tot die ontvolking van landelike gebiede.

“Die grootste groei kom dus in dorpsgebiede – ‘n kenmerk van ons toekoms,” het Delgado gesê.

Muller het verduidelik dat ten tyde van die land se onafhanklikheidswording, het 28% van die bevolking in dorpe gewoon. Teen 2011 het die persentasie na 42 gegroei en volgens berekeninge sal dit teen 2030 op 70% staan.

“Dienooreenkomstig groei die behoefte aan behuising en gedienste grond. Tot dusver misluk die land daarin om hierdie groei in dorpe te akkommodeer, wat tot die uitbreiding van informele nedersettings lei,” het sy gesê.

“Die meerderheid mense wat hier woon, val in die kategorie van 89% Namibiërs wat nie die kommersiële markverwante grond- en behuisingoplossings kan bekostig nie,” het sy gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!