Vrou haal die byt uit veghond

Eienaars van veghonde beweer daar is geen beter en meer betroubare hond op aarde nie, ten spyte van gruwelstories oor dié diere.
Die naam Amerikaanse veghond (pit bull terrier) het al ‘n vloekwoord geword en boesem vrees by die meeste mense in.

Geen ander honderas het in die afgelope 15 jaar meer media-aandag gekry as dié honderas nie – feitlik altyd negatiewe publisiteit.

Volgens Donna Collins, bekende vryskut-joernalis en diereliefhebber van Swakopmund, word die wit veghond heeltemal verkeerd verstaan.

Daarom was dit ‘n emosionele mallemeule vir haar toe sy ingegryp het met haar soveelste reddingspoging om ‘n veghondteef en haar werpsel van ses van ’n gewisse dood uit die agterplaas van ‘n plakkersbuurt te red en hulle van liefdevolle tuistes te voorsien.

Collins het die ma-hond en haar kleintjies in ‘n erg verwaarloosde toestand sonder beskutting gevind en gered ná sy hul eienaars oortuig het dit is in die honde se beste belang.

Sy is ‘n kampvegter vir honderegte en werk nou saam met Feed a Paw, ’n niewinsgewende projek in die Erongostreek, om hondelewens te verbeter.

Haar optrede het oorweldigende positiewe reaksie in sosiale mediakringe uitgelok en aan haar die titel “Vrouevegter vir Honderegte” besorg.

“Dis moeilik om nie emosioneel oor dié ras te raak nie. Eienaars van veghonde sal jou vertel daar is geen beter en meer betroubare honde op aarde nie en oningeligtes sal gruwelstories oor hul ondervinge met die honde opdiep. Die waarheid lê êrens tussen hierdie twee uiterstes,” sê die vrou wat in die proses ook nuwe respek vir mense gekry het wat bereid was om liefdevolle tuistes vir die ma en haar kleintjies te bied.

“Die helde van die verhaal is die mamma-veghond en haar ses dapper kleintjies,” sê Collins.

“Wanneer jy die naam pit bull in die media sien en lees van nóg ‘n aanval op ‘n mens is dit nie eers gewaarborg dat die betrokke hond ‘n Amerikaanse veghond is nie. Die meeste van die honde wat mense aanval, is nie noodwendig Amerikaanse veghonde nie. Hulle is gewoonlik die produkte van onverantwoordelike telers wat enigiets sal doen om geld te maak. Dis vreeslik om te dink Amerikaanse veghonde word op grond van hul fisieke voorkoms veroordeel.”

Collins het eienaars in Windhoek en op Wavisbaai vir al sewe die honde gevind, en hulle is tans spekvet en gelukkig.

Die ma-hond het by ‘n gesin in Windhoek beland, wat al ‘n hele kroos honde van ’n gewisse dood gered het.

Collins het geweet sy moes verhoed dat die ses kleintjies in die verkeerde agterplase beland en grootword as waghonde met die opdrag om te byt om dood te byt.

‘n Intensiewe maand lange veldtog het verseker die honde beland by die regte mense.

“Duisende honde gaan daagliks deur hel, maar dít maak dit nie reg nie. Ek as joernalis moet bewustheid skep van hierdie omstandighede, veral ten opsigte van veghonde. Ek dink die meeste van ons sal ook mense wil doodbyt as ons sonder kos en water aan kettings vasgemaak word.”

Collins sê honde kan nie inherent “sleg” wees nie.

“Honde reageer op hoe hulle behandel en geleer word. Veghonde word al vir 200 jaar geteel om te baklei en jy kan nie verwag dié gedrag moet oornag verdwyn nie. Dié ras is nie vlesige wit hasies nie, maar jy kan ’n veghond leer hoe om met mens en dier om te gaan. Hulle is nie dom nie. Die bull wat sommige mense gevoer word oor pit bulls is presies dit: bull,” sê Collins.

“Veghonde is uiters gehoorsaam en lojaal en reageer op bevele. Wanneer veghonde iemand aanval, is daar altyd ander faktore betrokke, soos beskerming of kos.”

Collins wys op ‘n onlangse studie waar 49 uit 50 veghonde uit vegsindikate gehaal en gerehabiliteer is.

Sy waarsku egter dat nie enigiemand geskik is om ‘n goeie veghondeienaar te wees nie.

Sy beveel aan dat voornemende eienaars eers navorsing oor die ras doen en hulself van die hond se unieke behoeftes vergewis.

“Hulle het struktuur nodig. Hule soek ‘n baie beklemtoonde menslike teenwoordigheid, opleiding en oefening, en baie, baie aandag.”

Die nuwe eienaars van die ma-hond is Lee en Maritza Ehlers, van Windhoek.

Maritza sê: “Haar nuwe naam is Isabella en sy is ‘n fantastiese hond, vol letsels van vorige gevegte, maar met ‘n gees soos min en ‘n absolute lieflike karakter. Sy is baie sosiaal en kyk graag rugby saam met ons. Sy is dierbaar en het uitstekend aangepas by ons veghond, Bella, en ons vier ander honde – almal honde wat ons ook gered het.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!