Vrae oor wie Wêreldbank ná bedanking gaan lei

Die adjunkpresident, Kristalina Georgieva, sal vanaf 1 Februarie in die toppos waarneem.
Die Wêreldbank se soektog na 'n nuwe president sal 'n toets wees vir pres. Donald Trump se belofte dat hy Amerika eerste gaan plaas in sy buitelandse beleid.

Jim Yong Kim (59) het Maandag onverwags bedank, meer as drie jaar voor die einde van sy termyn. Hy is in die middel van 'n tweede vyfjaartermyn sedert sy aanstelling in 2012.

Kim se bedanking kan 'n internasionale toutrekkery tot gevolg hê oor wie hom opvolg, juis op 'n tydstip wat die Trump-administrasie vrae het oor die ontwikkelingsbank se doelwit.

Kristalina Georgieva, adjunkpresident van die Wêreldbank, sal vanaf 1 Februarie in die toppos waarneem, het die Washingtonse bank Maandag in 'n verklaring gesê.



PRIVATE FIRMA

Kim gaan hom aansluit by 'n private firma wat fokus op infrastruktuurontwikkeling in ontwikkelende lande.

“Die geleentheid om by die private sektor aan te sluit, was onverwags, maar ek het tot die gevolgtrekking gekom dis die pad waardeur ek die grootste impak op wêreldvraagstukke soos klimaatsverandering en die infrastruktuurtekort in ontluikende markte kan maak,” het Kim in 'n e-pos aan personeel van die Wêreldbank gesê.

Kim kon in April verlede jaar steun van lidlande werf vir 'n kapitaalverhoging van US$13miljard, nadat Amerika eers voorgestel het die bank se hulpbronne word verminder.

Kim is deur Barack Obama benoem en Trump sal nou 'n voorstel kan doen. Trump self het groot minagting vir internasionale liggame soos die Wêreldhandelsorganisasie en Noord-Amerikaanse Verdragsorganisasie (Navo).

John Bolton, Trump se adviseur oor nasionale veiligheid, het twee jaar gelede in 'n artikel voorspraak gemaak vir die privatisering van die Wêreldbank en David Malpass, adjunkminister van internasionale sake, het al bevraagteken hoekom die bank soveel geld aan China leen.



TRUMP SE BENOEMING

Trump se benoeming kan beïnvloed hoe die bank kapitaal uitleen op 'n tydstip wat ontluikende markte onder groot druk is van stygende Amerikaanse rentekoerse en handelspanning. In die boekjaar tot einde Junie 2018 het die Wêreldbank US$64 miljard se lenings aan ontwikkelende lande toegestaan.

Amerika is die grootste aandeelhouer in die Wêreldbank, wat in die Tweede Wêreldoorlog geskep is om die heropbou van Europa te finansier. Sedertdien het dit gefokus op die verligting van armoede wêreldwyd.

'n Amerikaner het die bank bestuur sedert dit in 1945 gestig is.

Die susterliggaam, die Internasionale Monetêre Fonds (IMF), is nog altyd deur 'n Europeër bestuur as deel van 'n ongeskrewe verstandhouding tussen Westerse lande. Christine Lagarde, 'n voormalige Franse minister van finansies, is tans die besturende direkteur van die IMF.

Daar is voorspraak daarvoor dat die bank deur iemand uit ontluikende markte gelei word.

Die aanstelling word deur die bank se direksie gelei, en hulle verteenwoordig die lener se 189 lidlande.

Prof. Raghuram Rajan, voormalige president van die Reserwebank van Indië en nou professor aan die Universiteit van Chicago, sê die instellings sal aanlokliker vir die res van die wêreld wees as “die klem wat Amerika en Europa” op hulle het, losgemaak word.

Die groeiende gewildheid van populisme en die omstrede debat oor globalisering plaas al hoe meer druk op die leiers van organisasies soos die Wêreldbank, sê Rajan.

Kim het Robert Zoellick vervang. Hy het te staan gekom teen Ngozi Okonjo-Iweala, toe Nigerië se minister van finansies, en José Antonio Ocampo, 'n Colombiaan en professor aan die Columbia-Universiteit in New York.

Kim, 'n Amerikaanse burger van Koreaanse herkoms, was voorheen president van die Dartmouth College en hoof van die Wêreldgesondheidsorganisasie se MIV/vigs-afdeling. Hy het 'n mediese graad en 'n PhD in antropologie van die Harvard-Universiteit.

Kim is in Seoel, Suid-Korea, gebore, maar het in Iowa grootgeword.

Kim se bedanking het die direksie onkant gevang. Hulle is Maandagoggend ingelig.

Kim het nou saamgewerk met Ivanka Trump, die president se dogter en 'n Withuis-raadgewer. Die bank het in 2017 begin om vroue-entrepreneurs te finansier, 'n projek wat saam met Ivanka ontwikkel is. Die plan was om meer as US$1 miljard te belê.

– Netwerk24/Bloomberg

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!