Vorster wil vroue, meisies inspireer

Die hoop is dat groter getalle deelnemers vanaf 'n jong ouder­dom sal bydra tot sterker kompetisie en meer presteerders.
NAMPA
Hesron Kapanga – Vroulike fietsryers sal met nuwe oë na die sport kyk indien hulle in die media dieselfde blootstelling as die mans kry, sê Michelle Vorster, nasionale kampioen op die padfiets (tyd­toets) en bergfiets.

Vorster het die land as bergfietsryer by die 2016 Olimpiese Spele in Rio de Janeiro, Brasilië verteenwoordig en het opnuut gekwalifiseer vir die volgende Spele in Tokio, Japan, wat tot Julie 2021 uitgestel is.

In 'n onderhoud met die nuusagentskap Nampa het sy gesê vroulike fietsryers word onderskat in vergelyking met hul manlike eweknieë.

“Ons ry presies dieselfde fietse as die mans; dieselfde gewig, alles. Ons werk ewe hard as die mans om die toppunt van die sport te bereik. Maar in sportberigte word die vroue se uitslae kortliks onderaan genoem, terwyl die res alles oor die mans handel,” sê sy.

Vorster sê beter dekking vir die vroueryers lê haar na aan die hart en sy hoop dat meer jong meisies erkenning vir prestasies sal kry, sodat dit ook andere kan aanmoedig om die sport op te neem.

Die bemarking van fietsry by skole – deur programme soos die FNB Skoleliga se reeks bergfietsbyeenkomste in ouderdomsgroepe van onder 6 tot o.18 – is 'n belangrike hulpmiddel om meer meisies en vroue aan te moedig om 'n loopbaan in die sport op te bou.

“Ek dink dit sal 'n wonderlike idee wees om die sport op hoërskoolvlak te bemark, want die meeste meisies weet nie waaroor fietsry werklik gaan en hoe dit werk nie.”



VOETSPORE OM TE VOLG

Vorster se eie pad in die sport het op 'n betreklik laat ouderdom begin, maar sy het nogtans vinnig opgang gemaak en het tot 'n Afrika-kampioen en Olimpiese ryer ontwikkel. Sy moedig meisies en vroue aan om hierdie soort geleenthede ook vir hulself aan te gryp.

“Hoe meer vroue in fietsry betrokke is en uitblink, hoe meer kan die effek uitkring om groter en meer gereelde borg­skappe vir hulle te bekom.

“Een van die redes hoekom ek steeds fietsry, afgesien van die genot wat ek daaruit put, is om jong ryers te inspireer – veral die jong meisies. Ek hoop talle van hulle kan daartoe aspireer om dieselfde hoogtes te bereik as diegene wat voor hulle gery het, en om dié prestasies selfs te oortref.

“Ek hoop ook hulle kry die erkenning en dat hulle vir alle vroue sigbaar sal wees.”

Afgesien van massabyeenkomste soos die Nedbank Cycle Challenge, is die norm in Namibiese fietsry dat die getalle inskrywings in die ouderdomsklasse vir meisies voortdurend 'n bekommernis is. Ryers soos Vorster, Steffanie Grossmann en Monique du Plessis (onlangs bekroon as onderskeidelik vroue o.23 en meisies o.18 nasionale kampioene in bergfietsry) ondervind dikwels 'n gebrek aan sterk kompetisie om hulle na hul beste vertonings aan te spoor.

Die bevordering van sport onder jong meisies is egter die afgelope jare nie 'n uitdaging waarmee net fietsry sukkel nie, maar is 'n verskynsel in etlike ander individuele kodes, het fietsry-administrateurs tevore uitgewys.

- Bygewerk van Nampa

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!