Vreemde voetspore is dit toe nie
Francoise Steynberg - Groot was die opgewondenheid van die boer mnr. Frederick de Koker toe hy in November verlede jaar vreemde "voetspore" in rotsformasies naby sy opstal op die regeringsplaas Nico 377 tussen Asab en Mariental vind.
De Koker het gewonder of die vorms in die rotsformasies nie dalk 'n belangrike argeologiese ontdekking soos dinosourusvoetspore is nie.
"Ek het my vee nie ver van my opstal af laat wei nie en toe só op die vreemde vorms in rotsformasies afgekom en gewonder wat dit is," het De Koker aan Republikein vertel.
Die plaas Nico 377 is sowat 7 000 hektaar groot en 10 km van Asab en 90 km van Mariental geleë.
De Koker het foto's van die rotsformasies geneem en vandeesweek by Republikein om hulp aangeklop. Die koerant het die foto's en navrae aan die Nasionale Museum van Namibië gestuur en is weer na die National Earth Science Museum by die Geologiese Opname-departement van die ministerie van myne en energie verwys.
Die hoofgeowetenskaplike van die National Earth Science Museum, me. Helke Mocke, het bevestig dat dit beslis nie dinosourusvoetspore is nie.
"Dit is preserverende oorblyfsels, met ander woorde nie voetafdrukke nie. Dikwels veroorsaak chemiese aktiwiteite sulke strukture wat vir nie-kundiges soos voetspore lyk. Hierdie tipes strukture in die Mariental- en Asab-omgewing is 'n algemene verskynsel," verduidelik Mocke.
Sy is 'n kundige op dié gebied wat saam met 'n groep van Italië in 2013 op drie persele gewerk het waar dinosourusspore gepreserveer is.
Mocke sê sy het al verskeie navrae oor sulke "ontdekkings" deur boere en die publiek gehad.
Sy vertel egter dat in die vyftigs of sestigs is 'n lang spoor wat veroorsaak is deur 'n lang stert van 'n dier, op 'n plaas naby Brukkaros in die omgewing van die Visrivier gerapporteer.
"Dit is gespekuleer dat dit dalk die stert van 'n dinosourus was. Die rotsblok, wat ook baie rimpelmerke gehad het, is verwyder en voorheen in die Owela Museum uitgestal," het Mocke gesê.
"In Namibië kan verweerde dinosourusvoetspore op die Waterbergplato gesien word, asook baie voetspore van dinosourusse op die plase Otjihaenamaperero en Etjo Nord naby Kalkfeld."

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie