Vroeë mielie-oesskattings lyk belowend
Produsente hoop om weer op die been te kom ná drie jaar se misoeste en is hard aan die ploeg en saai ná goeie reën onlangs geval het.
Elvira Hattingh - Vroeë oesskattings dui aan dat sowat 46 000 ton witmielies vanjaar plaaslik geoes sal word, mits genoeg opvolgreën in sekere gebiede val. Kenners sê minstens twee goeie reënseisoene is nodig vir die akkerboubedryf om ná die afgelope droogtes te kan herstel.
Dié vooruitskattings deur onder meer die Akkerbouprodusentevereniging (APV) asook die Nasionale Vroeë Waarskuwing- en Voedselinligtingseenheid (NEWFIU), dui op ’n kleiner oes as die gemiddeld van 65 000 tot 70 000 ton per jaar onder normale omstandighede.
Tog is dit beter as verlede jaar se oes van 40 000 ton, toe droogte groot misoeste tot gevolg gehad het.
Volgens die oesverwagting in die NEWFIU se verslag oor landbou-insette en voedselsekerheid in Desember verlede jaar, behoort sowat 12 700 ton koring, 46 400 ton mielies en 21 000 ton sorghum of mahangu plaaslik geproduseer te word.
Namibië benodig egter sowat 80 100 ton koring, 172 700 ton mielies en 74 300 ton sorghum of mahangu vir plaaslike gebruik. Die verslag dui aan altesaam 39 700 ton koring, 50 100 mielies en 8 000 ton mahangu is teen November 2016 ingevoer. Gevolglik sal tekorte van 24 800 ton koring, 49 000 ton mielies en 44 000 ton sorghum of mahangu aangevul moet word.
MIN STEUN VIR AKKERBOUERS
Me. Antoinette Venter, administratiewe bestuurder by die Namibië Akkerbouraad, sê tot dusver het akkerbouers in veral die Mieliedriehoek asook die Summerdown- en Hochveld-omgewing goeie reëns ontvang – in so ’n mate dat hulle tans besig is om lande voor te berei en te saai.
“Hulle saai al meer soos reën val en saai nou al reeds meer as wat hulle aanvanklik beplan het. Ons sal gevolglik vanaf middel tot einde Februarie ’n beter prentjie hê van watter grootte oeste ons vanjaar kan verwag.”
Venter sê die afgelope droogtes het akkerbouers geknou en hulle sal meer as een jaar nodig hê om veral geldelik te herstel.
“In die afgelope droogtejare was dit elke keer insetkoste, sonder dat dit genoegsame opbrengste gelewer het. Akkerbouers het tydens die afgelope drie moeilike jare waartydens hulle minimale ondersteuning ontvang het, verskeie misoeste beleef.”
Venter sê verlede jaar is die grootste mielieoeste met behulp van besproeiing opgelewer. “Droëlandoeste het altesaam minder as 10 000 ton opgelewer, terwyl dit onder normale omstandighede min of meer dieselfde opbrengste as mielies onder besproeiing lewer.
“Die droë en warm weer van verlede jaar het egter ook ’n negatiewe uitwerking op besproeiingsmielies gehad. Verlede jaar het die Hardap-besproeiingskema asook regeringsplase ons deurgedra.”
Venter sê onder normale omstandighede word altesaam tussen 65 000 en 70 000 ton witmielies per jaar plaaslik geproduseer. “Die rekordoes tot dusver was 74 000 ton. Om selfvoorsienend te wees, sal Namibië egter sowat 155 000 ton moet kan produseer.”
PRODUSENTE IS OPTIMISTIES
Die Akkerbouprodusentevereniging (APV) se voorsitter, mnr. Dawie de Klerk, sê in die Mieliedriehoek en die Otavi-vallei was dit tot einde Desember nog baie droog, maar goeie neerslae is in Januarie ontvang.
“Produsente is tans besig om te saai, maar almal kon egter nie al hul lande bewerk nie as gevolg van finansiële druk ná verlede jaar se swak opbrengste.
“Die verwagte saai op droëland in dié gebied behoort ongeveer 5 000 ha te dek. Indien goeie opvolgreën val, kan ‘n gemiddelde oes van tot 3 ton per ha verwag word - andersins sowat 2,5 ton per ha.
“Dit bring ons by ‘n oesskatting van tussen 12 500 en 15 000 ton en die moontlikheid van ‘n rekordoes is dus nie uitgesluit nie,” het hy gesê.
De Klerk sê in die Ooste is produsente tans ook nog besig om te saai, wat dit moeilik maak om te sê presies hoeveel hektaar mielies geplant sal word.
