Vrou sit manne ore aan langs viswater

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



Sy droom van 'n reuse- Siamese karp aan haar lyn, haar eerste koeihaai wat sy uitgetrek het, het 34,5 kg op die skaal getrek en sy hou die Namibiese vrouerekord vir die grootste baber (14,44 kg).

Die 39-jarige Lydia Cilliers van Windhoek is 'n meester met 'n visstok en het tydens die Namibië Rots- en Strandhengelvereniging (NSAA) se onlangse internasio­nale galakompetisie teen Suid-Afrika weggestap as wenner van die swaarste nie-­eetbare vis ('n koeihaai van 34,5 kg), en het ook die eerste plek as die beste ­algehele vrouehengelaar verower.

Oor wanneer die visvanggogga haar gebyt het, vertel Lydia: “Ons het maar altyd sosiaal probeer vang wanneer ons naby die water gekamp het.”

“My oom het my in 2009 genader om saam met hom, my neef en my kleinneef varswateroewerhengel kompeterend te doen.”

Laasgenoemde familielede is beide nasionale junior oewerhengelaars.

In 2013 sluit Lydia by die ­Benguela Hengelklub aan en in 2016 is dit Etienne Stipp van die klub wat as leermeester vir rots- en strandhengel nadertree.

Dit is maar 'n gogga wat jou byt as jy jou eerste vis uittrek, sê Lydia.

“Dit is in die buitelug en gaan gewoonlik gepaard met kamp en als wat lekker is – van kampvure tot goeie vriende en familie.”

Soos met enige sportsoort is dit toewyding, voorbereiding en 'n goeie gesindheid en sportmangees wat van jou 'n goeie hengelaar maak, sê sy.

'n Goeie hengelaar sorg altyd dat hy of sy 'n boekie in die vistrommel het om hengelgeskiedenis aan te teken.

“By die dam teken jy aan presies waar jy gehengel het, watter afstande, weerstoestande en aaskombinasies ter sprake is. So ook by die see – waarmee het jy die vorige keer in dié area gevang, hoeveel vis en watter spesies was daardie dag aan die orde van die dag.”

Sodoende het jy 'n baie goeie beginpunt as jy besluit om weer hier te gaan hengel en kan jy van hier af werk en verander en aanpas soos nodig, verduidelik Lydia.

Natuurlik is 'n goeie sonroom 'n moet, en word sy reeds van haar eerste internasionale kompetisie in 2012 af hiermee geborg.

Sy onthou al haar eerste “grotes” – van 'n karp tot 'n baber.

“My eerste groot karp was op 'n sosiale hengeldag by Nautedam in 2012 en het 6,97 kg geweeg. My grootste baber, steeds die Namibiese vroue­rekord, het 14,44 kg en het ek in 2013 tydens 'n internasionale ­kompetisie teen Suid-Afrika op die Hardapdam by Bakvis 2 gevang.”

Haar eerste koeihaai het sy in 2016 tydens haar eerste interklubkompetisie by Winston uitgetrek, wat 'n stewige 34,5 kg op die skaal getrek het.

Sy wil nie kies tussen varswater- of rots- en strandhengel nie, want elkeen is lekker op sy eie, sê Lydia.

“Visvang bly lekker, of dit in varswater of die see of op die rivier is.”

Vir eers het sy oewerhengel gelos en op rots- en strandhengel begin fokus.

“Dit kos te veel geld en tyd om al twee mededingend te doen.”

Sy erken dit is senutergend om 'n haai uit te trek, en met haar eerste bronzie (bronshaai) het sy “die heeltyd net gebid om nie die vis te verloor nie”.

“My tweede een met die ­nasionale kompetisie in 2016 het ek net hier voor in die eerste brander verloor en hy was groter as die eerste een!”

Dit verg geduld en om nie oorhaastig te raak nie, of om die haai of vis nie te veel te probeer boelie nie, sê sy.

“As hy wil gaan (wegswem), los dat hy swem en teen die katrol se drag baklei. As hy moeg word, moet jy katrol en hom bring. So gaan dit maar totdat die vis of haai aan wal is.”

As jy die grotes in vars water wil nader trek, sê Lydia, moet jy seker maak jou lyn is op 'n goeie afstand ingehaak.

Kies 'n plek om te staan en sorg dat jy elke keer op dieselfde plek staan. Kies 'n merker ('n spesifieke boom of merk) op die oorkantste oewer, sê sy.

“Jou kans om elke keer op dieselfde kol te gooi, is dan net soveel beter. Só bou jy 'n voerkol vir die vis soos die dag verloop. Met dips en floats het almal maar hul ervaring van wat vir hulle die beste per spesie werk.”

By die see leer sy nog die water “lees”, sê sy.

Vir aas, sê Lydia, werk harder vir spotties, makriel vir bronshaai, sardyn en tjokka vir kabeljou, mossel vir galjoen en mossel en kreefstert vir steenbras.

Daar is baie visse waarvan sy droom om uiteindelik in te katrol, maar sy sal graag nog tiervis en nembwe by Barotse in Zambië wil gaan vang, vertel dié rekordhouer.

Hopelik bring 'n besoek aan ­Thailand aanstaande jaar drome wat sy op haar hengel-emmerskoplys kan afmerk.

Dié met name soos Giant Mekong Catfish, Giant Siamese Carp, ­Aligator Gar, Redtail Catfish, Giant Snake­head, Arapaima en Ripsaw Catfish.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer