Vrede in DRK vir Namibiu00eb baie werd
Vrede in DRK vir Namibiu00eb baie werd

Vrede in DRK vir Namibië baie werd

Die onlangse verkiesing in die Demokratiese Republiek die Kongo het sonder ernstige voorvalle afgeloop, maar uitslae word met ingehoue asem verwag.
Augetto Graig
Augetto Graig - Spanning vier hoogty in afwagting op die uitslae van die onlangse presidensiële verkiesing in die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK).

Uitslae sal na verwagting eerskomende Sondag bekend gemaak word.

Vir Namibië se ekonomie sou 'n vreedsame oordrag van mag in dié land van groot waarde wees.

Volgens die Global Edge wêreldhandel-webwerf, wat deur Amerika gefinansier word, was Namibië in 2017 die DRK se grootste invoerder, met goedere ter waarde van byna US$400 miljoen (N$ 5,7 miljard) wat met Namibië as deurgangsroete van die DRK af uitgevoer is.

Ten spyte daarvan dat die DRK ekonomiese hervorming ondergaan het deurdat die deel van die bevolking wat armoedig is tussen 2005 en 2012 van 71% tot 64% gekrimp het, is die DRK in 2015 steeds deur die Wêreldbank as die 176ste armste land uit 187 lande ter wêreld beskou.

Dié bron beskryf die DRK nietemin as 'n land ryk aan natuurlike hulpbronne met 'n bevolking van meer as 77 miljoen mense.

“Met 80 miljoen hektaar bewerkbare grond en meer as 1 100 minerale en edelmetale het die DRK die potensiaal om een van die rykste lande op die vasteland te word en om ’n dryfveer vir Afrika-groei te wees as hy politieke onstabiliteit te bowe kan kom,” lees die Wêreldbank se webverslag oor dié land.

President Hage Geingob was kort ná Kersfees in die DRK-buurland se hoofstad Brazzaville, waar hy as voorsitter van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) samewerking met lande van die Internasionale Konferensie oor Groot Mere-streek (ICGLR) bewerkstellig het, wat tot ’n vreedsame verkiesing in die DRK bygedra het.

Dít ná die verkiesing tot 30 Desember uitgestel is weens geweld en die vernietiging van verkiesingmateriaal op 13 Desember.

Geingob het beklemtoon die DRK is van kardinale belang vir ontwikkeling in die substreek, en het gesê probleme het nie grense nie – uitdagings in een land raak buurlande.

Die verkiesing het Sondag relatief vreedsaam verloop, hoewel onrus met die bekendmaking van die uitslae ’n sterk moontlikheid bly.

Die regerende party se kandidaat, mnr. Emmanuel Ramazani Shadary, het Geingob in November verlede jaar in Windhoek besoek.

Die DRK is sedert 2005 deel van die ontginningsbedryf- deursigtigheidsinisiatief (EITI) en implementeer dié stelsel sedert 2007.

Inligting toon die DRK het teen 2015 sowat US$1,7 miljard deur middel van ontginning ingevorder – 82% daarvan regstreeks deur middel van mynbou-aktiwiteite.

Dié sektor het toe 97,5% van die land se uitvoere behels, 20% tot die land se bruto binnelandse produk (BBP) bygedra, ’n kwart van die regering se inkomste verskaf, en 23,9% van alle werksgeleenthede in die DRK geskep.



Die DRK is die wêreld se grootste produsent van kobalt, wat gebruik word in die vervaardiging van batterye vir selfone en ander elektronika.

Die land beskik oor meer as die helfte van die wêreld se kobaltreserwes, en lewer ook groot hoeveelhede koper, diamante, goud, olie, tin, tantaal, wolfram en sink.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!