Vrede keer terug na vallei se brulgrond
Des Erasmus - ‘n Onrustige vrede het na die Ugabvallei teruggekeer toe Cheeky, die leeuwyfie wat aan die skaapslagting by die Brandberg White Lady Lodge deelgeneem het, in die nagtelike ure van Vrydagoggend ook soos haar maanhaarmannetjie, Nkosi, ‘n nekband gekry het.
Die grootste versigtigheid is deur ‘n vangspan van die ministerie van die omgewing en toerisme, onder wie die leeunavorser dr. Flip Stander, gehandhaaf voordat Cheeky Vrydagoggend omstreeks 01:00 met ‘n verdowingsmiddel aan die slaap gemaak is sodat die satellietseinstelsel om haar nek aangebring kon word.
Deurlopend is rekening gehou met vorige beweringe dat die ma van drie opgeskote welpies weer dragtig is, wat sy uiteindelik nie was nie. Sou daar weer ‘n werpsel op pad wees, sou ‘n ander plan gemaak moes word.
Cheeky is naby die plek vasgetrek waar haar mannetjie, Nkosi, ook die vorige dag ‘n nekband gekry het. Die maanhaar self was ook in die omgewing. Deel van die sorg van die vangspan was om Cheeky Vrydag deur die loop van die dag te monitor. “Sy was nog ‘n bietjie lomerig, maar eintlik piekfyn,” volgens ‘n woordvoerder na aan die vangspan.
Danksy die seinstelsels om die leeunekke sal kommunale boere en ander belanghebbendes nou alarms hoor wanneer die leeus binne 4 km van plekke kom waar hulle weer kwaad kan doen. Dan kan afskrikmiddels gebruik word.
‘n Groter paraatheid teen leeus is ook deur vrywillige bewaringsinstansies geskep. Deel daarvan is gewone klappers wat geskiet kan word wanneer die leeus te naby kom. Oornagkrale vir vee in die vallei is ook bespreek. Krale agter net word reeds gebruik, maar die netbeskutting moet hoog genoeg wees vir leeus om nie oor te kom nie. Waar net reeds gebruik is, was dit nie altyd hoog genoeg nie.
Oor die uiteindelike toekoms van die leeus van die Ugabvallei moet nog besin word. Een moontlikheid is dat die leeus gevang en na ander gebiede oorgeplaas word, maar uit die geledere van vrywillige bewaringsinstansies is daar besware dat die leeus in hul nuwe tuistes nie die voorlêplekke vir prooi en die waterpunte sal ken nie.
Dit is ook bekend dat leeus ná hervestiging dikwels weer terugkeer na die plekke waarvandaan hulle gekom het.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie