Vrou dagvaar ná prosedure vir maagverkleining
Ernstige septiese skok het 'n vrou in kritieke toestand in die hospitaal laat beland.
Henriette Lamprecht
'n Vrou van Windhoek dagvaar 'n dokter van die hoofstad nadat 'n vetuitsuigingsprosedure en maagverkleiningsoperasie haar met littekens gelaat en sy verskeie operasies daarna moes ondergaan. Me. Thea Sonja Maresch dagvaar dr. Tommy van Wyk vir N$484 948 vir pyn en lyding, verlies aan inkomste en toekomstige mediese koste.
Volgens hofstukke het Maresch se keuse op Van Wyk geval omdat hy op 'n webtuiste as 'n spesialis en pionier vir veral Vaser Vetmodellering geadverteer het. Tydens 'n konsultasie is besluit op 'n mini-maagverkleiningsoperasie, terwyl vet uit haar boarms en heupe gebruik sou word vir 'n dubbele borsvergroting.
Met haar aankoms vir die dag van die prosedure by die Rooms-Katolieke hospitaal is Maresch volgens haar vorms gegee om te teken sonder dat sy tyd gehad het om daar deur te lees. Sy sê in haar verklaring sy het in daardie stadium nog nooit met Van Wyk self gepraat nie en niks is aan haar verduidelik nie.
Ná die operasie het sy “geweldige pyn” ervaar en kneusings gehad. Maresch is op 8 Augustus uit die hospitaal ontslaan, sonder dat Van Wyk volgens haar ooit by haar was.
In die dae daarna het sy swelling ervaar en was die wonde “rooi en ontsteek”, wat Van Wyk glo by navraag as “normaal” beskryf het. Van Wyk sou later versoek dat sy hom kom sien, waarna hy “waterpille” voorgeskryf het.
Op 18 Augustus het haar man na MediClinic geneem waar 'n dokter gesê het sy verkeer in 'n “baie ernstige” en lewensbedreigende toestand. Sy is in 'n kritieke toestand van septiese skok opgeneem. Maresch is dieselfde aand na die teater waar haar wonde skoongemaak en beskadigde weefsel verwyder is.
Toetse het gewys sy het Methicillin-weerstandige Staphylococcus Aureus (MRSA), 'n bakterie wat infeksies in verskillende dele van die liggaam veroorsaak, asook 'n reeks ander infeksies in al die plekke waar Van Wyk geopereer het. Volgens Maresch het haar regterarm swart geword en het haar linkerarm afgeskilfer en was bloedrooi. Verskeie operasies het gevolg waartydens groot gedeeltes weefsel weggesny moes word om die infeksie uit te kry. 'n Groot stuk is uit haar regterarm gesny om die swart gedeelte te verwyder.
Sy is later na die Windhoek Sentrale Hospitaal oorgeplaas omdat haar mediese fonds uitgeput was. Ná haar ontslag het Van Wyk volgens haar gesê sy het die verkeerde antibiotika ná haar eerste operasie gekry wat die infeksie veroorsaak het.
Maresch sê die ervaring het 'n geweldige finansiële las op haar en haar gesin geplaas en sy moes haar motor verkoop om mediese rekeninge te vereffen. Sy het ook verskeie letsels en sal verdere operasies moet ondergaan wat volgens 'n plastiese chirurg nie die skade ten volle sal herstel nie, terwyl die trauma haar ook haar huwelik gekos het.
In sy verweer sê Van Wyk hy het voldoende opleiding rakende die Vaser-prosedure en het wel vir Maresch verskeie kere voor die prosedure gesien; hy het die riglyne vir voor en na aan haar voorgelees, sy het geteken dat sy verstaan en die potensiële newe-effekte is aan haar verduidelik.
Volgens sy verklaring is Maresch in 'n stabiele toestand sonder enige komplikasies ontslaan. Met verwysing na haar opname in Mediclinic erken Van Wyk haar wonde moes onder meer skoongemaak word.
Van Wyk sê daar was nooit vroeër enige tekens van infeksie nie en met die eerste teken daarvan is Maresch as 'n noodgeval hanteer.
Met verwysing na die beweerde verkeerde antibiotika sê Van Wyk dit sou geen verskil gemaak het nie en die MRSA-infeksie sou in elk geval gebeur het. Hy verwys na die infeksie van haar wonde as 'n “baie ongelukkige geval van infeksie ná die prosedure, met elke voorsorgmaatreël wat getref is om dit te verhoed”.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie