Vroeu00eb SA deur die ou00eb van seldsame reisiger
Vroeu00eb SA deur die ou00eb van seldsame reisiger

Vroeë SA deur die oë van seldsame reisiger

Jacqueline Louw
Hierdie boek is ’n stimulerende werk wat tot nadenke stem, veral in ’n tyd dat die vroeë geskiedenis van die Kaap weer ter sprake kom in die hedendaagse grondkwessie.
Dit is ook ’n onverwagse plesier om nader kennis te maak met Robert Jacob Gordon (1743-1795), wat die Oranjerivier sy naam gegee het (genoem na die Prins van Oranje) en na wie Gordonsbaai genoem is. Hy was ’n besonder begaafde man van Skotse afkoms. Sy oupagrootjie het na Nederland verhuis en sy vader was ’n generaal-majoor in Nederland.
Hy het ’n goeie opvoeding gehad, kon verskeie tale praat, en was ’n kartograaf, dierkundige, volkekundige en soldaat, asook ’n knap skilder. Boonop was hy ’n goeie diplomaat en bekend om sy sjarme.
In 1777 is hy deur die VOC na die Kaap gestuur waar hy later die bevelvoerder van die garnisoen was met sowat 3 000 manskappe. Vier maande ná sy aankoms het hy op een van sy vele reise die binneland ingegaan. Hy het altesame vyf reise onderneem wat moeisaam was en soms ses maande lank geduur het.
Deurentyd het hy ’n joer­naal gehou waarin hy sy ervarings en waarnemings opgeteken het. As bekwame kartograaf het hy ook oral aan plekke, berge, en dies meer, name gegee – soms tot vyf nuwe name per dag. Hierdie joer­nale het vermis geraak en is in 1964 eers in ’n klein argief in Engeland opgespoor. Hierdie boek is op die joernale gegrond.
Die Nederlandse geskiedkundige Panhuysen het ’n baie leesbare boek geskryf en dit is duidelik dat hy ook Suid-­Afrika goed leer ken het. Só praat hy van Khoi-Khoi en die San omdat Gordon van Boesmans en die San gepraat het, maar verduidelik dat daar ter plaatse deesdae van die Khoisan gepraat word.
Dit is interessant dat Gordon self later volgens Panhuysen bevind het dat die onderskeid tussen die Khoi-Khoi en die San nie soseer ’n kwessie van ras is nie, maar van lewenswyse. Die een groep was jagters, die ander ­veeboere.
Volgens Panhuysen het Gordon “uitgeblink in uitreiking, die oorsteek van grense, die ophef van argwaan en onderlinge afhanklikheid”. Hy het dan ook nie net die inboorlinge se vertroue gewen nie, maar het ook gou hul tale aangeleer sodat hy met hulle kon kommunikeer. Hy het veral baie van die Xhosas gehou en hulle beskryf as “mooi, groot mense met ’n vry vrolike voorkoms en ’n melodieuse taal”. Hy het sonder huiwering saam met die Xhosas gedans en op ’n keer het die kapteins by sy vertrek ’n kring om hom gevorm en tot sy ongemak sy hand gesoen.
Só het hy ook met die Khoi-Khoi en die San vriende gemaak.
Gordon was die inboorlinge baie goedgesind en die manier waarop die trekboere op die San jag gemaak het en hul kinders slawe gemaak het, het hom gewalg. Hy verskaf getalle in sy joernale en dit is inderdaad afgryslik en iets waaroor ’n mens selfs vandag nog skaam kry.
Gordon, sowel as die VOC, was bewus daarvan dat die trekboere nie na wense optree nie. In 1779 skryf hy: “Hierdie boere van ons is slegte mense sonder enige deug of mens­likheid en hulle dink dat om mense dood te skiet, is niks nie.”
Dit was inderdaad moeilik om die boere 600 km van die Kaap af te bestuur en ’n deel van Gordon se reise was om sover moontlik vrede te bewerkstellig.
Panhuysen skryf: “As volkekundige kon hy nie anders nie as om te besluit dat die kolonisasie gelei het tot vernietiging.” Gordon was egter nie teen kolonisasie gekant nie, maar wou hê dat Nederland moet ingryp.
As wetenskaplike het Gordon uitgeblink. Hy het talle nuwe diere ontdek en was veral bekend vir sy “ontdekking” van die kameelperd. Hy het elke dier, van seekoei tot die kameelperd (of giraf), deeglik gedissekteer tot op die skelet, wat hy saam met hom karwei het en na Europa gestuur het. Hy en die kunstenaar Johannes Schumacher het talle water­verftekeninge gemaak, soms van klein details, en hierdie boek is dan ook ryklik met sommige van die tekeninge en skilderye geïllustreer.
In sy later jare was Gordon baie beroemd in die Europese weten­skapkringe en het hy in sy huis in die Kaap ook ’n museum gehad. Sy verhaal eindig ongelukkig tragies, want hy was in sy laaste dekade of so tot die Kaap beperk en het al hoe meer gefrustreerd geraak. In 1795 het hy homself geskiet en is buite die begraafplaas begrawe. Sy graf is nooit gevind nie.
Sy nalatenskap is egter baie belangrik en hierdie boek werp besonderse lig op ’n sekere tydvak van ons geskiedenis.
Daarom is dit jammer dat die teksversorging nie na wense is nie. Panhuysen se van word op ’n keer ook as Panhuizen geskryf. In die plek van die woord “tot” is “tog” geskryf, terwyl “aangewys” pleks van “aanwys” geskryf is. Daar is ook ’n sin soos: “Gordon het gehou van wat gesien het.” Dit doen ongelukkig afbreuk aan Wium van Zyl se puik vertaling. 
– Netwerk24

• Cas van Rensburg is ’n vryskutjoernalis en skrywer.
• Panhuysen het die boek geskryf op versoek van die Rijksmuseum in Amsterdam wat tans werk aan ’n groot kunsuitstalling oor Suid-­Afrika. Die Gordon-versameling sal ’n sentrale plek inneem. Die uitstalling word beplan van 18 Februarie tot 21 Mei 2017. Die Nederlandse konsul-generaal beoog om die uitstalling later in 2017 na Suid-Afrika te bring.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer