Vrae oor spankeuse ná Proteas se nederlaag

Krieket
Andrew Poolman
Michael Green



Het die Proteas die regte spankeuse gemaak vir hul eendagwedstryd Saterdag in Port Elizabeth teen Pakistan?

Dié vraag kan met reg gevra word nadat Pakistan dié dag/aand-kragmeting op St. Georgepark met vyf paaltjies gewen het.

Pakistan het die wenteiken met die eerste bal van die laaste boulbeurt verbygesteek en met 267/5 geëindig.

Hul groot kolfhelde was Imam-ul-Haq, wat 86 aangeteken het, en Mohammad Hafeez, wie se bydrae 71* was.

Suid-Afrika het die middag die loot gewen en besluit om eerste te kolf.

Die tuisspan kon net 266/2 in hul kolfbeurt kry teen ’n boulaanval wat vier draaiboulers ingesluit het.

Hashim Amla (108*) en Rassie van der Dussen (93) het weliswaar goeie tellings aangeteken, maar ’n mens het altyd gevoel die tuisspan het nie genoeg lopies op die telbord gehad nie.

Imran Tahir, die einste erkende draaibouler in Suid-Afrika se span, het sy 10 boulbeurte met syfers van 1/44 voltooi.

Net Dwaine Pretorius met 0/42 was meer ekonomies as hy.

In die afwesigheid van nog ’n erkende draaier, is Reeza Hendricks vir ’n paar boulbeurte ingespan en hy is met ’n paaltjie beloon.

Moes die linksdraaier Tabraiz Shamsi nie dalk ook in die beginspan gewees het nie?

Die Warriors, wie se tuisveld dit is, speel nooit sonder minstens twee draaiboulers in die Baai nie.

Pakistan het fluks begin en met positiewe kolfwerk die tuisspan se boulers, veral Kagiso Rabada, onder druk geplaas.

Duanne Olivier het met die besoekers se telling op 45 van Fakhar Zaman (25) ontslae geraak.

Toe kolf Imam-ul-Haq (86) en Babar Azam (49) eenvoudig net so positief verder.

Dit het die onwaarskynlike boulwerk van Reeza Hendricks gevat om dié vennootskap te verbreek.

Hendricks het Azam (49) met een van sy stadige aflewerings geflous en gesorg dat die vennootskap op 94 eindig.

In die laaste kwart van die wedstryd het Pretorius, Andile Phehlukwayo en Tahir elkeen nog ’n paaltjie gekry, maar dit was nie goed genoeg nie.

In die Proteas se kolfbeurt was Amla die ruggraat. Die bebaarde veteraan het sy 27ste honderdtal in ’n internasionale eendagwedstryd aangeteken.

Verbasend genoeg was dit sy eerste internasionale eendag-honderdtal in die Baai.

Amla, wat sewe viere en een ses in sy beurt van 108* aangeteken het, het eers saam met Reeza Hendricks en toe Rassie van der Dussen vir goeie vennootskappe gesorg.

Hy en Hendricks (45) het die eerste paaltjie op 82 lopies verloor. En toe het hy en Van der Dussen vir 155 lopies vir die tweede paaltjie vasgeskop.

Van der Dussen, wat sy buiging vir die Proteas in eendagkrieket gemaak het, het aanvanklik ’n paar benoude oomblikke beleef.

Hy het hom egter nie daardeur laat ontsenu nie en was ongelukkig om nie ’n honderdtal te kry nie. Hy is uitgevang op 93 (6x4, 3x6).

Pakistan het reeds in die sesde boulbeurt sy eerste draaibouler, Imad Wasim, in die aanval gebring.

Die besoekers het eindelik vier draaiers – Mohammad Hafeez, Shadap Khan en Fakhar Zama – gebruik.

Die 20-jarige Khan was sy span se effektiefste draaier. Hy het Hendricks uitgekry en met syfers van 1/41 in sy tien boulbeurte geëindig.

Hy het ook gedink hy het vir Van der Dussen deur die paaltjiewagter, Sarfaz Ahmed, met sy telling op 26 laat uitvang. Van der Dussen het die beslissing egter verwys en daar is toe gesien dat hy nie aan die bal geraak het nie.

David Miller (16*) was aan die einde saam met Amla voor die penne. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!