Vrou oorleef bylaanval
Vrou oorleef bylaanval

Vrou oorleef bylaanval

Tanja Bause
Volgens die Namibiese polisie se misdaadverslag het ’n man van die Omahali-nedersetting in die Ohangwenastreek homself opgehang nadat hy sy vrou met ’n byl oor die kop geslaan het.

Die voorval het Saterdag omstreeks 00:20 plaasgevind. Die man en vrou het glo by ’n cuca-winkel gekuier. Die man het voor die vrou huis toe gegaan. Nadat die vrou by die huis aangekom het, het die bure gehoor sy gil.

Hulle het haar met oop wonde aan haar kop in die slaapkamer gevind. Hulle het ook die man in die slaapkamer – waar hy homself opgehang het – gevind. Die vrou is na die Eenhana-hospitaal geneem en vir verdere behandeling na die Oshakati-hospitaal oorgeplaas. Die oorledene is mnr. Hesekiel Naftal (48).

By die Onandjaba-nedersetting in die Omusatistreek het ’n man Vrydag omstreeks 21:00 ’n ander man met ’n okapi-mes in die maag gesteek. Na bewering het die verdagte die slagoffer in sy kamer saam met sy meisie betrap. Die slagoffer het weggehardloop en die verdagte het hom glo gevolg en hom met die mes gesteek. Hy is na ’n hospitaal geneem en later na die Oshakati-hospitaal oorgeplaas waar hy in ’n stabiele toestand is. Die 34-jarige verdagte is in hegtenis geneem.

Vrydagnag het ’n man en vrou in ’n bakleiery in die Olukula-nedersetting in die Ohangwenastreek betrokke geraak. Die vrou het hom glo teen die sinkplate van die cuca-winkel vasgedruk waartydens die man ’n diep sny op sy linkerarm naby sy armholte opgedoen en erg begin bloei het. Hy is later in die Okongo-hospitaal dood. Die vrou is in hegtenis geneem.

VERKRAGTINGS

’n Verdagte het glo Vrydag tussen 18:00 en 19:00 ’n 13-jarige meisie in die Saamstaan- informele nedersetting op Outjo in die bosse gedwing. Hy het haar met ’n mes gedreig, haar klere afgeskeur en probeer verkrag. Die meisie kon egter wegkom. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

’n Sekuriteitsbeampte wat Vrydag by die Sekondêre Skool Otjiwanda op Grootfontein aan diens was, is na bewering verkrag. Die verdagte het die 43-jarige vrou verkrag en haar selfoon gesteel terwyl sy alleen en met net ’n stok gewapen was. Niemand is in hegtenis geneem nie.

DIEFSTAL

Saterdag omstreeks 03:00 het vyf verdagtes by die Avis Lofts Village die elektriese heining van een van die woonstelle stukkend gesny en ingebreek. Twee van die mans was met pistole gewapen terwyl die ander messe en pangas gehad het. Hulle het huishoudelike items ter waarde van N$610 000 gesteel. ’n Voertuig, huissleutels en afstandbeheerders is in die bosse agter die woonstelblok gevind. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Vier mans het Saterdag omstreeks 15:00 ’n Chinese man (40) by die HuHu City-kompleks op Oluno in Ondangwa beroof. Die mans het hom glo genader terwyl hy besig was om sy winkel oop te sluit. Hulle het hom met messe gedreig en N$10 000 kontant, sy selfoon en voertuigsleutels gesteel voordat hulle in ’n voertuig op die vlug geslaan het. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer