Vrou kry agt jaar vir bedrog
Vrou kry agt jaar vir bedrog

Vrou kry agt jaar vir bedrog

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die “verlammende” finansiële krisis waarin ’n administratiewe beampte haar bevind het toe sy meer as N$4 miljoen by haar werkgewer gesteel het, “verduidelik haar optrede, maar regverdig dit nie”.

Só het regter Kobus Miller Vrydag in die hoërhof in Windhoek gesê toe hy Stephanie Serfontein (49) tot 13 jaar tronkstraf gevonnis het op 34 klagte van bedrog en 5 jaar op ’n klag van geldwassery.

Laasgenoemde vonnis sal gelyklopend met dié op die klagte van bedrog uitgedien word. Miller het verder gelas dat 5 jaar van die haar vonnis van 13 jaar opgeskort word, wat beteken sy sal effektiewelik 8 jaar in die tronk deurbring.

Serfontein het Donderdag skuld beken op al die klagte teen haar en die hof in getuienis ter strafversagting in haar vertroue geneem oor die omstandighede waarin sy haar bevind het toe sy die eerste van 34 bedrogtransaksie gedoen het.

Sy het tussen Oktober 2009 en Julie 2012 toe sy en haar gewese man, mnr. Isak Serfontein (47), in hegtenis geneem is, altesaam N$4 253 013,50 by Ferrodrill Namibia gesteel het.

Dit het sy gedoen deur krediteure van Ferrodrill se fakture vir diesel wat gelewer is, te vergroot en die verskil tussen die werklike bedrae en die vervalste bedrae te steel.

Volgens haar getuienis het sy sowat driekwart van dié gesteelde geld aan haar eksman oorbetaal en dat sy nie weet wat hy daarmee gedoen het nie. Hy was in daardie stadium ’n entrepreneur wat die een besigheidsmislukking ná die ander beleef het.

Sy verhoor is Donderdag van haar verhoor geskei omdat hy onskuldig gepleit het. Dit sal op 20 Maart voor regter Christie Liebenberg voortgaan.

Miller het bevind die feit dat Serfontein skuld beken het, toon sy besef wat sy gedoen het, is verkeerd “en dui wel op ’n mate van berou”.

Hy het ook verwys na haar getuienis oor haar kinderjare, die gevoel van verwerping wat sy ervaar het en haar twee ongelukkige huwelike later in haar lewe. “Dit was alles behalwe ideaal,” het Miller gesê.

Verder het hy gesê die hof aanvaar ook dat sy deur finansiële nood gedryf is, maar dat dit nie haar optrede regverdig nie.

“Bedrog is ’n ernstige en lelike misdaad, veral as dit gepleeg word deur iemand in ’n vertrouensposisie,” het hy gesê.

“Die gemeenskap en veral werkgewers verwag van die howe om hulle te help.”

Serfontein, geklee in ’n swart bloes en langbroek, het saggies gehuil terwyl sy haar vonnis aangehoor het.

Sy is deur adv. Louis Botes in opdrag van mnr. Sarel Martiz verteenwoordig, terwyl me. Constance Moyo vir die staat opgetree het.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!