“Voorlopige aanduidings is dat ongeveer 2 600 ha droëland mielies en 1 500 ha mielies onder besproeiing gesaai sal word. As die reën só aanhou, is die verwagte opbrengs in die gebied sowat 7 000 ton,” het De Klerk gesê.
Volgens hom is slegs sowat 700 ha mielies by Hardap gesaai, wat beteken die verwagte opbrengs is om en by 7 000 ton.
“Die kleiner oppervlak wat gesaai word, kan toegeskryf word aan geweldige groot lusernlande wat gesaai word en deur die droogtetoestande veroorsaak is,” het hy gesê.
Volgens De Klerk word tans ook nog by Groenskemas gesaai.
“Normale saaiplase beloop ongeveer 2 800 ha onder besproeiing en 900 ha droëland. Gevolglik verwag ons ‘n oes van tussen 15 000 en 17 000 ton.
“Die totale oesverwagting word dus in hierdie vroeë stadium op ongeveer 46 000 ton geskat, oftewel sowat ’n derde van plaaslike verbruik.
“Soos afgelei kan word, is akkerbouprodusente optimisties oor die reën. Ons het dit bitter nodig om die bedryf weer op die been te kry ná verlede jaar se swak opbrengste. Ons kan net die Skepper loof en prys vir die goeie reëns wat tot dusvêr geval het en ons glo en vertrou dat hierdie ‘n goeie jaar vir akkerbou in Namibië sal wees,” het hy gesê.
De Klerk sê ook mieliepryse is verbasend stabiel vir hierdie tyd van die jaar, veral as die jongste oesskattings van Graan SA in ag geneem word. “Goeie reënneerslae beteken Suid-Afrika verwag goeie oeste.”
KOMMUNALE SAAI-AKTIWITEITE
NEWFIU se opname in die sewe noordelike kommunale gebiede onder kleinboere sê die feit dat die 2016-’17-reënseisoen aanvanklik traag afgeskop het, beteken dat saai-aktiwiteite eers láát in November of vroeg in Desember begin het.
Akkerbouers in die gebiede produseer meestal op kleinskaal en vir eie gebruik.
Volgens die NEWFIU-verslag was basiese insette en landbou-dienste soos gesubsidieerde en gratis saadvoorraad, kunsmis, ploeg- en skoffeldienste ook vroegtydig in die grootste kommunale akkerbougebiede gereed en beskikbaar. Boonop het boere nog oorstaan-kunsmis van die vorige seisoen beskikbaar gehad.
Die Zambezi-streek het altesaam 3,5 ton mahangusaad asook 1 ton mieliesaad van die regering ontvang, wat gratis aan boere versprei is. ’n Gebrek aan saad vir sorghum, peulgewasse, pampoene, spanspekke en skorsies het ontstaan en dié sade was slegs in Katima in die ope mark beskikbaar.
Boere in dié streek het hul lande in Desember begin voorberei, terwyl ploegaktiwiteite teen die rivier deur gehuurde regeringstrekkers reeds tussen September en Oktober verlede jaar voltooi is. Altesaam sowat 92 boere het van die diens gebruik gemaak en sowat 226 ha is geploeg.
Die Kavango-Oos- en Kavango-Wesstreek het onderskeidelik 12 ton en 16 ton mahangusaad van die regering ontvang, terwyl die streek nog mieliesaad en kunsmis van vorige seisoene gehad het. Boere in die streek kon nie goeie gehalte saad van vorige seisoene oorhou nie en moes dus saad teen gesubsidieerde pryse van hul plaaslike landbou-ontwikkelingskantore koop. ’n Tekort aan saad vir sorghum en peulgewasse het in die gebied ontstaan.
In die Omusatistreek was genoeg kunsmis van die vorige reënseisoen beskikbaar om die nuwe seisoen mee te begin. Die streek het altesaam 24 ton mahangusaad ontvang, maar saad vir sorghum, peulgewasse en spanspekke was nie beskikbaar nie.
’n Gebrek aan saad vir mielies, sorghum en nie-graangewasse is in die Ohangwenastreek ervaar, maar sowat 20 ton mahangusaad is ontvang, wat deel sal vorm van die regering se subsidiëringsprogram vir kleinboere. ’n Verdere agt ton mahangusaad is gratis in die streek as deel van die regering se droogtehulpprogram versprei.
Die Oshanastreek het die kwaaiste onder die afgelope droogtes deurgeloop, wat beteken boere het bykans geen saad oorgehad nie. Altesaam 22,7 ton gesubsidieerde mahangusaad is na die streek gestuur, terwyl ’n verdere agt ton daarvan gratis as deel van die droogtehulpprogram beskikbaar was. Sowat 55 ton kunsmis uit vorige seisoene was ook nog beskikbaar.
Volgens beplanning sou altesaam 27 ton mahangusaad na die Oshikotostreek versprei word.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie