Vrae oor borskanker
Vrae oor borskanker

Vrae oor borskanker

Jacqueline Louw
Prof. Justus Apffelstaedt is die hoof van die borskliniek by die Tygerberg-hospitaal in Suid-Afrika en ’n medeprofessor aan die Universiteit van Stellenbosch.
Hy besoek die Paramount-gesondheidsorgsentrum in Windhoek op ’n rotasiebasis. Die volgende vrae word dikwels in sy praktyk aan hom gestel:

Kan mammografie borskanker veroorsaak?
Nee. Vir meer as 40 jaar het miljoene vroue mammografie ondergaan. Soos met alle radiografie behels dit blootstelling aan X-strale, maar die vlakke wat gebruik word, is baie laag.
Moderne mammografietegnieke het oor die afgelope paar jare ook baie verbeter. Ons digitale mammografiemasjien gebruik net 0,1 tot 0,2 “rad’s” per X-straal, wat ’n uiters lae dosis van bestraling is.
Die vraag is al gestel of die saampersing van die bors borskanker kan veroorsaak, maar hierdie saampersing affekteer die borste glad nie. Dit is uiters belangrik dat die borsweefsel saamgepers word om ’n suksesvolle mammogram te verkry. Die borsweefsel word in die proses uitgesprei sodat die borsstrukture gesien kan word. ’n Verdere voordeel van kompressie is dat die X-straaldosis verminder kan word.
Pasiënte moet verseker dat hulle ’n sentrum vir mammografie kies wat oor moderne toerusting beskik.

Is die neem van ’n mammogram pynlik?
Alhoewel die bors saamgepers word, ondervind baie vroue wat mammografie ondergaan geen pyn nie.
Vroue met baie sensitiewe borste mag geringe ongemak ondervind mits die toets behoorlik uitgevoer word.

Ek wil graag kosmetiese bors­chirurgie laat doen. Behoort ek eers ’n borsondersoek ondergaan?
Dit is altyd raadsaam om eers vir ’n borskankertoets vóór chirurgie te gaan.
Enige chirurgie aan die borste sal toekomstige evaluering van die borste meer gekompliseerd maak en dit sal die kanse vergroot dat ’n bestaande kankergewas nie waargeneem sal word nie.

Ek het ’n borsprostese. Kan ek nog steeds ’n mammogram laat neem?
Ja. Borsvergroting veroorsaak nie ’n vermeerdering in klierweefsel nie, daarom vergroot ’n prostese nie ’n mens se kanse vir borskanker nie.
Dit is egter belangrik dat ’n ervare persoon jou mammogram neem sodat soveel borsweefsel as moontlik op die mammogram vertoon.

Indien my borsondersoek negatief is, hoekom word nog steeds aanbeveel dat ek elke jaar ’n mammogram laat neem?
Die meeste internasionale kankerverenigings beveel aan dat jaarlikse mammografietoetsing die beste metode is om borskanker vroeg te ontdek.
Vroeë opsporing van kanker maak die kanse op oorlewing soveel groter en dit verminder die kanse dat ’n mastektomie nodig sou wees.

Wat is die beste tyd in die maand om ’n mammogram te laat doen? My borste is teer tydens menstruasie.
Ons beveel aan dat ’n mammogram omtrent ’n week ná menstruasie gedoen word.
’n Mammogram behoort eintlik net minimaal ongerieflik te wees, maar indien jy besorg is oor borsteerheid is dit raadsaam om ’n opgeleide borsspesialis te raadpleeg. In so ’n geval kan ’n kliniese evaluasie en ’n ultraklanktoets gedoen word. As enigiets buitengewoon waargeneem word, behoort ’n mammogram egter onmiddellik gedoen te word. Indien daar dan niks verder gevind word nie, maar die teerheid duur voort, mag jy miskien geadviseer word dat behandeling begin moet word en die mammogram vir ’n paar weke uitgestel word totdat die borste weer normaal is.
Dit is belangrik om te verstaan dat ’n ultraklanktoets nie ’n vervanging vir ’n mammogram is nie, dit bly nog steeds die beste instrument vir die diag­nosering van borskanker.
Daar is bevind dat 2 tot 3 gram Nagblomolie (Evening Primrose Oil) per dag vir 2 tot 4 weke geneem kan word om borsteerheid te verminder.

Is dit moontlik dat ’n borsbesering tot borskanker aanleiding kan gee?
Borste is besonder bestand teen beserings en ’n besering sal nie borskanker veroorsaak nie.
Erge trauma mag vetnekrose veroorsaak. Dit beteken dat vetweefsel doodgaan. Hierdie proses sal as ’n klont manifesteer en kan met kanker op ’n mammogram verwar word. Vet­nekrose is egter nie kanker nie en dit sal nie met tyd in kanker ontwikkel nie.

Wat is die tekens van borskanker waarop ’n mens bedag moet wees?
• ’n Klont van enige grootte of ­verdikking van borsweefsel
• Veranderinge in die vorm van die bors of aanhoudende ongerief
• ’n Afskeiding van die tepel wat nie met swangerskap of borsvoeding verband hou nie.

Is borskanker ’n siekte wat net gediagnoseer word by mense wat ouer as 40 jaar is?
In die Westerse samelewing kom 6% van alle borskankergevalle onder vroue onder 40 jarige ouderdom voor, en in ons praktyk is een uit elke ses vroue met borskanker jonger as 40 jaar.
Dit mag miskien toe te skryf wees aan die jonger ouderdomstruktuur van die bevolking in ’n ontwikkelende land, maar daar is ook bevind dat borskanker in nie-Europese bevolkingsgroepe by ’n jonger ouderdom voorkom.
Voorheen is oorgewig, ’n onaktiewe lewensstyl, alkoholinname, omgewingsfaktore sowel as vroeë menstruasie (voor die ouderdom van 9 jaar) en swangerskap vir die eerste keer na die ouderdom van 30 jaar met borskanker geassosieer. Die nuutste denke is egter dat vir jonger vroue ’n genetiese komponent ’n groter risikofaktor is en daar is bevind dat onder jonger pasiënte ’n mutasie in die borskankergene teenwoordig is.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!